X

redaksioneel

Skryf gerus en vertel ons waar in die wêreld julle jul bevind en hoe dit met jul loopbane gaan, of skryf sommer oor ditjies en datjies wat julle na aan die hart lê.

 

Stuur julle briewe na nelia.engelbrecht@nwu.ac.za, faks dit na 086 614 3222 of pos dit aan Nelia Engelbrecht, Institusionele Kantoor, Noordwes-Universiteit, Privaat Sak X1290, Potchefstroom, 2520.

 

ONS HOOR GRAAG VAN JULLE!

Dit kom van ver af

Andra Kruger saam met haar man, Jordan Poston, hulle seuntjie, Drew en Schnauzer Maggie.

Beste mede-alumi,

 

Dis ’n reënerige wintersdag in Baltimore en ek sit en dink aan die groep, Counting Crows.  Hulle moes iets van Baltimore geweet het toe hulle die liedjie “It’s raining in Baltimore” geskryf het!

 

Nou ja, ons het darem mooi dae ook hier met pragtige geil kersiebloeisels en magnolias wat die strate in die lente versier, en ’n verskeidenheid roeskleurige blare wat die herfs aankondig.

 

Ek woon op ’n plot saam met my man, Jordan, ons seuntjie, Drew, en ons getroue mini Schnauzer, Maggie, in Maryland, ’n voorstad van Baltimore in die VSA. As aptekersstudent aan die NWU het ek nooit gedink dat ek my heil oorkant die Atlantiese Oseaan sou soek nie, en om eerlik te wees, dis nie werklik hoe ons storie verloop het nie.

 

Ek het gekom vir die liefde, en ses jaar later hou die liefde my steeds hier.Dis my liefde vir my gesinnetjie, maar ook ’n liefde vir die land wat so halsstarrig aan my kom kleef het.

 

Ek mis Afrika se son en mense. Ek mis MY mense, maar ek kan heelhartig sê die Amerikaners is ’n baie gawe nasie wat altyd belangstellend oor my “boere-aksent” uitvra.

 

Die eerste paar jaar was moeilik. EK het gesukkel om werk te kry, en ook om vriende te maak. My man werk lang ure as rekenmeester by ’n groot mediafirma en ek moes leer om as onafhanklike, loopbaangerigte vrou totaal afhanklik van ander mense te wees. Ek glo hierdie was my rustyd.

 

’n Boom wat uit die grond gehaal word om êrens anders verplant te word, dra nie in die eerste jaar weer vrugte nie, en so het die Here my kom stilmaak en kom leer om te wag. Wag om weer ’n bestuurslisensie te kry, wag om ’n werk te kry, wag om die regte kerk te kry en wag om vriende te maak.

 

Om te wag vir werk was die grootste uitdaging, maar na ’n lang gesukkel en baie trane het ek ’n internskap deur Stevenson Universiteit by die staatspatoloog in Baltimore gekry wat uiteindelik tot ’n werk gelei het.

 

Ek verlang steeds elke dag na my mense en my land, en is oneindig dankbaar vir elkeen wat deel aan my vorming gehad het.

 

As die wind deur die blare op ons erf ritsel, dink ek altyd met heimwee terug aan my dae op die Potchefstroomkampus waar ek so graag onder die bome in Lovers’ Lane gesit het en net geluister het.  Ek wens ek kan elke student inspireer om hierdie klein oomblikkies te koester.

 

Terwyl ek hier sit, voel ek nie hopeloos oor Suid-Afrika en sy toekoms nie en bid ek steeds hier uit die vreemde vir hoop en harte wat luister.

 

 

Andra Kruger

Baltimore, VSA

 

Potchefstroomkampus-alumna, Andra Kruger, het hierdie huis haar tuiste gemaak. Die gesin woon in op ’n kleinhoewe in Maryland, ʼn voorstad van Baltimore in die VSA.

 

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

Farmasie gestudeer

Andra het die volgende kwalifikasies aan die NWU behaal:

BPharm (2001-2004)
MSc (2005-2006) (Farmaseutiese Chemie)
PhD (2007-2010) (Farmaseutiese Chemie)

 

 

NWU & U  |

NWU & U  |