X

ProfiEle

Velaphi Ratshefola, besturende direkteur van Coca-Cola Beverages South Africa, het ’n BJuris- en ’n LLB-graad aan die voormalige Universiteit van Bophuthatswana (Unibo) behaal.

Drie feite oor Velaphi Ratshefola

 

  • Velaphi en sy vrou, Rose, het by Unibo ontmoet, waar sy maatskaplike werk studeer het. Hulle is al 26 jaar lank getroud en het drie kinders tussen die ouderdom van 12 en 23.

 

  • In sy jonger dae was hy ’n goeie danser en selfs ’n beter sokkerspeler. Hy het hierdie vaardighede gebruik om sy laaste twee jaar van hoërskool te befonds.

 

  • Hy het min tyd vir negatiewe mense en sy lewensfilosofie is “Wees positief.”

 

bruis in sy bloed

Vier senior bestuurslede van groot maatskappye in één familie... Wat is dit wat maak dat die Ratshefolas besigheidsleiers oplewer soos Velaphi Ratshefola, besturende direkteur van Coca-Cola Beverages SA en alumnus van die voormalige Universiteit van Bophuthatswana (Unibo)?

“My oupa, Benjamin Rakomane Ratshefola, moet iets daarmee te make hê; hy was ’n baie besonderse mens. Hy het twee plase gehad in ’n tyd toe min swartmense toegelaat is om grond te besit,” sê Velaphi na ʼn paar oomblikke se nadenke. Sy neef Hamilton (ook ’n Unibo-alumnus) is die besturende direkteur van IBM Suid-Afrika, sy suster Victoria is die hoof uitvoerende beampte (HUB) van Eerste Nasionale Bank Forex, en nóg ’n neef, dr Eugene Watson, is HUB van die Padongelukkefonds.

 

“Ons is almal maar hier deur God se genade. ’n Mens moenie begin dink jy is spesiaal nie. Partykeer is jy net op die regte plek op die regte tyd, of jy's gelukkig genoeg om goeie mentors te hê.”

 

Dit is ’n tipiese reaksie van Velaphi wat – ten spyte daarvan dat hy aan die hoof staan van ’n maatskappy wat R25 miljard per jaar inbring – nog net so nederig is as toe hy ’n hawelose tiener was wat in ’n stal moes slaap.

 

Gedwonge verskuiwings ontwrig

 

“Ons was baie arm,” sê Velaphi, wie se gesin alles verloor het toe hulle verskuif is vanaf Putfontein (die dorpie op een van sy oupa se plase) naby Lichtenburg na Ramatlhabama buite Mahikeng.

 

Hy was 14 jaar oud en reeds ’n weeskind; sy ma, ’n enkelouer, is in 1976 oorlede.

 

“Ek het by my ouer broer in Soweto gebly, maar nadat ons ’n uitval gehad het, het ek weggeloop en vervoer gekry terug Putfontein toe. Toe ek daar aankom, was die dorpie in die proses van gedwonge verskuiwing. Alles was reeds afgebreek en hulle was besig om mense se meubels op vragmotors te laai.”

 

Die gemeenskap is in Ramatlhabama hervestig, waar daar nie elektrisiteit, lopende water of ordentlike behuising was nie. Velaphi het vir ’n kort rukkie by ’n familielid gebly, en is toe weer daar weg. “Ek moes op my studies fokus. Skoolopleiding was altyd ’n prioriteit.”

 

Skool kom eerste

 

Daardie ingesteldheid het vrugte afgewerp. Alhoewel hy alleen gebly het in sy laaste drie jaar van hoërskool, eers in ’n plakkershut en toe in ’n ongebruikte perdestal, was hy een van slegs twee van die 100 matriekleerders by sy skool wat met universiteitsvrystelling geslaag het.

 

“My ma het ’n behoefte aan universiteitsopleiding by my aangewakker, en ’n niggie in Dobsonville het vir my geld gegee om universiteit toe te kan gaan,” sê Velaphi. Sy niggie het ’n sjebien bedryf om haar inkomste as teedame aan te vul. “Na my matriekeksamen het ek in Desember en Januarie vir haar gewerk. Sy het baie geld gemaak – omdat ek die klante so goed bedien het.”

 

Die vlieg in die salf van sy planne om na Unibo te gaan, was dat hy nagelaat het om voor die tyd aansoek te doen. “Daar aangekom, moes ek uitvind dat die universiteit reeds vol was. Maar toe hulle my punte sien, was die vraag net ‘Wat wil jy studeer?’ Ek het regte gekies.”

 

Velaphi het eers sy BJuris-graad voltooi, en toe sy LLB, maar kon steeds die tyd inruim om aktief te wees in studentepolitiek en om sokker te speel. “Ek het in my tweede jaar kaptein geword van die universiteit se sokkerspan, en vir die volgende vier jaar lank die kaptein gebly.”

 

Van sokkerkaptein tot groot nyweraar

 

Nadat hy sy graad in 1989 verwerf het, was Velaphi eers staatsaanklaer in Mahikeng voordat hy by die verpakkingsmaatskappy Nampak in Sandon begin werk het, eers as regsbeampte en later in nywerheidsverhoudinge. Van daar af is hy na SABMiller toe, maar dit was nie lank voordat Nampak hom teruggewerf het nie – vanwaar hy weereens deur SABMiller gewerf is.

 

Hy het baie vinnig opgang gemaak en is aangestel as besturende direkteur van Amalgamated Beverage Industries (ABI), die koeldrankafdeling van SABMiller.

 

Vroeër in 2016 het hy besturende direkteur geword van Coca-Cola Beverages SA. Dit is ’n  koeldrankbotteleringsmaatskappy wat tot stand gekom het ná die samesmelting van ABI, Coca-Cola Fortune, Shanduka, Appletiser, Coca-Cola Canners en Valpré.

 

Dit is tot dusver die hoogtepunt van sy 28 jaar lange loopbaan. “Coca-Cola Beverages SA is die grootste Coke-botteleerder in Afrika en produseer ten minste 40% van die totale Coke-volume op die kontinent. Ons dra ook tussen 65% en 68% by tot die omset en wins van Coca-Cola Beverages Africa.”

 

Velaphi maak graag die grappie dat daar Coke in sy are vloei. “Hierdie handelsmerk is my passie. Dit is een van die groot gelykmakers. Ryk of arm, almal het toegang daartoe.”

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

Een van Velaphi se stokperdjies is beesboerdery.

NWU & U  |

Inhoud

Voorblad

Wenners van die NWU se Alumni-toekennings is van links Karen Meiring (Toekenning vir Sakeleierskap), dr Tanya Robinson (Navorsingstoekenning), Yvonne Mfolo (Toekenning vir Gemeenskapsbetrokkenheid), dr Theuns Eloff (Leeftydprestasietoekenning), regter Frans Kgomo (Toekenning vir Openbare Dienslewering) en Kobie van Rensburg (Toekenning vir Kuns en Kultuur). Weens dringende verpligtinge kon die ander twee wenners, Shanté Bukes (Sporttoekenning) en prof Llewellyn van Zyl (Jong Alumnus-toekenning) nie die geleentheid bywoon nie. Hul toekennings is namens hulle ontvang.

X

INHOUD

INHOUD

NWU & U