PROFIELE

PhD-alumnus adv Jan Tladi leef sy lewe voluit ten spyte daarvan dat hy blind gebore is. Hy glo dit is van die uiterste belang dat ons almal by lewenslange leer betrokke moet wees.

 

Daar is steeds diskriminasie

 

Jan sê hy ervaar steeds diskriminasie as gevolg van sy gestremdheid.

 

“Gewoonlik wanneer mense wat kan sien, besef ek is blind, is hulle eerste indruk dié van jammerte en skaamte totdat hulle besef wie ek is. Wanneer dit gebeur, verander party van hulle van mening.

 

“Dit is egter jammer dat sommige hulle negatiewe persepsies behou, wat uiteindelik skadelik en diskriminerend is,” sê hy.

 

Hy wys daarop dat die Grondwet se doel is om sonder uitsondering vir almal ’n menseregtekultuur te skep.

 

“As die samelewing blinde mense met dieselfde mate van waardigheid, gelykheid en vryheid hanteer, kan ons almal ’n werklike gelyke samelewing skep wat nie teen blinde mense diskrimineer nie.”

 

Blinde PhD-gegradueerde glo aan lewenslange leer

Al is hy blind gebore, het adv Jan Tladi nie toegelaat dat iets in sy pad staan om van ’n spesiale skool vir sy basiese onderrig tot die hoogste kwalifikasie wat ’n universiteit kan aanbied, te vorder nie.

Hy het onlangs al die struikelblokke wat moontlik in sy pad kon wees, uit die pad gevee deur die eerste blinde student te word wat met ’n PhD by die NWU se Mahikengkampus gradueer.

 

En sy raad aan ander? Hou aan leer.

 

As regsadviseur in die kantoor van die Ministerie van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, sê Jan voortgesette professionele ontwikkeling is noodsaaklik om op hoogte te bly met ontwikkeling op enige gebied.

 

“’n Mens hou nooit op om nuwe dinge te leer en te verstaan nie. ”“Deur lewenslange leer kan jy jouself verder toerus met die nodige kennis, vaardighede en vermoëns om nuwe uitdagings aan te pak en te oorwin,” sê hy.

 

Jan het ’n BJuris en LLB van die Universiteit van Limpopo, ’n LLM van die Universiteit van Pretoria, en ’n Bestuursontwikkelingsprogram-diploma van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

 

Op ’n vraag oor hoe hy die geweldige uitdaging aangepak het om vir sy PhD te studeer, sê Jan omdat hy visueel gestremd is, is daar altyd bykomende uitdagings vergeleke met sy eweknieë.

 

“Van hierdie uitdagings was dat ek ekstra werk en tyd moes insit om by my eweknieë by te bly. Ek moes uitvoerige navorsing doen wat die versameling van groot hoeveelhede data – dikwels in ontoeganklike formaat – behels, en die transkribering van daardie data in ’n toeganklike formaat was baie tydrowend.”

 

Reik ’n helpende hand

 

Jan sê die NWU se Eenheid vir Gestremdheid het hom baie ondersteun terwyl hy met sy studies besig was.

 

“Om die minste te sê, die tegniese en gespesialiseerde ondersteuning wat ek van die eenheid in Mahikeng ontvang het, was ongelooflik en indrukwekkend. Hulle het my tuis laat voel en my as ’n visueel-gestremde student aanvaar.”

 

Jan sê die grootste uitdaging van blindheid is dat jy dinge anders waarneem as diegene wat dinge met hulle oë sien. Dit is dus moeilik vir mense wat nie blind is nie om blinde mense in alle opsigte te verstaan.

 

“Gevolglik is omgewings soos openbare geboue, instellings vir hoër onderrig en geriewe dikwels ontoeganklik vir blinde mense,” verduidelik hy.

 

Ten spyte van die talle struikelblokke wat hy moes oorkom, leef Jan sy lewe ten volle en is al meer as 20 jaar lank met Paulina getroud, en het hulle ’n seun, Katlego.

 

Jan se ingesteldheid teenoor die lewe en sy toewyding aan lewenslange leer is vir ons almal ’n voorbeeld en dit sal steeds so wees namate hy op sy pad vorder.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL


Sokker en politiek laat sy hart vinniger klop

 

Wanneer hy nie werk of studeer nie, is Jan ’n toegewyde ondersteuner van sokker en politieke debatte.

 

“Ek hou van sport, veral sokker. Ek is ’n stoere ondersteuner van Orlando Pirates en ek geniet dit om na sokker- en algemene sportkommentaar oor die radio te luister.

 

“Hoewel ek nie ’n politikus is nie, geniet ek politieke debatte en dokumentêre programme. Ek hou ook daarvan om boeke te lees, veral motiveringsboeke en boeke oor politiek.”

 

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U