X

NUUs

Dis mos hoe ’n kilt moet lyk. Egbert Harmse van Springs, die eienaar van Cargokilts, sê hy is baie trots op die kilts wat hulle vervaardig.

Om te kilt of nie te kilt nie...

Dit verg klas en ʼn regte man of vrou om die simbool van eer, trots en – vir sommiges – vryheid van beweging en manlikheid, te dra. Vra maar vir alumnus Egbert Harmse, eienaar van Cargokilts, een van Suid-Afrika se voorste kiltvervaardigers.

Besoekers aan die 2016 Aardklop Kunstefees in Potchefstroom het nie net die geleentheid gehad om die plaaslik vervaardigde kilts te sien nie, maar ook om Egbert te ontmoet, wat ’n loopbaan as ’n meganiese ingenieur agtergelaat het om sy passie uit te leef.

 

In ’n growwe stem wat enige van die groot Skotse krygers waardig is, begin Egbert, wat ’n meganiese ingenieur was voor hy bedank het om voltyds kilts te vervaardig, met groot passie ’n algemene wanpersepsie opklaar.

 

Hy voel dis belangrik om die feite reg te kry voor daar oor kilts gepraat kan word. Die oorsprong van kilts, wat algemeen met die Skotse kultuur geassosieer word, kan inderwaarheid teruggevoer word na Iberië (dit wil sê die hedendaagse Portugal en Spanje).

 

Hy besef egter dat dit sinloos is om die heersende persepsies te probeer verander. Daarom het hy besluit om voluit met die Skotse idee te identifiseer as hy sy kilts by markte en feeste soos Aardklop verkoop – kompleet met ’n Skotse vlag.

 

Ja, dit het op universiteit begin...

 

Dis inderdaad in Potchefstroom waar die saadjie geplant is vir Egbert se ‘kilt-ryk’. Hierdie passie het baie jare gelede heel per toeval posgevat, met Jool as inspirasie daarvoor. As eerstejaarstudent aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys het hy ’n kilt vir die jooloptog nodig gehad. Toe hy nie een in die hande kon kry nie, het hy besluit om sommer self een te maak.

 

Dit is waar Egbert se "innoverende benadering" tot vervaardiging begin het.As ’n arm student met beperkte hulpbronne het hy materiaal nodig gehad, en presies geweet waar om dit te kry. Hy bely dat hy sy eerste agt kilts van gordyne uit die universiteit se ouditorium gemaak het...

 

Van stokperdjie tot besigheid

 

“My passie vir kilts het daar begin en is al vir baie jare deel van my. In die begin van 2013 het ek besluit om die korporatiewe wêreld vaarwel toe te roep en my passie en vaardighede te gebruik om ’n mark van gekultiveerde kliënte te bedien.”

 

Hy sê vandat hy sy nismark gevind het, het hy nooit weer teruggekyk nie. “Vandat ek Cargokilts begin het, het my siening verander van ’n werk-om-te-leef-houding tot ’n leef-om-te-werk-houding.”

 

Sy produkte het bekend geraak vir hul hoogstaande gehalte en sedertdien het hy al baie kilts aan kliënte regoor die wêreld en selfs Skotland verkoop, en in die proses ’n reputasie verwerf as ’n uitstaande kiltvervaardiger. Die kilts is gesogte kulturele drag en bykomstighede vir funksies.

 

Vir verdere inligting oor Cargokilts, besoek gerus hul webblad by  www.cargokilts.co.za of soek hulle op op facebook.

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

 

Dit moet perfek pas

 

Kilts, soos enige kledingstuk, moet met trots gedra word en moet perfek pas. Egbert sê dit is hoekom elke kilt pasgemaak word.

 

“Ons maak dit volgens die behoeftes en mates van ons kliënte. Niks verskaf meer bevrediging as om te sien hoe vol selfvertroue en trots hulle in hulle kilts lyk nie.”

NWU & U  |

NWU & U  |