REDAKSIONEEL

Bert Sorgdrager

Boodskap van die president

van die Konvokasie

Beste alumni

 

Ons is verby die halfpadmerk van die jaar en van hier af is dit gewoonlik net ’n oogknip tot Desembermaand.

 

Hierdie is ’n jaar met vele uitdagings; in sommige opsigte selfs nog meer as in 2020. Hoewel ons begin gewoond raak die sogenaamde “nuwe normaal” het baie mense vanjaar weens Covid-19 gesterf.

 

Terwyl ons almal smag na die pre-Covid tydperk, moet ons die werklikheid in die gesig staar. In dié verband wil ek die NWU namens ons alumni gelukwens met hulle pogings om almal ten alle tye veilig te hou.

 

Kies om verantwoordelik op te tree

 

Ons mis reünies en kuiers en het simpatie met elke student wat die voorreg van kampuslewe tans mis. Maar wanneer ons dit opweeg teen die gevare, beskikbare hulpbronne en die impak van Covid-19, is dit die mees verantwoordelike pad wat die NWU neem.

 

Hierdie besluite word nie ligtelik geneem nie – inteendeel. Dit word met die hulp van kundiges en baie rolspelers geneem en boonop binne die raamwerk wat die Minister vir Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie aan ons stel. Hoewel skole sover moontlik normaal aangaan, is die riglyne en reëls vir tersiêre instellings anders.

 

NWU help met inentings

 

Die NWU se leierskap in die stryd teen Covid-19 verdien spesiale melding. By die NWU is die afgelope tyd duisende Covid-inentings gedoen om die universiteitsgemeenskap en plaaslike gemeenskappe weerbaar te maak teen die siekte. Die NWU is ’n voorloper in die soeke na werkbare oplossings.

 

Ons almal bly glo hierdie pandemie sal onder beheer kom. Alle donker wolke het darem ’n silwer randjie en ons kan trots aankondig dat die NWU tydens die Marketing, Communications and Advancement in Education-toekennings (MACE), heelwat toekennings ingepalm het.

 

MACE is ’n nasionale liggaam wat bestaan uit verteenwoordigers van hoëronderwysinstellings in die land.

 

Die NWU het 26 inskrywings gehad en altesaam 20 toekennings ontvang. Van die deelnemende universiteite was ons persentasie toekennings in verhouding tot ons getal inskrywings die tweede hoogste.

 

Ons eie Alumnikantoor spog met ’n goue en ’n brons toekenning en die NWU & U-tydskrif spog met twee silwer en twee brons toekennings.

 

Laat jou stem geld

 

Baie geluk aan Konvokasie-lede adv Marlize Kruger en ds Dirk Laufs wat onlangs verkies is om die Konvokasie op die NWU-Raad te verteenwoordig. Hulle sal by my en prof Annette Combrink aansluit om namens die Konvokasie op die Raad te dien.

 

Deur die vier van ons – en deur ’n lid van die Konvokasie te word – kan jy seker maak jou stem word gehoor wanneer belangrike besluite oor die universiteit geneem word.

 

Die Konvokasie is jou geleentheid as alumnus om betrokke te bly by die NWU en te verseker jou stem word op alle vlakke binne die universiteitstrukture gehoor. Sluit aan. Dit kos slegs R50 – ʼn eenmalige betaling vir lewenslange lidmaatskap.

 

 

Groete,

 

Bert Sorgdrager
President van die NWU-Konvokasie

 

 

 

DIe NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

volgende ARTIKEL

vorige artIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

 

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U