Jess teken

DADE VAN WELWILLENHEID

aan

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Dit is in hierdie tyd noodsaaklik om sosiale ondersteuning en kontak met ander mense te soek, sê dr Jess Auerbach, senior lektor in antropologie op die Potchefstroomkampus.

 

Sy het die oorvloed van ondersteuning onder gewone Suid-Afrikaners gesien en sy en van haar studente het begin om hierdie “mikro-welwillendheid” aan te teken en ’n web te werf skep om dit te dokumenteer.

 

Die webwerf, Archive of kindness, het baie internasionale en plaaslike aandag ontvang. Jess het nou die materiaal in ’n boek omskep. Die titel is ook Archive of Kindness en dit vertel van die klein gebare van welwillendheid tydens die 2020-inperking in Suid-Afrika.

 

Stories van ongelooflike deernis het selfs tydens ons donkerste dae na vore gekom,” sê Jess.

 

Daar is ’n vrou wat vir haar bure se kind deur die heining stories gelees het; ’n tuinier wat na ’n bejaarde vrou toe gegaan het wat alleen op ’n plaas woon, en na haar blomme omgesien het; ’n verpleegkundige wat vir ’n sterwende man Weet-Bix gevoer het tot op die dag dat hy gesterf het; ’n man wat sy Wi-Fi-wagwoord met sy hele buurt gedeel het.

 

Wat ’n lewensveranderende ervaring

 

Verskeie studente wat aan die Archive of Kindness gewerk het, sê dit was vir hulle ’n lewensveranderende ervaring.

 

“Dit het vir my gewys dat die lewe meer is as om net universiteit toe te gaan, ’n werk te kry, te trou en ʼn huishouding te begin,” sê een student. “Dit gaan alles oor hoe jy ander mense behandel en om jou doel in die lewe te vind. Om vir ander om te gee, laat my goed voel – dis asof dit tot my doelwitte bydra en my help om hulle te bereik.”

 

’n Ander student sê sy het geleer dat as sy sekere dinge wil sien gebeur, sy ’n geloofsprong moet waag en dit self aan die gang moet kry.

 

“Toe ek van Archive of Kindness gehoor het, het ek gedink, wow! Hierdie projek het my veral geleer om iets te doen en nie te wag dat iemand anders dit doen nie.”

 

Alles is nie verlore nie

 

Die versameling stories van welwillendheid het hierdie student ook gehelp om die goeie dinge in die land raak te sien.

 

“Baie van Suid-Afrika se inwoners meen ons woon in ’n gewelddadige land, en ’n mens kan so maklik moedeloos word as gevolg van nuusberigte en die talle uitdagings wat ons in die gesig staar, want slegte nuus verkoop koerante.

 

“Daar is egter ook baie goeie dinge, en die doel van die boek is om dit te beklemtoon en vir ons as landsburgers te verseker dat alles nie verlore is nie.”

Die koronaviruspandemie is ’n epidemiologiese en sielkundige krisis. Die geweldige impak wat ’n lewe in afsondering het, het ons daaglikse lewens verander. Dit het werksverliese en finansiële probleme en hartseer oor die dood van geliefdes veroorsaak.

Versamel stories van deernis

Dr Jess Auerbach se boek, Archive of Kindness, is op 15 September 2021 tydens ’n aanlyn gebeurtenis bekendgestel. Daar was ’n bespreking met die skrywer, studente wat by die projek betrokke was, asook internasionale akademici.

 

Jethro Longwe, kunstenaar en pasgegradueerde van die Ruth Prowse-kunsskool in Kaapstad, het die boek geïllustreer.

 

’n Gedeelte van die wins van die verkoop van die boeke en afdrukke van die kunswerke sal aan die materiaalfonds by die Ruth Prowse-kunsskool, asook aan ander verdienstelike sake, geskenk word.

Dr Jess Auerbach, senior lektor in antropologie, sê sy hoop die boek, Archive of Kindness, sal ’n blywende getuie wees van die welwillendheid wat daar in ons jong en kwesbare nasie is, en dat dit ons daaraan sal herinner om altyd in liefde op te tree.

Meer oor Jess

  • Dr Jess Auerbach het van 2007 tot 2008 saam met die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir vlugtelinge in Suid-Afrika en Mosambiek gewerk.

 

  • Jess spog met grade van Oxford en Stanford Universiteit. Sy was 'n Rhodes vakkundige by Oxford waar sy 'n MSc in gedwonge migrasie behaal het. Sy het ook 'n PhD in antropologie van Stanford.

 

  • Sy het nog ’n boek, From Water to Wine: Becoming Middle Class in Angola, gepubliseer (University of Toronto Press: 2020). Die boek is nou in Portugees vertaal en is via oop toegang beskikbaar.

Archive of Kindness vertel van gebare van welwillendheid tydens die 2020-inperking in Suid-Afrika.