X

NUUs

Fortunate Phaka het sy internskap by Youth 4 African Wildlife gedoen.

Fortunate leef sy passie uit terwyl hy kinders van Botswana meer oor natuurbewaring leer.

 

Passie vir natuur lei tot

meestersgraadstudies

Ons moet kinders van jongs af leer om die natuur te respekteer en moet natuurbewaringsbeginsels van kleins af by hulle tuisbring.

Dit is die passie van Fortunate Phaka, ’n meestersgraadstudent in die Skool vir Biologiese Wetenskappe op die NWU se Potchefstroomkampus, en een van die Mail & Guardian se Top 200 Jong Suid-Afrikaners 2016. (Hy is in die omgewingskategorie aangewys).

 

Fortunate, wat die meeste van sy tyd in die natuur deurbring, sê skoolkinders het wel ’n persepsie van natuurbewaring danksy hulle kurrikulum, maar kan dit nie in hul daaglikse lewe toepas nie. Sy doel is om die verband tussen mens en natuur by hulle vas te lê en hulle te help om dié verband te verstaan.

 

Hy is tans ’n vrywilliger van Youth 4 African Wildlife, ’n organisasie wat jaarliks internskappe vir twee studente aanbied. Hy het sy internskap verlede jaar voltooi en tree vanjaar vrywillig as ’n mentor vir die jongmense op. “Ek wou steeds betrokke bly by die organisasie en die werk wat hulle doen.”

 

Hulle werk hoofsaaklik in gemeenskappe rondom die Nduma Natuurreservaat en Tembe Olifantpark in Natal.

 

Interessante onderwerpe

 

Tydens sy internskap het hy en Darian Hall van Kanada die organisasie, Elephants Alive, gehelp om die probleem van olifante wat bome omstoot, te bekyk. Hulle het gehelp om ’n video saam te stel oor die rol wat bye kan speel om te voorkom dat olifante die bome omstoot. Hy sê dié navorsing gaan steeds voort en hy was bevoorreg om net ’n kort tydjie saam met hulle te werk.

 

Fortunate se nagraadse studies by die NWU fokus op amfibiese diversiteit en gemeenskapsgebaseerde ekotoerisme by die Nduma Natuurreservaat. Dis is ook die titel van sy meestersgraadverhandeling.

 

Sy studieleier, prof Louis du Preez, sê Fortunate is ’n juweel weens sy passie vir natuurbewaring. “Hy is ’n harde werker en doen ongelooflike goeie werk om gemeenskappe oor die verskillende paddas in hulle omgewing in te lig.”

 

Paddas kwaak binnekort in Zoeloe

 

Louis sê Fortunate help om ’n boek oor paddas in Zoeloe saam te stel, wat deel van sy nagraadse studies sal vorm. Dit sal die eerste boek oor paddas in die land in dié taal wees. Dit word deels befonds deur die South African National Biodiversity Institute en veral skoolkinders sal dit kan gebruik om hulle te help om die paddageluide, -habitat en -spesies te leer ken.

 

Fortunate bied ook werkswinkels aan vir wildbewaarders van die Ndumo Natuurreservaat om hulle as gidse op te lei.Die gidse gebruik dié kennis om besoekers tydens wildsritte bewus te maak van die verskillende paddaspesies en -roepe in die reservaat. Volgens Louis het dié bykomende kennis al groot byval by besoekers gevind.

 

Dié liefde kom van ver

 

Fortunate is ’n boorling van Limpopo en het by sy ouma grootgeword. Sy liefde vir die natuur is te danke aan sy ouma wat baie streng en pynlik netjies was. Om die huis aan die kant te hou, moes hy  bedags buite speel en daar is die saadjie geplant wat hom later na sy loopbaan sou lei.

 

Hy het sy voorgraadse studie by Unisa voltooi ná ’n onderbreking waartydens hy as navorser vir die televisieprogram 50/50 gewerk het. Hy vertel dié ervaring het hom goed te pas gekom met die kort films wat hulle tydens hulle internskap by Youth 4 African Wildlife moes maak.

 

Hy het vir sy nagraadse studie by die NWU kom aanklop en hy onthou die dag toe hy by Louis se kantoor ingestap het baie goed. Hy wou aanvanklik sy studies oor slange doen, maar het besluit paddas is na genoeg daaraan en boonop was Louis baie opgewonde om hom as nagraadse student onder sy vlerk te neem.

 

Fortunate sê hy het sedertdien nog nooit teruggekyk nie en is baie opgewonde om sy verhandeling aan die einde van die jaar in te dien. Hy sê dit sal egter nie die einde van sy navorsing sal wees nie – hy hoop om sy doktorsgraad ook by die NWU af te handel.

 

 

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

 

Kyk hierna

 

In hierdie video gesels Fortunate Phaka, meestersgraadstudent aan die NWU, oor sy betrokkenheid by bewaring en sy werk vir Youth 4 African Wildlife tydens ’n onderhoud met die SABC se program, Newsroom Live.

 

volgende

>

NWU & U  |

NWU & U  |