PROFIELE

Wat ’n kampioen. Juan Louis het nie net alle verwagtings op herstel oorskry nie, hy het ook sy graad in geoktrooieerde rekenmeesterskap aan die NWU voltooi. Hy het elke eksamen sonder die hulp van ’n skrywer geskryf.

Die pad na herstel was moeisaam, maar Juan Louis was vasberade om te herwin wat hy verloor het.

 

 

Juan Louis se vasberadenheid het bewys dat dit die inspuiting kan wees wat sy liggaam nodig het, met sy geloof ’n elikser vir die siel.

 

‘Toe hulle vir my ’n rolstoel aanbied, het ek dit geweier’

Tot daardie een lewensveranderende oomblik was daar niks ongewoon aan Saterdag 14 Oktober 2017 nie.

Die kwik het tot ’n warm, maar nie ondraaglike nie, 29 grade gestyg, hoewel ’n humiditeit van 83% beteken het dat daar ’n redelike gevoel van ongemak was. Daar het baie dinge in die gedagtes omgegaan van die skraal, donkerkop- jong man wat oor twee dae sy eksamen in geoktrooieerde rekenmeesterskap by die Noordwes-Universiteit moes skryf.

 

Hy was by ’n familielid se huis en die swembad was net té aanloklik dat Juan Louis van der Vyver dit kon weerstaan. Hy het ingeduik. Toe hy weer sy oë oopmaak, was twee dae van sy lewe uit sy geheue weg, en hy kon van sy skouers af ondertoe geen spier beweeg nie.

 

Hy het die C4- en C5-werwels in sy nek gebreek en sy C3-werwel was ontwrig.

 

Word in die hospitaal wakker

 

“Ek kan nie onthou wat gebeur het nadat ek in die swembad ingeduik het nie. Ek het my nek teen die bodem of die kant van die swembad gebreek en die volgende ding wat ek onhou, was dat dit Maandag is en ek in die intensiewesorgeenheid wakker geword het,” onthou Juan Louis uit sy huis in Table View. Dit is hier in die skadu van die Moederstad se beroemdste baken waar hy oor vier jaar van deursettingsvermoë en geloof kan nadink.

 

“Ná twee weke in die intensiewesorgeenheid is ek na ’n rehabilitasiesentrum in Pretoria oorgeplaas. ”Vir hierdie energieke sportman, wat by die Worcester Gimnasium aan rugby, swem, atletiek en tennis deelgeneem het, koshuisrugby vir Excelsior by die NWU gespeel het en ook vir die universiteit geswem het, was dit onaanvaarbaar.

 

Geen rolstoel nie, dankie

 

Toe hy uiteindelik vir die laaste keer ná vyf uitmergelende maande die rehabilitasiesentrum verlaat, het die personeel vir hom ’n rolstoel aangebied. Hy het dit van die hand gewys.

 

Sy hande was vol eelte van sessies waar hy op die trapmeul in ’n harnas vasgemaak was, van ure wat hy met ’n loopraam geloop het, en van eindelose treë met krukke. Hy het hulpeloos op ’n bed gelê terwyl iemand sy bene vir hom beweeg het. Eetgerei is in ’n handskoen geplaas wat hom gehelp het om te leer om weer self te begin eet.

 

“Dit is die daaglikse basiese dinge soos om jou tande te borsel of aan te trek wat ’n mens die meeste mis. Toe hulle dus vir my ’n rolstoel aangebied het, het ek geweier om dit te neem. Hulle het my gewaarsku dat ek moeg sou word en een sou nodig kry, dat ek nie die hele tyd my krukke sal kan gebruik nie, maar ek het geredeneer dat hoe meer ek hulle gebruik hoe sterker en fikser ek sal word,” sê hy met vasberadenheid.

 

Teen alle verwagtinge in

 

“Dit is slegs aan God se genade te danke dat ek kon herstel in die mate wat ek wel herstel het. Ek kan nou sonder krukke in en om die huis stap. Ek kan selfs in sommige winkels en in die kerk sonder hulle loop, maar ek gebruik stapstokke vir ’n moeilike of onbekende terrein.”

 

Hy het ook in Junie in die jaar ná sy ongeluk sy studies in geoktrooieerde rekenmeesterskap aan die NWU voltooi. Sy ouers het die universiteit geskakel om uit te vind hoe hy sy kwalifikasie kon voltooi en ’n skrywer is aan hom toegewys. Die skrywer se dienste was nie nodig nie. Juan Louis het al sy eksamens per hand afgelê en het intussen ’n waardevolle deel van die PricewaterhouseCoopers-span geword.

 

Hy het teen alle verwagtinge in oorwin, en hy glo ander kan dit ook doen. Hy wil hê sy storie moet ’n inspirasie wees om aan mense wat voel dat hulle hoop verloor het, weer hoop te gee. Hy het oorwin, en hy sal steeds vorentoe gaan. Een tree op ’n keer.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

Juan Louis het ná sy aaklige duikongeluk twee weke in die intensiewesorgeenheid deurgebring.

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U