PROFIele

NWU-alumnus Geronomow Frans het sy BCom- en honneursgraad in mensehulpbronbestuur (onderskeidelik in 2008 en 2009), asook ’n MBA in 2017 verwerf – alles op die Potchefstroomkampus.

 

Waardevolle tyd by die NWU

 

Geronomow sê sy tyd by die NWU was ’n uitstekende voorbereiding vir sy loopbaan, en het aan hom die gereedskap verskaf om sukses in besigheid, en veral met strategiese denke, te behaal.

 

“Die NWU het as gevolg van sy uitnemendheid en reputasie my soos ’n handskoen gepas. Om by die MBA-program aan te sluit, was die beste ding wat ek vir myself kon doen. Die instelling het my geleer om aggressiewe doelwitte te stel en dit te bereik, wat my regdeur my loopbaan gehelp het.”

 

Hy sê die meer as vyf jaar wat hy by die NWU deurgebring het, was die beste jare van sy lewe.

 

“Die wêreldklasdosente dra werklik hulle studente se ontwikkeling op die hart. Ek het ook baie vriende gemaak tydens my tyd by die NWU, en sommige van my klasmaats het lewenslange vriende geword.”

 

Van sy beste NWU-herinneringe is dat hy deel was van die Divaco-kultuurgroep en dat hy tjips en Russians saam met sy vriende kon geniet. Sy trotsste oomblik was toe hy sy honneursgraad cum laude verwerf het.

 

Verander waar en hoe mense se werk

Dit lyk of dit profeties was om Geronomow Frans te vernoem na Geronimo, die dapper Apache- militêre leier wat tussen 1850 en 1886 teen Meksikaanse troepe geveg het.

“My ouma het my na Geronimo vernoem omdat sy wou hê ek moet ’n magtige leier soos hy word,” sê Geronomow, wat die hoof by mensekapitaal vir die kleinhandelverkope-afdeling by Eerste Nasionale Bank en ook die uitvoerende direkteur vir produkstrategie by WealthSpaces is.

 

“Namate my loopbaan begin vorm aanneem het, het ek my ouma se keuse beter begin verstaan. Ek was bevoorreg om ’n paar uitdagende posisies te beklee, en ek het risiko’s geloop en ander aangemoedig om dieselfde te doen. Ek sal myself as ’n dienende leier beskryf,” sê hy.

 

App bied interessante werkruimtes

 

Dit was sy uitgangspunt vroeër hierdie jaar toe hy aangesluit het by WealthSpaces, ’n app vir ’n alternatiewe werkoplossing wat lede in staat stel om onbeperkte werkruimtes regoor Suid-Afrika te bereik.

 

Hy het ’n magdom bedryfskennis, kundigheid en navorsingskennis oor hoe om in ’n virtuele omgewing te werk, met hom saamgebring. Dit het hy opgedoen tydens die meer as 10 jaar as senior bestuurder in mensekapitaal by die bank, en terwyl hy vir multinasionale ondernemings soos Marsh & McLeannen, ’n Fortune 500-maatskappy, gewerk het.

 

Hy sê WealthSpaces is besig om vinnig te groei, en die getal gebruikers neem elke dag toe.

 

Kyk nuut na die wêreld van werk

 

Geronomow glo die werkomgewing kan die manier waarop mense werk en selfs hulle vermoë om aanklank by kliënte te vind, drasties beïnvloed.

 

WealthSpaces het in 2019 ontstaan nadat die ontwikkelaars daarvan ’n geleentheid in die mark raakgesien het in die toenemende fokus op die belangrikheid van ’n balans tussen werk en lewe en die outomatisering van die werkplek.

 

Hulle werk saam met onderbenutte restaurante, kafees, hotelle en privaat kantore wat hulle persele beskikbaar maak vir gaste wat met hulle saamwerk in ruil vir ’n deel van inkomste en vir meer handelstransaksies.

Die maatskappy is in Johannesburg geleë, maar daar is meer as 40 werkplekke regoor Suid-Afrika. Vennote sluit City Lodge-, Sun International-, Legacy- en Radisson Blue-hotelle in.

 

Maak die lewe makliker

 

“Die app is ’n gerieflike opsie vir beginbesighede. Dit verlaag koste, bespaar tyd, verskaf toegang tot goeie liggings regoor die land en bied baie goeie netwerkgeleenthede aan ondernemings,” sê Geronomow.

 

Wanneer hy nie werk nie, geniet hy dit om gim toe te gaan, oor die wêreld heen te reis of om rustige etes saam met sy vriende te geniet. Hy sê hy hou daarvan om ten minste een internasionale reis per jaar te onderneem om tydens sy verloftyd ’n bietjie te ontspan.  Hy was al in talle lande, insluitende die VSA, Frankryk, Israel en Italië.

 

Die WealthSpaces-app kan gratis van die App Store of die Google Play Store afgelaai word.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

meer inligting

klik

deel

 

 

“Studente wat daarna streef om in die korporatiewe en besigheidswêreld sukses te behaal, moet doelwitte stel om mylpale te bereik wat haalbaar is, en daarop gerig bly.”

 

-  Geronomow Frans

 

 

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U