van die Jaar
ENACTUS SE NASIONALE ADMINISTRATEUR
Lerato is
Dosent Lerato Mohalajeng het ’n nasionale toekenning van Enactus Suid-Afrika ontvang vir die manier waarop sy as mentor optree vir die NWU se Enactus-groep om met entrepreneursidees vorendag te kom en dit uit te voer.
Enactus: Erkenning vir goeie werk
Enactus SA gee deur die Administrateur van die Jaar-toekenning erkenning aan adviseurs wat ’n uitmuntende taak verrig het om die Enactus-span by hulle universiteite te ondersteun.
Die kriteria vir die toekenning is doeltreffendheid en koördinasie, spanbestuur, kommunikasie, leierskap en professionalisme in die hantering van kwessies rakende Enactus en die universiteitspan.
Enactus is ’n internasionale netwerk van studente, akademici en sakeleiers wat daartoe verbind is om deur middel van innovering en entrepreneurskap ’n beter wêreld te skep.
Die organisasie mobiliseer universiteitstudente van regoor die wêreld om die kennis wat hulle in die klaskamer opdoen, te gebruik om werklike sake- en ekonomiese kwessies in hulle gemeenskappe te hanteer.
Lerato, ’n dosent aan die Skool vir Bestuurswetenskappe en die medefakulteitsadviseur van Enactus, is deur Enactus Suid-Afrika as Administrateur van die Jaar 2021 aangewys. Die Suid-Afrikaanse organisasie is deel van die wêreldwye Enactus-organisasie wat die mag van entrepreneursoptrede gebruik om lewens te verander.
Altesaam 27 Enactus-spanne van universiteite regoor die land het die afgelope jaar deurgebring om idees in aksie om te skakel en so die lewensbestaan van ander te verbeter. Lerato het die toekenning ontvang as erkenning vir haar pogings om die universiteit se span te lei en as mentor op te tree.
Deur haar toewyding het die universiteit ook beter presteer in vanjaar se kompetisie. Die NWU het in die topvyf geëindig nadat hulle die eerste plek in twee spesiale Enactus-kompetisies behaal het – die eerste keer sedert die totstandkoming van Enactus NWU in 2010.
Wat ’n aangename verrassing
Die Administrateur van die Jaar-toekenning het Lerato en haar span verras nadat hulle verskeie uitdagings moes oorkom, veral tydens die Covid-19-pandemie. “Die reis was egter uiters bevredigend, vir my sowel as die Enactus-studente,” sê sy.
“Dit was werklik vir my ’n lonende ervaring, nie net in my rol as mentor vir die studente nie, maar ook om by die wêreldwye Enactus-netwerk betrokke te wees. Ek het beslis nie gedink ek sal ’n toekenning wen nie! Om as die administrateur van die jaar aangewys te word, het my verseker dat ons harde werk die moeite werd was en dat dit nie ongemerk verbygegaan het nie.”
Sazi Gcume, seremoniemeester by Enactus Suid-Afrika se nasionale kompetisie, het gesê: “Sy het aktief aan die span se opleiding en aan al die kompetisies deelgeneem, en haar persoonlike hulpbronne en tyd gebruik om te verseker dat die span hulle doeldatums bereik.
“Haar pogings het daartoe gelei dat haar span by verskeie kompetisies regdeur die jaar die eerste plek behaal het. Baie geluk, Lerato. Ons hoop dat dit ’n voorbeeld vir baie ander sal wees.”
Goeie idees word nie in groot innoverings omskep tensy hulle doeltreffend en professioneel bestuur word nie, en niemand doen dit beter as Lerato Mohalajeng nie.