X

ProfiElE

Tsholofelo Lejaka, hoof uitvoerende beampte van Boks Suid-Afrika, sê hy hou daarvan om te sien hoe idees lewe kry. “Ek hou daarvan om te visualiseer – om verby die probleme te kyk om oplossings te vind.”


Gee hulle hoop

 

Nadat hy sy graad verwerf het, was Tsholofelo by jeugontwikkeling betrokke waar hy, as hoof uitvoerende beampte van die Vrystaatse Jeugkommissie, een van die hartseerste dae van sy lewe beleef het.

 

Op hierdie dag het hy jongmense in sjebiens sien drink in ’n township naby Petrusburg in die Noord-Kaap. Later, by ’n skoolkonsert, het hy leerders vol geesdrif hul rolle sien vertolk, met hoop in hulle oë.

 

“Ek het gewonder wat van hulle sou word ná skool. Ek het gedink oor wat sou gebeur as hulle terugkeer na omgewings wat soos sinkgate is wat insluk en vernietig en hulle laat uitdraai soos die ander jongmense wat ek vroeër daardie oggend gesien het. As hulle maar net toegang gehad het tot die regte platforms en die regte mense.

 

"Ek het daar gesit, en kon nie anders as om ’n traan af te vee nie,” onthou hy.

 

Tsholofelo

klim in die kryt

Hulle noem dit die "sweet science" wanneer twee boksers mekaar takseer, afstande skat en uitwerk waar en hoe om die volgende hou toe te dien. Dis ʼn fyn balans tussen aanval en verdedig, tussen brein en spierkrag. Vir Tsholofelo Lejaka, hoof uitvoerende beampte van Boks Suid-Afrika, is boks selfs meer as dit.

“Boks is die arm man se sport,” verduidelik dié alumnus van die NWU se Mafikengkampus. “Dit help om jou woede en frustrasie op ’n meer produktiewe wyse te kanaliseer.

 

“Daar is ’n element van fisieke vaardigheid, maar die sleutel is toewyding, en daarmee saam kom ekonomiese vryheid. Ek het dit soveel keer gesien in plekke soos die Oos-Kaap waar gewone, arm mense deur boks ’n bestaan maak,” sê Tsholofelo.

 

In ’n arena waar boksers mekaar takel soos die gladiators van ouds is hy meer van ’n pasifis as ’n vuisvegter. “Nee, ek het nooit self geboks nie!” lag hy. “Maar ek is van kleins af ’n groot ondersteuner van die sport.”

 

Na aan sy kulturele wortels

 

Tsholofelo is in Taung in die Noordwesprovinsie gebore, maar het in Thaba Nchu in die Vrystaat grootgeword. Naweke en vakansies was hy meestal by sy ouma en oupa in Taung omdat hulle geglo het dis belangrik dat hy na aan sy kulturele wortels bly.

 

 

Dit was gedurende sy vormingsjare wat hy toegekyk het hoe Arthur Mayisela, ’n enigma van Suid-Afrikaanse boks, sy pad na vele oorwinnings oopgemoker het, alhoewel die groot titels hom altyd ontwyk het. “Daar was net iets spesiaals omtrent hom,” verduidelik Thsolofelo. Sy pa, Gideon, was ’n amateurbokser, en dit het verder gehelp om sy liefde vir boks aan te wakker.

 

Te veel vryheid

 

Tsholofelo erken ruiterlik dat hy allesbehalwe ’n modelstudent was toe hy in 1994 op die Mafikengkampus aangeland het vir sy BSc-studies.

 

“Ek kom uit ’n streng ouerhuis, so ek was totaal oorweldig deur die vryheid wat die universiteitslewe gebied het. Ek het eers behoorlik tot verhaal gekom en werklik begin groei as mens nadat ek oorgeslaan het na die geesteswetenskappe en verskeie studenteleierskapsrolle vervul het.”

 

 

Hy het waardevolle ondervinding opgedoen terwyl hy twee maal die portefeulje van Adjunkpresident: Intern op die Verteenwoordigende Studenteraad beklee het.“Daar was ’n verandering in studentepolitiek. Ons was nie meer die opposisie nie; ons het met die bestuur saamgewerk en met administratiewe kwessies geworstel. Dit is waar my passie vir administrasie vandaan kom,” verduidelik hy.

 

Klim in die kryt

 

’n Paar jaar na die begin van sy loopbaan het Tsholofelo bietjie nader aan die bokskryt beweeg toe hy in 2010 by die Departement van Sport en Rekreasie aangesluit het, en in 2011 hoofdirekteur van korporatiewe dienste geword het. In Mei 2016 is hy aangewys as die nuwe hoof uitvoerende beampte van Boks Suid-Afrika.

 

Tsholofelo sê ná die bloeityd van die 1970's was die sport vir ’n lang tyd gekortwiek deur omstredenheid, binnegevegte en politiekery, en begin die sport nou eers weer om sy toeskouers stadigaan terug te wen.

 

“Boks is ’n ou sport; ons moet dit moderniseer en deel maak van die digitale era. Daar is steeds ’n passie vir die sport en daardie passie moet weerklank vind by die toeskouers. Ek glo dit sal gebeur. So, is boks terug? Die antwoord is ‘ja’. Is boks weer bo? Nog nie.”

 

Wel, dit lyk beslis of Tsholofelo die man is om dit weer daar te kry.

 

 

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

Behalwe vir sy verloofde en hulle drie dogters het Tsholofelo ook ’n voorliefde vir langafstandhardloop. Hy beoog om vanjaar vir die vyfde keer aan die Comrades-marathon deel te neem.

NWU & U  |

NWU & U  |