X

NUUs

Die Venters, Theo en Sanja-Rika, het die afgelope twee jaar Engels gegee in China.

Wat ’n massiewe land

 

Sanja-Rika sê China is ʼn massiewe land en in Chinees is die woord vir China "Zhongguo", wat “middel-land” beteken.

 

“Die Chinese het gedink China is die middelpunt van die wêreld, want in die Noorde is daar sneeu en ysige koue, in die weste woestyne, in die ooste die see en in die suide majestueuse berge.”

 

China, gesien
deur die oë van alumni

Soos ons in die vorige uitgawe van die NWU & U belowe het, vertel ons nou in meer detail van Sanja-Rika en Theo Venter se avonture in China. Dié wat Sanja-Rika se lekker geselsbrief in die vorige uitgawe gemis het, kan klik hier om dit te lees.

 

Sluit by ons aan vir ’n toer deur China, soos gesien deur die oë van alumni Sanja-Rika en Theo Venter.

 

Wat kan vreemder wees as woorde geskryf in ʼn alfabet waarvan mens geen kop of stert kan uitmaak nie? Dalk ʼn naaldekoker-sosatie om aan te smul?

 

Bygesê: as jy soos Potchefstroomkampus-alummi, Sanja-Rika en Theo, vir byna twee jaar in China gebly het, het ‘vreemd’ sy angel teen dié tyd waarskynlik al verloor.

 

Dié jong avonturiers het mekaar in 2012 op ʼn staptoer in die Amatola-berge in Suid-Afrika ontmoet. In daardie stadium het Theo reeds ʼn BCom-graad in risikobestuur behaal, en Sanja-Rika ʼn BA-graad in regte. Ná hul ontmoeting het Sanja-Rika in 2013 ʼn nagraadse onderwyssertifikaat verwerf en eers in Ventersdorp en daarna in Klerksdorp skoolgehou.

 

En wie se idee was dit om China toe te gaan? “Ons het saam besluit,” vertel Sanja-Rika.

Voor hulle China toe is, was Theo ’n landbou-ekonoom by Senwes in Klerksdorp. Theo het al vantevore in Korea Engels gegee en dit baie geniet, en hulle nuuskierigheid oor China het die deurslag gegee.

 

’n Uitdagende alfabet

 

Terwyl hulle in die stad Shenzhen skoolgehou het, het hulle ook leer Chinees praat. Hulle het van die algemeenste karakters van die Chinese alfabet geleer ken, veral dié op spyskaarte. “Net om seker te maak jy weet wat jy bestel,” sê Sanja-Rika.

 

Gelukkig was dit nie vir hulle nodig om die ongeveer 1 000 Chinese karakters wat nodig is om elke dag oor die weg te kom, te leer nie. “Ons kon darem vir enigiemand vra om vir ons iets te lees – die geletterdheidsyfer in China is baie hoog.”

 

Deesdae leer almal die vereenvoudigde Chinees wat makliker is om te skryf as die tradisionele Chinese karakters. “Hulle skryf ook vandag van links na regs en nie meer van bo na onder soos in antieke China nie.”

 

So pronk die rykes – en hulle honde

 

Sanja-Rika sê klasseverskille in China is baie opsigtelik. Daar is mense wat baie ryk is en ander wat baie arm is. Die armes is meestal op die platteland, waar die infrastruktuur vervalle en werk skaars is. “Daarom trek miljoene elke jaar na die stede toe,” vertel Sanja-Rika.

 

Aan die ander kant, sê sy, is daar meer biljoenêrs in China as in enige ander land in die wêreld. “Die rykes is ongelooflik statusbewus en hoe duurder die handsak en hoe vinniger die kar, hoe beter. Hulle wedywer oor wie die meeste geld of die slimste of mooiste kinders het, en hulle adverteer hul hele lewe op sosiale media.”

 

Nog ’n statussimbool onder die middel- en hoërklas Chinese is troeteldiere. Dit is meestal goedversorgde, opreggeteelde honde wat truitjies en skoentjies dra. “Teen laatskemer paradeer almal met hulle honde op die groot pleine, waar daar natuurlik baie foto’s geneem word. Katte word hoofsaaklik in winkels aangehou om die rotte en insekte weg te hou.”

 

Voorskrifte vir dink en doen

 

Die politieke klimaat in China het ʼn groot invloed op die mense. “Nuus word gefilter om in die guns van die staat anderkant uit te kom. Ek het gesukkel om my leerders kreatief en krities te laat dink, omdat die mense daagliks voorgeskryf word wat en hoe hulle moet dink en doen.”

 

En wat weet die deursnee Chinees van Suid-Afrika? Maar bitter min, sê Sanja-Rika.

“Hulle assosieer Suid-Afrika met Nelson Mandela, die 2010 Sokker Wêreldbeker en met diamante. Dit is ook vir hulle baie snaaks om te hoor dat ons van Suid-Afrika af kom, aangesien hulle die wanpersepsie het dat daar slegs swart mense in Suid-Afrika bly. Dan moet ons eers die hele geskiedenis van Jan van Riebeeck en die Oos-Indiese Kompanjie vir hulle uitlê.”

 

Die volgende avontuur

 

Die twee se volgende stop is Argentinië, daarom is hulle reeds besig om Spaans te leer “wat gelukkig baie makliker is as Chinees”.

 

Hulle beplan om daar wortel te skiet en 'n plaas te koop, want Theo se droom is om te boer. “As alles goedgaan, gaan ek my eie koffiewinkel oopmaak met die naam "Die Ossewa", waar ek Suid-Afrikaanse lekkernye aan die Argentyne gaan bekendstel,” sê Sanja-Rika.

 

In twee kort jare het China, met al sy vreemde gewoontes, ’n tuiste vir twee NWU-alumni geword. Binnekort sal hierdie wêreldburgers waarskynlik Argentinië ook “huis” noem. Wanneer jy dalk eendag in Argentinië kom, loer gerus in by Die Ossewa. Daar mag ’n stukkie melktert vir jou wag.

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

In China is ʼn ordentlike steak maar baie skaars, vertel Sanja-Rika. Al die vleis word in klein stukkies gesny sodat mens dit met eetstokkies kan eet. Sy sê Theo was baie avontuurlustig wat vreemde disse betref. Die snaaksste dis wat hy aangedurf het, was ʼn gebraaide naaldekoker wat hy by een van die kosstalletjies in Beijing se “snack street” gekoop het.

 

NWU & U  |

Inhoud

Voorblad

Wenners van die NWU se Alumni-toekennings is van links Karen Meiring (Toekenning vir Sakeleierskap), dr Tanya Robinson (Navorsingstoekenning), Yvonne Mfolo (Toekenning vir Gemeenskapsbetrokkenheid), dr Theuns Eloff (Leeftydprestasietoekenning), regter Frans Kgomo (Toekenning vir Openbare Dienslewering) en Kobie van Rensburg (Toekenning vir Kuns en Kultuur). Weens dringende verpligtinge kon die ander twee wenners, Shanté Bukes (Sporttoekenning) en prof Llewellyn van Zyl (Jong Alumnus-toekenning) nie die geleentheid bywoon nie. Hul toekennings is namens hulle ontvang.

X

INHOUD

INHOUD

NWU & U