PROFIELE

Wetenskaplike Lesego Moloko besoek die Internasionale Atoomenergieagentskap in Wene.

 

Wat Lesego doen

 

Lesego Moloko se werk as senior wetenskaplike in kernreaktorfisika behels die verskaffing van berekenings deur modelle te ontwikkel om fasiliteite van belang te simuleer en veiligheidsontledings, stralingsbeskerming en kritieke berekeninge te doen om die veilige bedryf van hierdie fasiliteite te verseker.

 

Lesego voer ook materiaalaktiveringsontleding uit en doen optimaliseringstudies vir verskeie kommersiële produkte. Dit sluit in die produksie van industriële en mediese isotope vir gebruik in diagnostiese en terapeutiese toepassings van kernmedisyne – vir Suid-Afrikaanse sowel as internasionale gemeenskappe – asook silikondotering vir die halfgeleierbedryf.

 

Benewens sy verantwoordelikhede as kernreaktorfisikus, is Lesego aktief by die inisiëring en koördinering van navorsingsprogramme en die opleiding en mentorskap van universiteitstudente en junior personeel van Necsa betrokke.

 

Voorste kernwetenskaplike is trots op sy NWU-wortels

Wetenskap is ’n groot gesamentlike onderneming wat aandag aan uitdagings in die samelewing en die wêreld gee. Dit stel mense in staat om langer te leef en gesonder lewens te lei, terwyl daar ook praktiese oplossings vir alledaagse probleme gesoek word, en die heelal se groot geheimenisse ontrafel word.

Een van die mense wat die impak van die wetenskap in ons daaglikse lewe verstaan, is alumnus Lesego Ernest Moloko.

 

Lesego is ’n senior wetenskaplike by die Navorsings- en Ontwikkelingsgroep van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Necsa), wat navorsing en ontwikkeling in kernenergie en stralingswetenskap en -tegnologie uitvoer.

 

Lesego is tans ’n PhD-kandidaat in kerningenieurswese by die North Carolina State University (NSCU) in die Verenigde State.

 

’n Nederige begin

 

Lesego sê hy kom uit ’n baie nederige agtergrond en is deur sy ouma op brood en botter grootgemaak.

 

“Sy het uit haar karige maandelikse staatstoelae vir my studies betaal.”“Ten spyte van hierdie uitdagings kon ek my hoërskoolloopbaan voltooi. Ek het goeie uitslae behaal en toelating tot ’n universiteit verkry.”

 

Lesego het deelgeneem aan verskeie gesamentlike tegniese projekte wat deur internasionale liggame gefasiliteer is en wat gemik is op die bevordering van uitnemendheid in gevorderde kerntegnologie, en hy is steeds daarby betrokke.

 

Hierdie liggame sluit die Internasionale Atoomenergieagentskap en organisasies in die Franse kernbedryf in, soos die kommissie vir alternatiewe energie en atoomenergie (Commissariat à l’énergie atomique et aux énergies alternatives), en die kernenergie-agentskap wat onder die raamwerk van die organisasie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling bedryf word.

 

Dit het alles hier begin

 

Lesego skryf sy sukses toe aan die indrukwekkende grondslag wat in sy tyd as student by die program van die NWU se Sentrum vir Toegepaste Stralingswetenskap en -tegnologie (CARST) gelê is.

 

Hy sê CARST se universiteit-bedryf-gebaseerde opleidingsmodel gee aan studente die geleentheid om ervaringsopleiding in die bedryf – hoofsaaklik in die kernbedryf – op te doen.

 

“Die bedryfsbesoeke was baie verfrissend en opwindend,” onthou Lesego.“In die meeste gevalle het die besoeke soos ’n vakansie gevoel, hoewel dit eintlik die teenoorgestelde was.

 

“Ek het daardie besoeke werklik geniet en ek dink dat dit die beste werksmodel vir enige universiteit is om te gebruik en te implementeer, aangesien dit bedryfsgeoriënteerde leer verseker.”

 

Bedryfsbesoeke is ook ’n uitstekende geleentheid om die teorie wat ’n mens leer, toe te pas en verwante aktiwiteite op ’n fisiese manier saam met kundiges op die gebied van kerningenieurswese en -wetenskap te ervaar.

 

“Hierdie soort interaksie maak ook werkgeleenthede vir ’n mens moontlik,” sê hy.

 

Met baanbrekers soos Lesego wat die mag van die wetenskap, tegnologie en innovasie ontgin, is meer gelyke en volhoubare ontwikkeling in sig. Nuwe jong wetenskaplikes sal beslis inspirasie uit sy voorbeeld put.

 

 

 

DIe NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

volgende ARTIKEL

vorige artIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

Lesego besoek die CERN Groot Hadronversneller in Switserland. (CERN is die Franse akroniem vir Conseil Européen pour la Recherche Nucléaire, of die Europese Organisasie vir Kernnavorsing. Dit verwys ook na die Europese Laboratorium vir Deeltjiefisika.)

 

Sien die mag van kennis raak

 

Die wetenskapentoesias Lesego Moloko het ’n indrukwekkende lys van akademiese prestasies.

 

Dit is ’n BSc in fisika en toegepaste wiskunde, ’n BScHons in fisika, en twee MSc-grade. Die een is in toegepaste stralingswetenskap van die NWU se Mahikengkampus, en die ander in kerningenieurswese van die Potchefstroomkampus.

 

Lesego het tot dusver aan ’n aantal referate meegewerk en dit by plaaslike sowel as internasionale konferensies en werkswinkels aangebied. Hy het ook tegniese verslae en vaktydskrifartikels op sy gekose gebied van kerningenieurswese geskryf.

 

 

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U