REDAKSIONEEL

Prof Dan Kgwadi

Boodskap

van die visekanselier

Geagte alumni

 

Die begin van die nuwe jaar gaan gewoonlik gepaard met nuwe energievlakke, aangesien ons ons dikwels voorneem om dinge beter te doen en nuwe ondernemings aan te pak. Die begin van 2021 was egter nie “besigheid soos gewoonlik” nie.

 

Die Covid-19-pandemie wat die wêreld op sy knieë gedwing het, het ons onverpoosd laat voortwerk om die 2020- akademiese jaar te voltooi wat in die eerste kwartaal van verlede jaar op sy kop gekeer is toe ons die onbekende waters van ’n omvattende staat van inperking moes trotseer.

 

Sedertdien het ons geleer om die pandemie te hanteer terwyl ons hard probeer het om deurgaans ons kernbesigheid te laat vlot. Ek is seker dat elkeen van julle te midde van hierdie pandemie julle eie uitdagings tuis en by die werkplek moes hanteer.

 

In my vorige brief het ek aangedui dat ons hoop om die 2020- akademiese jaar teen die einde van Februarie 2021 af te sluit. Danksy die vasberadenheid, toewyding en harde werk van die NWU-personeel en -studente kon ons hierdie doelwit bereik, en het ons nou ons fokus na die begin van die 2021- akademiese jaar verskuif. Ek is seker dat julle, net soos ek, trots sal wees op hierdie prestasie van ons alma mater.

 

Dit is baie hartseer dat ons as gevolg van Covid-19 sterftes onder personeel en studente ervaar het, wat die erns van hierdie pandemie as ’n harde werklikheid beklemtoon. Ons het hulle vereer deur die ingange van die NWU-kampusse met pers lig te verhelder om hulle te gedenk.

 

Ons het ook ons korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid ernstig opgeneem deur ’n bydrae in die stryd teen die wêreldwye pandemie te lewer. Verskeie inisiatiewe is geloods, soos die vervaardiging en verspreiding – gratis – van gesigsmaskers aan gesondheidswerkers in die omliggende gebiede, asook samewerking in die produksie van ventilators vir hospitale en klinieke.

 

Ons het ook mobiele laboratoriums vir Covid-toetsing beskikbaar gestel, en die Tjop-Tjop-app ontwikkel waarmee skole en sakeondernemings hulle siftingsinligting kon insamel en stoor. Dit is maar net ’n paar voorbeelde van die rol wat die NWU gespeel het om te verseker dat ons die uitwerking van die pandemie in ons stryd teen die virus kon beheer en beperk.

 

Ek sê vir julle almal baie dankie en wens julle net die beste toe wanneer ons die uitdagings van 2021 aanpak.

 

 

Bly asseblief veilig.

 

 

 

Prof Dan Kgwadi

Hoof en Visekanselier

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

meer inligting

klik

deel

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U