NUUs

Bert Sorgdrager, voorsitter van die Konvokasie, is aan die einde van 2020 as ondervoorsitter van die NWU-Raad verkies.

 

Bert wil steeds dien

 

As ondervoorsitter van die NWU-Raad sê Bert hy sal graag dit wat hy in sy beroepslewe geleer het, wil terugploeg in die universiteit.

 

Sy visie vir die NWU is om steeds te kan verbeter op die sterk posisie wat die universiteit tans in die tersiêre omgewing beklee, asook om in die nabye toekoms ʼn mediese fakulteit op die been te bring.

 

“Ek dink die NWU het hom te midde van die pandemie uitstekend van sy taak gekwyt.

Die feit dat baie van ons studente tans oor afstand studeer, het die oorskakeling na vervlegte leer baie vergemaklik.”

 

Oor sy roete na die NWU-Raad via die alumnistrukture sê hy om ʼn alumnus van die NWU te wees, is ʼn reusevoorreg. “As alumni lede van die Konvokasie is, kan hulle deel van die formele strukture van die NWU wees.”

 

Hy sê dit is vir hom ʼn eer om na die NWU se belange om te sien – nou en in die toekoms.

 

Van denim-rebel tot ondervoorsitter van die NWU-Raad

So byna het ʼn denimbroek die begin van sy loopbaan in die studenteleierstrukture van die NWU se voorganger, die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) in die wiele gery.

Alumnus Bert Sorgdrager, voorsitter van die NWU se Konvokasie en onlangs verkose ondervoorsitter van die NWU-Raad, het in die laat sewentiger- en vroeë tagtigerjare die weg gebaan vir die verslapping van die kleredragreëls op die kampus.

 

“Manstudente moes daardie jare ʼn baadjie en das klas toe dra, maar ek is dikwels met ʼn denimbroek aan op kampus gesien – iets wat toe verbode was,” sê Bert.

 

Sy geliefde denim het hom byna sy kandidatuur as lid van studenteraad aan die destydse PU vir CHO gekos.

 

Toe hy met ʼn denim aan op ʼn Sondag by sy meisie in Heide-dameskoshuis gaan kuier het, was die gort gaar en wou die studenteraad nie sy benoeming as kandidaat vir die volgende studenteraadsverkiesing aanvaar nie. Gelukkig het sy appèl geslaag en het hulle wel dié rebelse denimdraer se benoeming aanvaar.

 

Bert loop van jongs af voor

 

Bert het van 1977 tot 1981 op die eerste huiskomitee van Villagers-manskoshuis gedien, was vir twee jaar primarius, en was ook op die studenteraad. Hy sê dit was vir hom ’n gulde geleentheid om hom vir die regsberoep voor te berei terwyl hy terselfdertyd ook sy wortels onlosmaaklik diep by die universiteit ingeskiet het.

 

Bert verteenwoordig vanaf 2012 die Potchefstroomkampus-alumni op die NWU se Alumnivereniging en is sedert 2014 voorsitter van die vereniging.

 

Dit was egter nie sy enigste leierskapsrolle nie. Hy dien sedert Junie 2017 op die NWU-Raad en is voorsitter van die Raad se Studentetoesigkomitee, lid van die van die Oudit-, Risiko- en Nakomingskomitee, die Vergoedingskomitee en die Beleggingskomitee.

 

In Augustus 2018 is hy as voorsitter van die Konvokasie verkies. ʼn Maand later het hy lid van die Uitvoerende Komitee van die Raad geword en in November verlede jaar is hy tot ondervoorsitter van die Raad verkies.

 

Verbintenis met die NWU is ʼn familietrek

 

Bert is ʼn gebore en getoë Potchefstromer wat by ML Fick op laerskool was en in 1976 by Hoër Volkskool gematrikuleer het. Hy het sy B Juris (1979) en LLB (1981) aan die destydse PU vir CHO voltooi, waar sy pa, prof Albert (Sorgies) Sorgdrager, aan die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe verbonde was.

 

Hy het sy vrou, Mara, tydens Jool ontmoet toe hy primarius van Villagers en sy primaria van Heide was.

 

Die egpaar se kinders, Albert en Mariëtte, het albei hul voorgraadse en meestersgraadstudies aan die NWU voltooi. Albert is tans ʼn ontwerpingenieur in Oostenryk en Mariëtte is besig met haar nagraadse onderwyssertifikaat, ook deur die NWU.

 

Sy voetspore lê in regte en bankwese

 

Nadat Bert sy leerklerkskap by die firma Couzyn, Hertzog en Horak in Pretoria voltooi het, word hy in 1986 as prokureur toegelaat. Hierna doseer hy regte by die destydse Technikon RSA (later geïnkorporeer by Unisa) en tydens hierdie periode publiseer hy twee studentehandboeke.

 

Bert was vir die grootste deel van sy loopbaan in die bankwese. Hy was aanvanklik regsadviseur en het later verskeie bestuursposte in kredietrisiko beklee. Hy is sedert Augustus 2012 aangestel as die Nedbank-groep se groepsregsadviseur vir litigasie en geskille. Hy het ook al by meer as een geleentheid as Nedbank se hoofregsadviseur waargeneem.

 

Bert bly ook aktief in sy gemeenskap waar hy en sy vrou in Roodepoort woon.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

meer inligting

klik

deel

Bert en sy vrou, Mara, by hul dogter Mariëtte, toe sy haar meestergraad by die NWU ontvang het.

vorige

<

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U