X

REDAKSIONEEL

Prof Dan Kgwadi

Boodskap van

die visekanselier

Geagte alumnus,

 

Die Noordwes-Universiteit behoort nie aan enige individu nie – ook nie aan die huidige studente, personeel of bestuur nie. Die NWU behoort aan ons almal – ook ons alumni wat voormalige studente is wat aan die NWU en sy voorgangers studeer het.

 

Ek glo dus dat u, ons alumni, begaan is oor die uitdagings waarmee ons in die afgelope jaar te kampe gehad het. U het ons kommer gedeel oor die “Fees must Fall”-veldtog en die potensiële uitwerking daarvan op die NWU.

 

U het ons pyn gedeel toe duur universiteitseiendom aan die brand gesteek is en ʼn klein minderheid probeer het om chaos te saai. Wat meer is: u het ons kommer gedeel oor die moontlike verlies van die akademiese jaar. En die belangrikste: u was bekommerd oor ons studente.

 

Terwyl ek hierdie boodskap skryf, is ons suksesvol besig om die eksamens te voltooi en kan ek met ʼn redelike mate van vertroue sê dat ons die wa deur die drif getrek het. Hiervoor is ons dankbaar. Dankie vir u morele ondersteuning.

 

ʼn Woord van dank aan personeel en studente wat geweier het om geïntimideer te word en vasgebyt het in moeilike omstandighede. Ons is trots op al hierdie mede-eienaars van die NWU.

 

Gelukkig was dit ook ʼn jaar van viering en vooruitgang. In hierdie uitgawe van die NWU & U kan u meer lees oor ons Alumni-toekennings aan uitstaande oudstudente van die NWU. U kan ook kennis neem van nuwe projekte, inisiatiewe en geboue.

 

Want dit is waaroor die NWU gaan: vooruitgang met alle aktiwiteite wat ons fokus op ons kernbesigheid uitlig, naamlik onderrig en leer, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid.

 

Gedurende die afgelope jaar het die oorgrote meerderheid van die personeel en studente hulle daarmee besig gehou. Dit is wat die telbord weldra sal wys.

 

Intussen – in die wêreld van handel, sport, kultuur, media en diens aan die gemeenskap – het alumni van die NWU hul kennis en ervaring gebruik om diensbaar te wees.

 

Dit maak ons trots. Want ons streef daarna om landsburgers te lewer wat ʼn verskil maak – in Suid-Afrika of waar hulle hulself ook al in die wêreld bevind.

 

Vriendelike groete,

Prof Dan Kgwadi
Visekanselier

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

NWU & U  |

Inhoud

Voorblad

Wenners van die NWU se Alumni-toekennings is van links Karen Meiring (Toekenning vir Sakeleierskap), dr Tanya Robinson (Navorsingstoekenning), Yvonne Mfolo (Toekenning vir Gemeenskapsbetrokkenheid), dr Theuns Eloff (Leeftydprestasietoekenning), regter Frans Kgomo (Toekenning vir Openbare Dienslewering) en Kobie van Rensburg (Toekenning vir Kuns en Kultuur). Weens dringende verpligtinge kon die ander twee wenners, Shanté Bukes (Sporttoekenning) en prof Llewellyn van Zyl (Jong Alumnus-toekenning) nie die geleentheid bywoon nie. Hul toekennings is namens hulle ontvang.

X

INHOUD

INHOUD

NWU & U