X

ProfiEle

Adv Johan Kruger is ’n alumnus van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

NWU in sy bloed

 

Adv Johan Kruger was die afgelope jare baie nou betrokke by die NWU. Tussen 2007 en 2016 was hy ’n lid van die uitvoerende komitee van die Konvokasie, lid van die Institusionele Forum, en van die NWU-raad. Johan se pa, Frans Kruger, was vir jare die hoof van die NWU se Regskantoor en is ná sy aftrede weer by die Regskantoor betrokke. Johan se oom, adv Johan Kruger, SC is tans die voorsitter van die NWU-raad.

Van Potch na Nairobi en daarna, wie weet?

Adv Johan Kruger het ʼn lang pad gekom. Om die waarheid te sê, dit is sowat 3 000 km van Potchefstroom af waar hy grootgeword en studeer het, tot in Nairobi, die hoofstad van Kenia waar hy tans vir die Verenigde Nasies (VN) werk.

’n Vervelige pad was dit beslis nie. Daarvoor het Johan se uiteenlopende talente, belangstellings en loopbaan-ervaring gesorg. Dit is immers nie aldag dat ’n regsgeleerde kan sê dat hy ewe tuis in die teater as op die saal van ’n padfiets is nie.

 

Destyds, as leerder van Potchefstroom Gimnasium, het hy provinsiale kleure in baan- en padfietsry verwerf, en is hy vir die junior Springbokspan vir padfietsry gekies.

 

As student aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) het Johan ’n LLB-graad in 2001 en ’n LLM-graad in publiekreg (cum laude) in 2002 behaal. Hy het ook die liefde van sy lewe, professionele fotograaf en verhoogkunstenaar, Nacia, hier ontmoet.

 

“Dit was terwyl ons lede van die Alabama-studentegeselskap was – musiek en ons gedeelde liefde vir teater het ons bymekaar gebring.”

 

Die eerste treë

 

Johan, wat in 2001 as advokaat van die Hoë Hof van Suid-Afrika toegelaat is, het sy loopbaan in 2002 as staatsaanklaer afgeskop, waarna hy regsadviseur in die Departement van Verdediging en later kabinetskakelbeampte van die minister van Verdediging was.

 

Ná ʼn jaar as hoof van produksies van Creativentertainment in Pretoria, het hy in 2008 vir die eerste keer vir die VN begin werk.Hy was tot 2012 die regsadviseur en projekkoördineerder vir Suider-Afrika in die VN se Kantoor vir Dwelmmiddels en Misdaad in Pretoria, waarna hy vir vier jaar die direkteur van die FW De Klerk-stigting se Sentrum vir Grondwetlike Regte in Kaapstad was.

 

Johan se regs- en teateragtergrond het ook handig te pas gekom in sy posisies as nie-uitvoerende direkteur van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en verskeie privaat maatskappye, en ook as trustee van die Arts and Culture Trust of South Africa en lid van die Kunstekaap (Artscape) Teatersentrum se oudit- en risikokomitee.

 

VN is tans sy bestemming

 

In 2016 het hy vir ’n tweede keer by die VN aangesluit, en wel as programhoof by die VN se Kantoor vir Dwelmmiddels en Misdaad in Nairobi, Kenia.

 

“Ek is tans die hoof van twee programme wat veral kyk na die bekamping van mensehandel, smokkel van immigrante, dwelmhandel, onwettige handel in wapens, kubermisdaad, geldwassery, terrorisme en ekstremisme in Oos-Afrika,” vertel Johan.

 

Die VN se streekskantoor vir Oos-Afrika – waar Johan werk – is deel van ’n yslike VN-kompleks wat altesaam 28 VN-agentskappe en ongeveer 4 500 personeellede huisves.

 

Die pad vorentoe

 

Die Krugers is al amper agt maande in Nairobi. “Ons mis familie en vriende, maar gelukkig help tegnologie ons om in kontak te bly.”

 

Johan sê hy behoort vir ongeveer twee tot drie jaar in Nairobi te bly voor hy na 'n volgende VN-posisie sal skuif. “My werk vereis geweldig baie reis – in Oos-Afrika, maar ook elders in Afrika en Europa. Die tyd wat ek dus werklik in Nairobi gaan spandeer mag dalk ietwat minder wees.”

 

Wel, waarheen Johan se lewensreis hom ook al sal neem, dit sal steeds nuwe, interessante bakens meebring. Daar is min twyfel dat ons nog meer oor hierdie reis gaan hoor.

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

(KLIK OP  BLOKKIE OM MEER TE LEES)

  • Meer oor Nacia

    Nacia het haar BA-graad in toerisme en rekreasie aan die voormalige PU vir CHO verwerf en daarna vir drie jaar musiekteater aan die voormalige Technikon Pretoria studeer. Sy het vir amper 10 jaar in verskeie musiekblyspele in die groot teaters in Suid-Afrika, asook in Malmo, Swede en in die Téâtre du Châtelet in Parys, Frankryk, opgetree.

     

    Sy het onder meer rolle in The Sound of Music, My Fair Laidy, Grease, Showboat en verskeie pantomimes vertolk. Sy was ook 'n lid van die groep, The Dahlings, en het heelwat musiekteaterproduksies (ook dié van die NWU) se regie waargeneem.

     

    Nacia se ander liefde is fotografie. Hoewel sy 'n stewige fotografiebesigheid op die been gebring het, is sy tans net te bly om 'n slag tuis te bly by Nathan, hulle vier maande oue seuntjie. Nie dat sy stilsit nie – sy en Nathan reis gereeld saam met Johan en boonop is sy klaar besig om 'n paar babas in Nairobi van musiek te leer.

  • Meer oor Nairobi

    Johan sê Nairobi herinner hom nogal aan Pretoria. “Die middestad het groot geboue en gans en al te veel verkeer, met pragtige omliggende areas waaronder Gigiri, die diplomatieke area waar die VN ook geleë is.”

     

    Hoewel die Nairobi op die ewenaar geleë is, is dit ongeveer 1 800 meter bo seespieël. “Die temperatuur is dus gematig – nooit te warm of te koud nie en amper altyd groen. Dit is ook 'n middelpunt vir Oos-Afrika en verleen gemaklike toegang na plekke soos Kilimanjaro, die Masai Mara, Mombasa en Zanzibar.”

NWU & U  |

Inhoud

Voorblad

Wenners van die NWU se Alumni-toekennings is van links Karen Meiring (Toekenning vir Sakeleierskap), dr Tanya Robinson (Navorsingstoekenning), Yvonne Mfolo (Toekenning vir Gemeenskapsbetrokkenheid), dr Theuns Eloff (Leeftydprestasietoekenning), regter Frans Kgomo (Toekenning vir Openbare Dienslewering) en Kobie van Rensburg (Toekenning vir Kuns en Kultuur). Weens dringende verpligtinge kon die ander twee wenners, Shanté Bukes (Sporttoekenning) en prof Llewellyn van Zyl (Jong Alumnus-toekenning) nie die geleentheid bywoon nie. Hul toekennings is namens hulle ontvang.

X

INHOUD

INHOUD

NWU & U