NUUs

Die rok wat Thulisile Bhuda by haar gradeplegtigheid aangehad het, weerspieël die tema van haar meestersgraadstudies, naamlik hoe Ndebele-vroue etnowiskunde in hul kulturele lewe, en meer spesifiek in hul kuns, gebruik.

 

Trots op inheemse kennis

 

Thulisile, wat van die klein dorpie Kwaggafontein in Mpumalanga kom, het deur die jare verskeie beurse ontvang as gevolg van haar goeie werksetiek en akademiese prestasies.

 

Sy het al haar kwalifikasies by die NWU met onderskeiding behaal. Sy werk tans aan haar PhD (ook by die NWU) en fokus op kosmiese invloede op Ndebele-etnowiskunde.

 

“Dis tyd dat die mense van Afrika hul eie geskiedenis skryf en hulle eie stories vertel,” sê Thulisile.

 

“Ek wil in die veld van inheemse kennisstelsels bly om hierdie magdom inligting te bewaar, te beskerm en te bevorder.”

 

Sy dra haar navorsing op haar mou

Thulisile Bhuda het aan die einde van verlede jaar die kollig gesteel toe sy haar NWU-meestersgraad tydens haar gradeplegtigheid ontvang het.

Sy het ’n wit rok met Ndebele-kunswerkpatrone om die moue en die gesigte van ikoniese Ndebele-vroue om die soom aangehad – en dit was nie net ’n modevertoning nie.

 

Haar rok het haar navorsing oor die rol van etnowiskunde in die kulturele lewe van die Ndebele-vroue in Mpumalanga weerspieël. (Etnowiskunde bestudeer die verwantskap tussen kultuur en wiskunde.)

 

Wiskundige formules blootgelê

 

Sy het tydens haar meestersgraadstudies, wat sy vroeg in 2019 voltooi het, bevind dat Ndebele-vroue etnowiskundiges is. Hoewel hulle geen formele skoolopleiding het nie, het hulle kennis van simmetriese meetkunde wat ’n mens in hul kralewerk en muurskilderwerk kan sien.

 

Thulisile het in haar studies getoon dat die wiskundige begrippe wat die Ndebele-kralewerkers deur die jare aangeleer het, telwerk, herhalende siklusse, die gebruik van meting en die beraming van lyne, hoeke en ooreenkomste in figure insluit.

 

Die skoonheid van vorms

 

Kom ons kyk na die berekenings wat ’n kralewerker moet maak

om sekere vorms te skep.

 

Driehoeke

As ’n kralewerker ’n driehoek wil skep, moet sy eers besluit hoe wyd die basis moet wees, en dan die getal krale wat hierdie basis vorm in twee deel om die middelpunt te kry. Sy moet in gedagte hou hoeveel krale aan weerskante van die middelpunt is en dan elke keer een kraal by elke kant aftrek totdat sy by die bopunt van die driehoek uitkom.

 

Vierkante en reghoeke

Wanneer vierkante en reghoeke geskep moet word, is daar geen aftrekking en optelling van krale by betrokke nie – die kralewerker moet net die getal krale bereken wat nodig is om die sye van die vorms te vorm. Die kunstenaar kan dan moontlik ander vorms binne-in die vierkant of reghoek byvoeg.

 

Sigsagpatrone

Kunstenaars gebruik ook sigsagpatrone, wat in twee vorms aangetref word. Die eerste een is waar die twee bene met ’n hoek van sestig grade bymekaarkom voordat dit in ’n ander rigting voortgaan.

 

Die tweede tipe is wanneer die een been van ’n helling tot ’n sekere hoogte styg voordat dit by die ander been aansluit. Die resultaat is ’n skerp hoek van ongeveer vyf-en-veertig grade, met die ander been in ’n vertikale posisie.

 

Vir ’n sigsagpatroon om na die regterkant oor te hel, moet die kunstenaar deurlopend die getal krale aan die linkerkant vermeerder sodat elke lyn een meer kraal as die vorige lyn het.

 

Chevrons

Chevrons word normaalweg gevorm met hoeke van 45 grade weerskante van die linker- en regterkant.

Die belangrikste meting is die wydte van die eerste pilaar (die plat kant van die chevron), aangesien al die berekenings daarvan afhang.

 

Die kunstenaar tel die krale in die eerste ry tot waar sy wil hê die chevron moet wees. Nadat sy na die chevron se kleur oorgeskakel het, begin sy een kraal aftrek (van die plat kant van die chevron) om die pilaar na die linkerkant te laat oorhel, en omgekeerd.

 

 

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

Hier is van die vorms wat kralewerkers gebruik.

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U