X

PROFIELE

Edgar Lebelo, medestigter van die sakeonderneming, e-Kasi Bucks, sê hulle het baie planne en heelwat doelwitte wat hulle nog wil bereik. “Ons wil internasionaal uitbrei en by soveel as moontlik projekte betrokke raak.”

Edgar Lebelo herdefinieer township-handelspraktyke

Daar is iets te sê vir mense wat baanbrekers is in hulle gekose beroepe deur dinge op hul eie manier te doen.

 

Dié met die visie, dryfkrag en vasberadenheid om hul drome te verwesenlik, word entrepreneurs genoem, en Edgar Lebelo is beslis een van hulle.

 

Edgar, wat in Pretoria grootgeword en aan die Mabopane Sekondêre Skool gematrikuleer het, het altyd geweet toewyding sou sy sleutel tot sukses wees. Hy het homself voorgeneem dat geen werkslading te groot en geen taak benede hom sou wees nie.

 

Met ’n toekenning van die Old Mutual Educational Trust het hy by die NWU se Vaaldriehoekkampus vir ’n BCom Rekeningkunde-graad ingeskryf, en in die Vergelen Manskoshuis tuisgegaan.

 

Nooit ’n ledige oomblik nie

 

“Ek wou ’n aktiewe student wees,” verduidelik hy, en dit was hy ook. Edgar het op die Verteenwoordigende Studenteraad se Bemarkings- en Kommunikasiekomitee gedien. Hy was ook deel van die Toastmasters se Riverine-klub en ’n lid van die Global Business Roundtable wat aan die JSE Investment Challenge vir leerders en studente deelgeneem het. Verder het hy geleer om valuta te verhandel op Forex, by ’n nabygeleë Makro as deeltydse verkoopspersoon gewerk en basketbal gespeel.

 

“Die kampuslewe was heerlik en het my geslyp om die persoon te word wat ek vandag is.”

“Ek weet ek het baie buitemuurse aktiwiteite gehad, maar dit voel nog steeds asof ek meer kon doen,” sê hy met ware entrepreneuriese gees.

 

Edgar se graad in rekeningkunde het verskillende deure vir hom oopgemaak. Van 2013 tot 2015 het hy vir Barclays in Londen gewerk as ’n vaste-inkomste- en kommoditeite-analis voordat hy ’n onderneming begin het wat nasionale mediablootstelling aan hom gegee het: e-Kasi Bucks.

 

e-Kasi Bucks is ’n lojaliteitskaart wat kliënte gebruik om punte te verdien as hulle by plaaslike winkels inkopies doen. Klink dit bekend? Die verskil is dat e-Kasi Bucks in townships in Gauteng gebruik word. Ongeveer 700 kleinsakeondernemings – van haarsalonne tot snoepies en karwasondernemings – is reeds deel van die besigheid wat ’n jaar gelede begin is.

 

Ontgin die mark

 

’n Mens sou kon sê hy en sy sakevennoot, Lucky Kgwadi, is besig is om die lojaliteitskaartkonsep heeltemal op sy kop te draai en ’n mark te ontgin wat vroeër oor die hoof gesien is.

 

“Dit is veel meer as net ʼn lojaliteitskaart.”

"Jy kan ook jou selfoon gebruik om direkte beursie-na-beursie-betalings te doen en ons oorweeg dit om meer dienste in te sluit.”

 

Die Midrand-gebaseerde onderneming het reeds ’n hele aantal hoëprofielvennote wat gretig is om betrokke te raak by hierdie winsgewende onderneming.

 

“Ons het baie planne en doelwitte wat ons nog wil bereik. Ons wil internasionaal uitbrei en by so veel as moontlik projekte betrokke raak.”

 

Gee om vir ander

 

Soos wat die geval is met een van sy rolmodelle, Facebook-stigter Mark Zuckerberg, word Edgar ook aangespoor deur ’n sin vir filantropie. “Ek glo ons is hier vir ’n bepaalde doel, en om die lewe beter en makliker te maak vir almal wat ná ons kom.”

 

Hy het met ’n afwesige ma en sonder ’n pa grootgeword. Die deugde waarop sy sukses gegrond is, is aan sy ouma se opvoeding te danke. Hy praat met groot deernis en agting oor haar.

 

Wanneer Edgar nie besig is om sy besigheid uit te brei nie, is hy gewoonlik verdiep in die een of ander boek oor entrepreneurskap en selfontwikkeling. “Ek luister ook baie na musiek en stel my eie hip-hop-snitte saam.”

 

Die digitale klikke van mobiele toestelle wat e-Kasi Bucks verhandel, is egter steeds die soetste musiek in sy ore.

 

 

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

NWU & U  |

NWU & U  |

Edgar Lebelo herdefinieer township-handelspraktyke

X

INHOUD

Edgar Lebelo herdefinieer

township-handelspraktyke

inhoud

NWU & U