NUUs

Dr Marissa Brouwers sê die werksomgewing het dramaties verander sedert die grendeltyd begin het en ons gedwing is om nuwe maniere te vind om dinge te deel en met mekaar in kontak te wees.

 

Alumna Cindy Puren, die eienaar van ʼn bemarkings- en kommunikasie-agentskap in Potchefstroom, se hart klop koffiebone – vir goeie boeretroos én vir mense.

 

 

Koffiewinkelkantoor wérk vir haar

 

Cindy Puren, wat in 2007 ’n BA-graad in kommunikasiestudies aan die NWU voltooi het, is ʼn geesdriftige aanhanger van die koffiewinkelkantoor.

 

As bemarker en kommunikasiekundige is sy mal oor mense en goeie koffie – en as die mense ook van goeie koffie hou, is dit des te beter, sê sy.

 

Klik op elke blok hieronder om meer te lees oor die voordele en nadele van ’n koffiewinkelkantoor.

 

 

 

 

 

 

 

 

  • Vele voordele

    “Om in ʼn koffiewinkel te werk, hou ʼn klomp voordele in en met goeie beplanning en tydsbestuur het hierdie nuwe ‘werksplek’ een van die hoogtepunte van my loopbaan geword,” sê sy.

     

    In die eerste plek sorg koffiewinkels vir onderbrekings. “Ek maak dus seker ek hang by die regte koffiewinkel uit sodat die onderbrekings moontlike geleenthede kan wees.”

     

    Sy is ook selektief oor watter werk sy in ʼn koffiewinkel doen. Take wat fokus verg handel sy liefs by haar tuiskantoor af.

  • Dié ‘buzz’ is bobaas

    “Die aard van my werk verg van my om innoverend, proaktief, kreatief en vriendelik te wees. Mense, en die ‘buzz’ van ʼn goeie koffiewinkel bring hierdie eienskappe die beste na vore in my.”

     

    Sy sê as sy so vyf ure ʼn week in ʼn koffiewinkel met die regte groep medekoffiedrinkers spandeer, is sy goed op hoogte van wat in die dorp gebeur en of daar ʼn rol is wat sy en haar maatskappy daarin kan speel.

  • Waak teen klets en kuier

    Sy sê die enigste rooilig waarteen sy moet waak wanneer dit by haar nuwe koffiewinkel-tradisie kom, is haar geaardheid.

     

    “Klets en kuier lê lekker vlak by my. As ek nie goeie bestuur en verantwoordelikheid aan die dag lê nie, raak my doen-lys te lank alhoewel my netwerk vergroot. ʼn Balans is noodsaaklik.

  • Hoe meer siele, hoe meer vreugde

    Haar finansieel-ingestelde man het aanvanklik sy kop geskud oor die koop van koffie, maar oor tyd het Cindy bewys dat die somme sin maak as sy haar tyd reg aanwend en geen kantoorspasie huur nie.

     

    “Boonop voed dit my energievlakke en hou my vriendelikheidsmeter in die groen,” sê sy. “Te veel kantoor en te min mense was nog nooit goed vir my nie.”

Ná die pandemie: Kry maniere van werk wat vir ons sal werk

Wie gaan in die toekoms jou kantoor met jou deel? Gaan dit steeds Wagter, jou getroue vierbeenvriend by die huis wees, of gaan dit Karel, jou getroue kollega by die kantoor wees?

Wel, wat ook al jou opsie is, een ding is seker: die werksomgewing sal nooit weer dieselfde wees nie – nie wêreldwyd nie en ook nie in Suid-Afrika nie.

 

Dit is die mening van dr Marissa Brouwers, ’n geregistreerde bedryfsielkundige en senior lektor by die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur by die NWU.

 

Die NWU & U het met Marissa, wat ook die voorsitter van die Vereniging vir Bedryfs- en Organisasiesielkunde van Suid-Afrika vir 2019/2020 was, gesels oor die veranderinge wat ons in die werksomgewing van die toekoms te wagte kan wees.

 

Soek oplossings wat werk

 

Marissa wys daarop dat die Harvard Business Review die Covid-19-pandemie beskryf het as die beduidendste sosiale eksperiment van die toekoms van werk, met werk van die huis af en beleide oor sosiale distansiëring wat die manier waarop ons werk en met mekaar omgaan, radikaal verander het.

 

“Wat ek veral betekenisvol vind, is die gebruik van die woord ‘eksperiment’,” sê Marissa. “Dit skets vir ons ’n prentjie van speel, en van die uittoets van moontlike oplossings totdat ons dié kry wat die beste werk – en moontlik verskillendes vir verskillende maatskappye en bedrywe.”

 

Is dit bly of gly?

 

Marissa glo dat party mense inderdaad sal terugkeer kantoor toe. “Dit is ondenkbaar dat dit nie sal gebeur nie … maar almal sal nie terugkeer nie, selfs wanneer dit moontlik en veilig is om dit wel te doen.”

 

Vir die werkers wat steeds van die huis af gaan werk, is daar voor- sowel as nadele.

 

Marissa sê die voordele van werk van die huis af, of fleksiewerk, sluit die volgende in:

  • groter buigsaamheid ten opsigte van die balansering van ons persoonlike en professionele lewens;
  • die verkryging van nuwe tegnologievaardighede en die doeltreffende gebruik van digitale platforms;
  • dat ’n mens nie hoef te reis om by die werk te kom nie en meer produktiewe maniere kry om jou tyd te benut; en
  • dat ’n mens groter outonomie het – ons kan kies waar (byvoorbeeld tuis of in ’n koffiewinkel) en wanneer ons wil werk.

 

Daar is egter ook ’n negatiewe kant:

  • Sommige van ons is geneig om langer ure te werk, aangesien die grense tussen ons werks- en persoonlike tyd vervaag.
  • Ons kan gevoelens van eensaamheid ervaar, aangesien werknemers van mekaar geskei is, of ons aandag kan deur ons huishouding en gesinsituasie afgetrek word.
  • Van ons kan meer uitgeput voel en groter kognitiewe dissonansie ervaar, aangesien dit moeiliker is om tydens virtuele vergaderings betrokke te voel.

 

Besighede moet veilige ruimtes skep

 

As werknemers na hul lessenaars by die werk terugkeer, het organisasies egter die verantwoordelikheid om ’n veilige kantooromgewing te skep. Dit is veral waar terwyl daar nog nie ’n wêreldwye entstof vir Covid-19 beskikbaar is nie.

 

Marissa sê werkgewers moet die volgende in gedagte hou wanneer hulle aan planne dink om werkers te laat terugkeer kantoor toe:

 

  • Hoe kan ’n gedeelde kantoorruimte veilig en aantrekliker gemaak word?
  • Wat kan van die huis af gedoen word, dalk selfs meer doeltreffend?
  • Is daar ’n opsie om die beste van albei wêrelde te ervaar?
  • Kan ons van ons werkers mense maak wat vir hulleself kan dink, selfvertroue het en vertrou kan word om hulle veiligheid sowel as werksdoeltreffendheid in gedagte te hou?

 

Kantore behoort herbeplan te word

 

“Kantore moet dalk heeltemal herbeplan en verander word,” sê Marissa. “Organisasies moet anders kyk na hul werk en na die rol van kantore in die skepping van ’n veilige, produktiewe en genotvolle werk en lewe vir hul werknemers.”

 

Werkgewers kan en moet na futuristiese idees vir die “nuwe” werksomgewing kyk. Dit kan insluit dat daar deurlopende videokonferensies, afstandsamewerkingsruimtes (soos virtuele witborde) en outonome maar aanpasbare werksmodelle beskikbaar is.

 

“Dit berus uiteindelik by ons almal om te dink en kreatief te wees, om te speel en maniere te vind om te werk wat vir ons funksioneel is, met nuwe en innoverende idees oor ons konneksie met ander en die veilige gebruik van gedeelde ruimtes,” sê Marissa.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

 

Wanneer sal kantoorwerkers teruggaan?

 

“Ten opsigte van WANNEER mense sal terugkeer kantoor toe, is dit nie net sakeondernemings se besluit nie, maar dié van regerings,” sê Marissa.

 

Ten spyte daarvan dat ons na vlak 1 van inperking beweeg het, verkeer Suid-Afrika steeds in ’n nasionale ramptoestand.

 

Bestaande regulasies bepaal steeds dat werknemers wat van die huis af kan werk, dit moet doen, en dat besighede aan al die regulasies oor werk en werksruimtes moet voldoen.

 

 

Werk harder van die huis af

 

Marissa sê ten spyte van die voor- en nadele van oor ’n afstand werk, sê talle werknemers hulle is in werklikheid meer produktief terwyl hulle van die huis af werk.

 

“Navorsing deur McKinsey het getoon dat 80% van mense wat ondervra is, gesê het hulle geniet dit om van die huis af te werk, en 41% het gesê hulle is selfs meer produktief as wat hulle ooit voorheen was,” sê Marissa.

 

’n Studie wat deur World Wide Worx vir Cisco in Suid-Afrika gedoen is, het ook bevestig dat werkgewers ervaar het dat hul werkers meer produktief is, en dat hulle gesien het dat die werknemers by hulle werksure hou (98%) en aangedui het dat hulle regdeur die dag beskikbaar is (99%).

 

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U