X

NUUs

Chris de Bruyn, bestuurder van die Instituut vir Kunstebestuur en -ontwikkeling (Artéma) op die Potchefstroomkampus was aan die stuur van die reëlings van die eerste rock-konsert.

 

Lof – of nie...

 

Die studentekoerant Die Wapad van Dinsdag 20 Augustus 1991 het studente se menings gevra oor die rock-konsert, en die volgende was van die reaksie.

 

• Cinema was baie goed, nie sleg vir ’n Suid-Afrikaanse band nie. Little Sister was stunning. Die beste Suid-Afrikaanse band. Hulle het ’n baie goeie vertoning gelewer. Mens was nooit verveeld nie.

 

• Dit was fenomenaal en dit kan gerus weer in die toekoms herhaal word. *Patricia Lewis kan volgende keer as danseres aangewend word. Die volgende rock-konsert kan in die somer gehou word, want dit was darem bitter koud. Ek hoop die Puk bou voort op hulle goeie gees.

 

• Dit was ’n puik idee. As die Pukke se gees so uitstekend was, wil ek graag sien hoe sal dit wees as ons die dag die rugby wen.

 

• Dit was regtig great gewees. Behalwe vir Patricia Lewis wat maar net haar lyfie kon rondswaai, want haar sang was pateties.

 

(*Kort daarna het Patricia Lewis een van die topverkoper vroulike kunstenaars in Suid-Afrika geword.)

 

 

Dis hoe ek dit onthou...

Die eerste rock-konsert in die amfiteater

Op ʼn tydstip van groot omwentelinge regoor die wêreld, het ʼn historiese gebeurtenis van groot belang vir studente aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) plaasgevind.

 

Die NWU & U het met Chris de Bruyn gesels, wat die bestuurder van die Instituut vir Kunstebestuur en -ontwikkeling (Artéma) is, en een van die organiseerders van die eerste rock-konsert ooit in die amfiteater op die Potchefstroomkampus was.

 

 

Die jaar was 1991. Die winde van verandering het oral op die aarde verwoed begin waai. Die oorlog in die Persiese Golf het tot ’n einde gekom, dit was die koms van die Wêreldwye Web, en in Suid-Afrika het die ondertekening van die Nasionale Vredesverdrag ’n nuwe demokratiese era ingelui.

 

Dit was egter nie net op die politieke en tegnologiese front waar dinge verander het nie. By die PU vir CHO was daar ʼn groep studente met ’n visie. Hulle wou ’n opwindende en energieke rock-konsert in die universiteit se amfiteater aanbied.

 

Tot op daardie stadium was konserte net deel van Jool en musiektoere, en nie eintlik deel van die kampuskultuur nie, en die organiseerders wou dit verander. Hul harde werk is op 10 Augustus 1991 beloon met die rock-konsert wat die Saterdagaand as deel van die Intervarsity-vieringe gehou is.

 

Chris het die voortou geneem met die reëlings. “Op daardie stadium het die amfiteater nog nie ’n dak gehad nie en was dit baie meer oop aan die kante. Ons het geweet daar sou uitdagings wees wat dinge soos veiligheid en skarebeheer betref,” onthou Chris.

 

Maar geen uitdaging was te groot of te moeilik nie. “Ons wou groot name na die universiteit lok, en ons sou ons deur niks laat keer nie.”

 

Rock-musiek maak jou nie ryk nie

 

Na baie onderhandelinge met die universiteitsbestuur en die studenteraad het hulle toestemming vir die rock-konsert of Intervêr Jol, soos dit genoem is, gekry. Daar was wel sekere voorwaardes – Chris en sy medeorganiseerders, Gerhard Jacobs en Thinus van Rensburg, moes al die fondse insamel om die konsert te finansier en moes ook al die aspekte van die geleentheid reël.

 

Nog ʼn voorwaarde was dat ’n sekere persentasie van die inkomste na die studenteraad toe moes gaan. “Ons het besef dat niemand sou ryk word uit die konsert nie; ons het net-net gelykgebreek,” lag Chris.

 

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

Het jy ʼn herinnering aan ʼn groot universiteitsgebeurtenis in jou studentedae of wil jy graag op hierdie artikel kommentaar lewer? Stuur jou bydraes na willie.duplessis@nwu.ac.za of skakel 018 299 4915.

 

In 1989 het die susters Jenni en Debbi Lonmon die groep Little Sister gestig. In 1990 het “Dear Abbie” hulle eerste nommer een-treffer in Suid-Afrika geword.

Cinema was bekend vir treffers soos “My Kind of Girl”, “Inside and Out” en die nommer een-treffer “Strangers Again”

Lang hare en jong musiekgroepe

 

Twee van die gewildste Suid-Afrikaanse groepe van daardie tyd is genader vir die konsert. Cinema en Little Sister het baie aanhangers gehad nadat hulle huishoudelike name geword het met treffers soos “My kind of girl” en “Dear Abbey” onderskeidelik.

 

“Saam met dié twee groepe kon ons ook vir Patricia Lewis kry, wat op daardie stadium nog ’n opkomende ster was. Dit was die jaar net voordat haar debuutalbum vrygestel is. Met haar lang blonde hare en opgewekte deuntjies het ons geweet sy sou byval vind by ’n sekere deel van die studentekorps.”

 

Die konsert het suksesvol verloop, sonder enige noemenswaardige insidente.

“Die studente wat as uitsmyters opgetree het, het baie goeie werk gedoen. Daar was ’n paar studente wat probeer het om by die verhoog uit te kom terwyl Patricia opgetree het. ’n Klein groepie studente het die doringdraadheining wat ons voor die verhoog opgerig het, platgetrap en ’n paar dapper en gelukkige studente moes van die verhoog af gehaal word.”

 

Een van die uitsmyters, Jurie Kasselman, het later vertel dat, terwyl hulle daarop gefokus het om studente van die verhoog af te hou, hy ’n man met lang hare gesien het wat na Patricia Lewis toe gehardloop het terwyl sy besig was om op die verhoog te gaan. “Jurie het die man onmiddellik gekonfronteer, maar Patricia het hom gekeer en geroep: “Nee, hy's my dromspeler!”

 

Geleentheid het die weg gebaan vir nóg konserte

 

Die rock-konsert was ’n wonderlike ervaring vir almal wat dit bygewoon het en Chris sê hulle het baie komplimente gekry. Alhoewel daar sedert 1991 baie soortgelyke gebeurtenisse in die amfiteater aangebied is, glo Chris dit was hierdie eerste konsert wat die deure geopen het.

 

“Ek is seker dat dit aan die universiteitsbestuur bewys het dat geleenthede soos hierdie ’n positiewe bydrae maak tot die ryk tapisserie van studentelewe. Ek onthou hoe ek na afloop van die vertoning in die verlate amfiteater gesit het en ’n sug van verligting geslaak het dat alles glad verloop het. Die organisasie was ’n groot uitdaging, maar op daardie oomblik het ek geweet dit was alles die moeite werd.”

 

 

NWU & U  |

NWU & U  |