NuuS

Prof Esmé van Rensburg, wat ’n doktorsgraad in kindersielkunde het, sê minder tyd met elektroniese toestelle en meer gesinstyd is vir alle kinders belangrik, en nog meer vir kinders met ADHD.

 

Wat jy oor ADHD moet weet

 

“Wat hiperaktiwiteit en impulsiwiteit betref, is kinders met ADHD op motoriese vlak uiters rusteloos.”

 

“Hulle sal eerder klim en rondhardloop of rustelose gedrag openbaar, soos om te wriemel waar hulle sit, of met dinge in hulle omgewing te vroetel, te wieg, aan voorwerpe te vat en uit hulle sitplekke opstaan in situasies waar hulle veronderstel is om te sit. Hulle vind dit ook moeilik om stil te bly,” sê Esmé.

 

Kinders met ADHD sukkel ook om aandag aan besonderhede te gee, of kan dit glad nie doen nie, en maak dikwels agterlosige foute in hulle skoolwerk. “Hulle voltooi nie take nie, of vind dit moeilik om opdragte uit te voer.  Hulle verloor ook dinge,” verduidelik Esmé.

 

 “Op emosionele vlak sal jy vind dat hierdie kinders onsensitief teenoor ander optree. Hulle sal soms aaklige goed vir mense sê sonder om aan die gevolge van hulle gedrag te dink, maar wanneer hulle aan die ontvangkant daarvan is, is hulle baie sensitief en word maklik seergemaak”.

 

Covid-19 maak dinge erger vir kinders met ADHD

Aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring, of *ADHD, is ’n versteuring wat talle Suid-Afrikaanse kinders raak.

 

Volgens prof Esmé van Rensburg van die NWU se Skool vir Psigososiale Gesondheid is die vernaamste eienskappe van kinders met ADHD dat hulle impulsief en hiperaktief is, en dit moeilik vind om op iets te konsentreer.

Nodeloos om te sê, die voortslepende inperking en sosiale distansiëring het ’n beduidende effek op kinders met ADHD, asook op hulle ouers.

 

Esmé sê ADHD plaas oor die algemeen baie druk op ouers, maar dis erger in hierdie tyd van Covid-19.

 

“Dit is moeilik om ’n kind met ADHD te hanteer, omdat hulle nie hulle eie gedrag kan bestuur nie, wat dikwels konflik in die gesin veroorsaak,” sê Esmé.

 

“Hierdie kinders is dikwels sensitief vir onderliggende tekens, en as die ouers dus gespanne raak as gevolg van Covid en onder andere werkstres en finansiële stres ervaar, raak die kinders bewus daarvan en raak hulle  veeleisender.”

 

Roetine is noodsaaklik, veral tydens die pandemie

 

Sy sê kinders met ADHD het streng struktuur en konsekwentheid nodig.

“Met Covid-19 en werk van die huis af, is al ons skedules op hulle kop gekeer.  Die huis is selfs nog meer gedisorganiseer omdat die eetkamer nou skielik in ’n ‘kantoor’ omskep is,” sê sy.

 

Gevolge van hierdie strestoestand sluit huweliksprobleme en leerprobleme in wat ekstra emosionele en finansiële stres op ouers plaas, en konflik tussen sibbe en maats laat ontstaan.

 

“Ek kan nie die belangrikheid van roetine genoeg beklemtoon nie. Ek weet dit is moeiliker en meer uitdagend gedurende hierdie stresvolle tyd, maar ons het nou selfs meer struktuur en roetine nodig.  Dit is belangrik vir kinders se geestesgesondheid en sielkundige welstand om byvoorbeeld spesifieke bad- en slaaptye te hê, en dit is selfs nog belangriker vir kinders met ADHD.”

 

Hoe om kinders besig te hou

 

Esmé sê die grootste fout wat ouers kan maak, is om die TV of ander elektroniese toestel as babasitter of vir vermaak te gebruik. Dit geld weer eens vir alle kinders, en veral vir kinders met ADHD.

 

“Ouers het al vir my gesê as hulle weier om die televisie aan te skakel, die kinders vir ’n dag of twee of drie ongelukkig is, en dan verveeld raak. Dan begin hulle om hulleself te vermaak deur te speel of te lees.”

 

Sy sê dat ouers glo dat hulle goeie ouers is wanneer hulle hul kinders vermaak. “Dit is nie so nie.  Kinders moet hulleself ook kan vermaak.”

 

Daar moet wel onthou word dat dit noodsaaklik is vir gesinne om vir ten minste ’n halfuur elke dag tyd saam met mekaar deur te bring, of dit is om te gaan stap, fiets te ry, te verf of handwerk te doen, of met Lego of blokkies te speel. “Spel – selfs met groter kinders – is die grootste teenvoeter vir stres,” sê sy.

 

  • ADHD is die meer bekende afkorting wat gebruik word vir “attention deficit hyperactivity disorder”. Afrikaans: AGHS.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

meer inligting

klik

deel

 

Deesdae bring kinders al hoe meer tyd voor skerms deur, onder meer dié van slimfone, tablette, TV’s en rekenaars. Ouers moet skermtyd beperk en aktiwiteite soos speel en om handwerk te doen, aanmoedig.

 

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U