ProfIELE

 

Avonture op ’n pragtige kampus

 

Wanneer Hein oor sy studentejare praat, blink sy oë van opgewondenheid.

 

“My dae as student was wonderlik en ek koester ’n hele kaboedel prettige herinneringe. As ek dit alles met een woord moet beskryf, sal dit ‘avontuurlik’ wees,” sê Hein.

 

Hy onthou veral die waterballonpret tydens lentedagvierings, hoe hy langs die rivier kon sit en kitaar speel, en dat hy Oewerspens se skambani kon eet en terselfdertyd die blouapies en ganse moes afweer.

 

Hy is veral dankbaar vir die lewenslange vriendskappe wat hy kon smee.

 

Een van sy gunstelingvakke was positiewe sielkunde, en hy gebruik tot vandag toe die beginsels wat hy geleer het om mense te help floreer en betekenis in die lewe te vind.

 

Hein erken dat hy as lid van die dagkoshuis Oryx die kampuspartytjies terdeë geniet het – hy het juis die akademiese druk hanteer deur soms pret te hê.

 

Sy akademiese uitslae is dan ook die bewys van sy sukses om ʼn balans te handhaaf. Hy het sy eerste graad met onderskeiding voltooi en is genooi om by die Golden Key International Honour Society aan te sluit.

 

In 2010 het hy ’n BA in geesteswetenskappe voltooi, in 2011 ’n BAHons in sielkunde, en in 2014 ’n BAHons in bedryfsielkunde.

 

 

Koffie en mense: daar is nie ’n beter kombinasie nie!

Napoleon het dit “’n intellektuele drankie” genoem, La Roque het die aroma daarvan geprys as “die koning van parfuum”, en Voltaire het na bewering tussen 50 en 72 koppies per dag gedrink.

Tot vandag toe speel koffie ’n belangrike rol in talle mense se lewens – kyk maar na Hein Pretorius. Hierdie koffieliefhebber van Vanderbijlpark is van mening dat ’n mens nooit die belangrikheid daarvan moet onderskat om “behoorlik gekaffeïeneer” te wees nie!

 

Maak dus vir jou ’n vars pot koffie en lees meer oor Hein se koffie- en professionele reis.

 

’n Passie vir koffie en mense

 

Hein, ’n alumnus van die kampus in Vanderbijlpark, glo daarin om die lewe ten volle te leef, en het ’n onblusbare liefde vir koffie en ’n passie vir mense. Hy is ’n psigometris en organisasie-ontwikkelingskonsultant wat vir homself werk. Hy is ook ’n geesdriftige “koffiepreneur” wat ’n interessante koffiewinkel, The Caffeinated Llama, bedryf.

 

“Die koffiewinkel is ’n prettige omgewing waar ek probeer wegbreek van die eentonigheid van ’n nege-tot-vyf-werk,” sê Hein.

 

The Caffeinated Llama spog ook met ’n “nomadiese kant”, aangesien hy dikwels vir spesiale geleenthede soos troues, musiekfeeste en markte koffie voorsien.Hein verduidelik verder dat The Caffeinated Llama daarop fokus om ’n koffie-ervaring te skep. Deur die plaaslike kunsbakkers, kunstenaars, musikante en koffieroosters te ondersteun, is sy missie om dit ’n leefstylhandelsmerk te maak.

 

Wat sy agt jaar lange konsultasieloopbaan betref, fokus hy veral op psigometriese en loopbaanevaluerings en organisasiefunksionering. Hoewel hy met verskillende maatskappye en bedrywe skakel, is sy groot liefde die restaurantbedryf.

 

Bou ’n koffiekultuur – een koppie op ’n slag

 

Hein het nog altyd van koffie gehou en op een of ander manier geweet dat hy uiteindelik daardie pad sou volg.

 

“Toe ek 10 jaar oud was, het ek my eerste koffiewinkel in ons lapa by die huis oopgemaak. Ek het ’n houtkennisgewing gemaak en dit opgesit, maar nodeloos om te sê, het ek nie ’n baie groot kliëntebasis gehad nie. Ek het twee koppies koffie aan my ouers verkoop voordat ek moes toemaak,” onthou Hein.

 

Sy doel is om te help om ’n ontspanne koffiekultuur te skep deur nog ’n paar koffiewinkels regoor die land oop te maak.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

 

Vinnige feite oor Hein

 

  • Gunstelingkoffiemengsel: The Caffeinated Llama se huiskoffie is ’n gunsteling (Guatemala- en Brasilaanse koffie met ’n bietjie Robusta gemeng), Pastaso van Crater Coffees in Parys, en enige Ethiopiese yirgacheffe-bonemengsel.

 

  • Ander passies benewens koffie? “Ek speel kitaar en muurbal en het twee jaar gelede begin om staproetes aan te pak.”

 

  • Lewensfilosofie: “Dinge sal uitwerk op die manier wat dit moet.”

 

  • Items op sy emmerskoplysie: ’n Reis na Portugal, om in Tahiti met ’n roeibord (paddleboard) te ry, en om die Tankwa Camino in die Karoo te stap.

 

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U