NUUS

 

 

Dié liefde is groot

 

“Ons is baie lief vir die NWU en baie van die avonture wat ons beleef het was daar op die Potchefstroomkampus,” sê Reynold Fourie wat die langpad saam met sy broers aangepak het.

 

Die Fourie-broers – Bennie, Reynold en Wilbrie – het tussen 2002 en 2009 op die Potchefstroomkampus studeer. Bennie het ʼn graad in regte verwerf, asook nagraadse kwalifikasies in besigheidsbestuur en onderwys. Reynold het ʼn meestersgraad in teologie en Wilbrie ʼn meestersgraad in bestuursrekeningkunde.

 

Al drie was op hulle dag primarius van Hombre-manskoshuis, terwyl Reynold en Wilbrie ook op die Studenteraad gedien het. Dit is egter nie waar die gesin se verbintenis met die NWU stop nie.

 

Hulle suster, Mareli Mosca, en hulle ouers, Ben en Susan Fourie, is ook NWU-alumni. Selfs die twee skoonsusters – Reynold se vrou, Vicki, en Wilbrie se vrou, Annelize – is alumni. Die drie broers en hulle geliefdes woon in Kaapstad, nie te ver van mekaar af nie.

 

Klik op die beeld hierbo vir ’n voorskou van Die Broer Toer wat binnekort op kykNET gaan begin.

Die Broer Toer: die Fourie-broers vat die pad

Wat gebeur as ’n akteur, ’n dominee en ’n sakeontwikkelaar op hulle motorfietse klim en op toer gaan? Wat as dié drie nog boonop broers én NWU-alumni is?

NWU-alumni Bennie, Reynold en Wilbrie Fourie is eersdaags te sien in die TV-reeks Die Broer Toer op kykNET.

Ons gaan binnekort uitvind wanneer Die Broer Toer op Dinsdag 5 Oktober om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, begin.

 

Wanneer die TV-program begin, gaan die drie alumni-broers ons saam met hulle op reis neem wanneer hulle plekke soos Riemvasmaak, Vioolsdrif en die Koue Bokkeveld op hulle motorfietse gaan verken.

 

“Dit was ’n besondere ervaring om al my liefdes saam op een plek te kon bymekaar bring – familie, film en avontuur,” sê Bennie, bekend vir sy rolle in die TV-reeks Hotel en die film Vuil wasgoed.

 

“Ons gaan ver, en ons gaan vir goud terwyl ons lag en doen wat broers die beste doen,” sê Reynold, die predikant in die groep.

 

Van die Koue Bokkeveld tot ver in die ou Kalahari

 

In die eerste episode van die reeks het Bennie ’n verrassing vir sy broers en hulle pak die langpad aan tot in die Koue Bokkeveld. Daar wag hulle eerste uitdaging: die Bike Jimkana. In die tweede episode reis hulle deur die Sederberge na die Biedouwvallei en in die derde episode verken hulle die Weskus.

 

Ander plekke waar daar ook aangedoen word sluit in Groenriviermond, Hondeklipbaai, Holgatrivierloop, die Oranjerivier by Vioolsdrift, Riemvasmaak en die Kalahari se soutpanne en -duine.

 

As jy wil ry, moet jy ly

 

Elke program het ook sy eie uitdagings wat die broers vir mekaar stel soos “by my sy”, “hommel-tjommel”, “arsenaal-generaal”, “radio geen beheer” en vele meer.

 

Die verloorder van die uitdagings moet gestraf word, wat natuurlik druk op die broers sit. Boonop kom só ’n toer ook nie sonder meganiese en mediese probleme wat opgelos moet word nie.

 

Die broers gaan ook ’n paar aktuele kwessies aanspreek. “Ek sal wil hê dat wanneer mense klaar die program gekyk het, hulle geskater het van die lag, ’n traan gepink het én impulsief besluit het om in ’n bakkie te spring en ’n avontuur aan te pak saam met mense vir wie hulle lief is,” sê Wilbrie.

 

So sit aan jou veiligheidsgordel en maak gereed om die reis saam met hulle aan te pak!

 

 

 

DIe NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

volgende ARTIKEL

vorige artIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

 

Hulle toer van toeka
af al

 

Om die pad te vat is nie nuut vir die Fourie-broers nie. Hulle het op skool reeds saam begin toer en op universiteit ‘n bakkie gekoop waarmee hulle in Suid-Afrika en van die buurlande gereis het.

 

TV-kykers het ook in 2020 reeds ’n voorsmakie van Die Broer Toer gekry toe hulle die Tankwa-Karoo op motorfietse aangepak het.

 

Die doel van die loodsepisode was om te bepaal of kykers in ’n volle reeks sou belangstel. Die reaksie was so oorweldigend positief, dat die broers kon begin beplan aan hulle motorfietsavontuur van 23 dae.

 

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U