NUUs

Een komponent van die NeuHand-stelsel is ’n eksoskelet wat met ’n 3D-drukker gedruk is.

 

3D-drukwerk is relatief goedkoop en vinnig, wat die NeuHand ’n kostedoeltreffende uitvindsel maak wat beskikbaar sal wees vir mense wat nie duurder toestelle kan bekostig nie. Dit is ook lig, wat pasiënte in staat stel om daarmee te reis.

Prof Leenta Grobler van Ingenieurswese is die leier van ’n span personeel en studente wat sedert 2014 aan die NeuHand-stelsel werk. Sy het ook ’n platform vir die ontwikkeling en kommersialisering van mediese toestelle gekonseptualiseer.

 

Die doelwit van hierdie platform is om samewerking tussen onder andere die Fakulteit Ingenieurswese en die Fakulteit Gesondheidswetenskappe te kry om nuwe produkte vir die plaaslike mark te ontwikkel.

 

“Die idee is om ’n diverse groep rolspelers wat nodig is vir die suksesvolle ontwikkeling van mediese toestelle, bymekaar te kry,” sê  Leenta.

 

NeuHand gaan rehabilitasie ná beroerte verander

Daar is elke dag sowat 360 Suid-Afrikaners wat ’n beroerte kry. Van hulle sterf ongeveer 110 en 90 word met ’n lewensveranderende gestremdheid gelaat, wat beroertes die vernaamste natuurlike oorsaak van gestremdheid onder volwassenes maak.

Een van die lewensveranderende gestremdhede wat die gevolg van ’n beroerte is, is dat die funksionaliteit van pasiënte se hande aangetas word. Gelukkig sal die NWU se NeuHand-uitvinding vir hierdie pasiënte nuwe hoop bied.

 

Die NeuHand-stelsel, wat spesifiek vir rehabilitasie in Suid-Afrikaanse toestande ontwerp is, is ’n goedkoop, outomatiese megatroniese rehabilitasiestelselkonsep wat die Fakulteit Ingenieurswese ontwikkel het. (Megatronika is ’n interdissiplinêre gebied van ingenieurswese wat meganiese en elektriese ingenieurswese en rekenaarwetenskap kombineer.)

 

Die NeuHand is een van verskeie produkte wat tans in die platform vir die ontwikkeling en kommersialisering van mediese toestelle van die Fakulteit Ingenieurswese en die Tegnologie-oordrag en Innovasiesteun-kantoor ontwikkel word.

 

Hoe die NeuHand kan help

 

’n Beroerte is veral rampspoedig omdat die gevolge op die lang duur aftakelend kan wees en ’n hoë vlak van sorg vereis, wat duur kan wees.

“Rehabilitasie is baie doeltreffend om langtermynaantasting te verminder, en verskaf beduidende verbeterde uitkomste vir pasiënte,” sê Ingenieurswese se prof Leenta Grobler.

 

Die nadeel is egter dat die huidige praktyk gewoonlik meer op sommige aspekte van rehabilitasie as op ander fokus.

 

Gedurende die eerste maand ná ’n beroerte, wanneer die pasiënt die meeste potensiaal het om spierfunksionaliteit terug te kry, is die fokus hoofsaaklik daarop om groot motoriese beweeglikheid en spraak terug te kry. Min of geen aandag word gedurende hierdie tyd aan die rehabilitasie van fyn motoriese beweeglikheid gegee.

 

“Dit beteken dat daar ’n dringende behoefte aan ’n rehabilitasiestelsel vir die hande is wat gebruik kan word in die rehabilitasiegeriewe in die hospitaal terwyl die pasiënt nog onder toesig is, asook tuis nadat die pasiënt ontslaan is,” sê Leenta.

 

Die groot potensiële voordele van rehabilitasie, tesame met robotiese tegnologieë en die internet was die inspirasie agter die ontwikkeling van die NeuHand-stelsel.

 

Aangesien die stelsel geoutomatiseer is, kan aanvanklike rehabilitasie onmiddellik ná ’n beroerte plaasvind, en kan die heropbou van neurale bane tussen die brein en die hand kan aan die gang gesit word.

 

Hoe die NeuHand werk

 

Die NeuHand-stelsel bestaan uit ’n meganiese komponent gekombineer met sensors en ’n mikroverwerker (’n klein rekenaartjie) met spesiale sagteware.

Die meganiese deel van die stelsel gebruik sensors om veranderinge in sy omgewing waar te neem en hierdie inligting na die sagteware van die mikroverwerker te stuur, waar dit verwerk word. (Die meganiese deel van die stelsel lyk baie soos ’n eksterne skelet.)

 

Een van die grootste voordele van die NeuHand-stelsel is dat fisioterapeute via die internet toegang tot die verwerkte data kan kry, wat hulle in staat stel om oefeninge voor te skryf. Hulle kan ook deurlopend die pasiënt se vordering oor ’n afstand moniteer.

 

Dit is uiters nuttig, veral by geriewe waar daar min personeel is, aangesien dit tyd bespaar en die fisioterapeut in staat stel om meer pasiënte te help.

 

“Toestelle soos die NeuHand sal ook veral in landelike gemeenskappe nuttig wees, aangesien dit vir pasiënte gebruik kan word wat dalk nie lang afstande kan aflê om klinici te sien nie.  Dit is hoekom ons hoop om hierdie stelsel spoedig te kan bemark,” sê Leenta.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

 

Die viering van klein oorwinnings

 

Oorlewendes van ’n beroerte ervaar ’n gevoel van verlies en hartseer, en dit lei tot depressie.

 

Dit word dikwels vererger as hulle ervaar dat hulle min of geen vordering maak nie. Dit is waar die NeuHand-stelsel kan help.

 

Aangesien die stelsel deurlopend hulle vordering aanteken, sal hulle die klein oorwinnings gedurende hul rehabilitasie kan sien en dit kan vier.

 

 

Die universiteit het nou ’n prototipe van die NeuHand vervaardig. Hierdie prototipe word tans vir verdere ontwikkeling of verbetering, indien nodig, getoets.

Vorige

<

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U