X

PROFIELE

Maklik is dit nie om sportfotograaf te wees nie en daar is maar min naweke wat Ettienne van Rensburg nie langs ’n sportveld sit nie, maar dit is hoe hy dit verkies.

Magdel, Ettienne se vrou, is ’n web- en sosialemediapubliseerder in die Bemarkings- en kommunikasiedepartement op die Vaaldriehoekkampus.

Ettienne saam met sy twee dogtertjies, Ailani (9) en Hailey (10 maande).

Deur Ettienne se lens

Om die lewe deur ’n kamera se lens te aanskou is vir Ettienne van Rensburg tweede natuur.

 

Hy het homself gevestig as ’n bekroonde fotograaf en joernalis in die geledere van die gemeenskapspers en is ’n gerekende sportfotograaf wat soms ook die sports in sport sien.

Aksie, gesien deur Ettienne se lens...

Roeiers op water... Ettienne het hierdie oomblik in tyd vasgevang.Ettienne (39), alumnus van die Vaaldriehoekkampus, is sportredakteur van die gemeenskapskoerant, Vaalweekblad, in die Vaaldriehoek.

 

Hy het eers ’n wye draai in die joernalistiek gegooi en sy koeranttande gesny by Beeld en Sondag voordat hy die laaste paar jaar sy vaardighede by Vaalweekblad geslyp het. Hier is hy verantwoordelik vir die sportinhoud in Vaalweekblad se stal publikasies. Dit behels aksiefotografie, bladuitleg, sub- en skryfwerk en om kopie vir die koerant se webwerf te lewer.

 

Goddelike ingryping

 

“Ek is bitter lief vir sport, maar veral rugby. Ek wou nog altyd net langs ’n veld sit en aksie vasvang. Dit was goddelike ingryping wat my in dié rigting gestoot het,” gesels Ettienne.

 

Hy sou aanvanklik regte op die NWU se Potchefstroomkampus studeer, maar nadat sy pa twee hartaanvalle kort na mekaar gehad het, het hy besluit om nader aan die huis te studeer.

 

Nadat hy sy BA-graad in 1998 voltooi het, het hy sy honneursgraad in sosiologie in 2001 op die voormalige PU vir CHO se Vaalkampus ontvang.Ettienne onthou sy studentejare met ’n glimlag en spot dat hy waarskynlik ere-presidentskap van die biergilde sou kry “as daar een was”. Hy was ’n Nyala-dagstudent en vertel met ’n knipoog dat hy studente-aktiwiteite “baie goed ondersteun het”.

 

Kamera altyd gereed

 

Sy liefde vir fotografie het hy by sy pa gekry. “My pa was ook ’n kranige fotograaf in sy jonger dae.”

 

As Ettienne nie sport afneem nie, is hy in aanvraag as troufotograaf – dit beteken sy kamera is nooit ver van hom nie.

 

Hy wil nog eendag die fynere kunsies van natuurfotografie bemeester, maar vir eers is hy tevrede daarmee om op sy gunstelingplek, die rugbyveld, sy kuns as sportfotograaf te vervolmaak.

 

Of dit nou bulletjie-rugby is of die groot kanonne wat mekaar pak, Ettienne sal daar iewers wees met sy lens gerig op die aksie.“Rugby is waarskynlik meeste Suid-Afrikaanse fotograwe se gunstelingsport om af te neem. Ek dink omdat ek ’n liefde en ’n aanvoeling vir die spel het, kry ek goeie foto’s. Mens se passie skemer deur in jou werk,” sê hy.

 

Haka is ’n hoogtepunt

 

Een van Ettienne se hoogtepunte van sy loopbaan was om die Nieu-Seelanders se haka af te neem. Hy het ook die eerste T20-wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika as sportjoernalis gedek en was fotograaf by verskeie rugbytoetse tussen Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Engeland en Australië.

 

Hy geniet dit om toekomstige talent voor sy lens te sien ontluik as hy dekking gee aan Cravenweek-toernooie, want hy was self ’n kranige jong rugbyspeler voor ’n besering hom op die krukkelys geplaas het.

 

“Ek het van kindsbeen af rugby gespeel, maar het rugprobleme opgedoen en moes vroeg in my klubloopbaan my tokse ophang. Ek wou egter betrokke bly by die spel.”

 

Vereer vir uitnemendheid

 

Sedertdien het baie water in die see geloop en Ettienne het die afgelope ses jaar verskeie nasionale pryse vir sportjoernalistiek en -fotografie gewen:

 

  • Vroeër vanjaar by ’n toekenningseremonie van die Caxton-mediagroep was hy die wenner in die kategorie Beste Sportskrywer vir 2015 en naaswenner in die kategorie Beste Sportfoto.

 

  • Verlede jaar het hy die titel Fotograaf van die Jaar by die Caxton-toekennings opgeraap en was hy een van die top drie fotograwe in 'n nasionale kompetisie van die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste.

 

Hulle verdien meer kollig

 

Ettienne is dankbaar vir die erkenning vanuit eie geledere, maar voel daar kan meer gedoen word om die kollig op die harde werk van die gemeenskapspers te plaas.

 

“Weens die toenemende druk op gedrukte media en digitale fotografie, asook die ontstaan van sosiale media en citizen journalism (bedoelende die publiek wat foto’s instuur en berigte skryf) het daar ’n wanpersepsie ontstaan dat enigeen ’n joernalis kan wees.

 

“Daar is wel kompetisies vir gemeenskapspers soos die Caxton, Legends en Sanlam (nou FCJ)-toekennings, maar ek dink daar kan meer gedoen word.”

 

Die mooiste kom nog

 

Ettienne, sy vrou Magdel en hul twee dogtertjies, Ailani en Hailey, is dolgelukkig in die Vaaldriehoek.

 

Hy droom daarvan om eendag Amerikaanse voetbal af te neem en kan nie een foto wat hy al geneem het, as ’n gunsteling uitsonder nie. “Ek dink ek moet nog my gunsteling- en mooiste foto neem...”

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

Meer as mik en druk

 

Ettienne se raad aan ontluikende fotograwe is oefen, oefen en oefen.

 

“Digitale fotografie en die internet maak dit deesdae baie maklik vir ontluikende fotograwe om vinniger te leer. My advies is om vir jou gepaste toerusting aan te skaf wat jou sak pas en te begin oefen. As jy ’n mentor kan vind, sal dit jou leerproses aansienlik versnel.

 

“Die belangrikste is kennis en aanvoeling vir die spel wat jy afneem. Kyk na ander fotograwe se werk, boots dit na en begin dan met ander invalshoeke en skote eksperimenteer. As jy nie ’n passie vir fotografie het nie, gaan jy dit nie maak nie.”

 

 

NWU & U  |

Deur Ettienne se lens

Inhoud

Voorblad

Wenners van die NWU se Alumni-toekennings is van links Karen Meiring (Toekenning vir Sakeleierskap), dr Tanya Robinson (Navorsingstoekenning), Yvonne Mfolo (Toekenning vir Gemeenskapsbetrokkenheid), dr Theuns Eloff (Leeftydprestasietoekenning), regter Frans Kgomo (Toekenning vir Openbare Dienslewering) en Kobie van Rensburg (Toekenning vir Kuns en Kultuur). Weens dringende verpligtinge kon die ander twee wenners, Shanté Bukes (Sporttoekenning) en prof Llewellyn van Zyl (Jong Alumnus-toekenning) nie die geleentheid bywoon nie. Hul toekennings is namens hulle ontvang.

X

INHOUD

Deur Ettienne se lens

INHOUD

NWU & U