X

Profiel

Alumnus Lesley Lehlohonolo Mofokeng sê die grootste hoogtepunt van sy loopbaan as joernalis was ’n ontmoeting met Nelson Mandela.

“Dalk het die tweede plek naas die ontmoeting met Nelson Mandela gegaan aan die onderhoud met Sophiatown se goue meisies, Miriam Makeba, Dolly Rathebe, Sophie Mgcina en Thandi Klaasen, in hulle latere lewe – dit was nog ’n belangrike mylpaal.”

Plattelander blink uit in glansjoernalistiek

Toe hy destyds in die ry gestaan het om by die voormalige Universiteit van Bophuthatswana (UNIBO) te registreer, het Lesley Lehlohonolo Mofokeng ietwat geïntimideerd gevoel deur sy meer gesofistikeerde makkers.

Vandag, sowat 20 jaar later, is hy duidelik in beheer van wat hy doen. Daarvan getuig sy onderhoude met mense soos Will Smith en Oprah Winfrey en die feit dat hy medeskrywer is van die biografie van die plaaslike glanspersoonlikheid, Khanyi Mbau.

 

“Dit het nogal lank geduur om hierdie gevoelens van ontoereikendheid te hanteer, maar ek het altyd die raad onthou wat ek van die destydse visekanselier van die instelling, prof Recias Malope, ontvang het. Hy het gesê ’n mens moet jou pogings in alles wat jy doen verdriedubbel om suksesvol te wees,” sê Lesley.

 

Lesley is op 15 Junie 1976 in Katlehong aan die Oos-Rand gebore en is nou ’n bekroonde joernalis en popkultuur-ghoeroe wat al met beroemde persone van regoor die wêreld onderhoude gevoer het.

 

Lesley het in 1996 ’n BA-graad in kommunikasie van UNIBO ontvang, gevolg deur ’n BAHons in 1997 met gedruktemediajoernalistiek as sy hoofvak. Hy het later ’n mediabestuursprogram aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.

 

Trotse ouers

 

Hoewel Lesley in Katlehong gebore is, het hy by sy grootouers in ’n dorpie buite Mahikeng grootgeword. Daar het hy skoolgegaan en toe met sy tersiêre studies begin by wat nou die Noordwes-Universiteit is.

 

Hy onthou sy ervaring op die NWU se kampus in Mahikeng as ’n ware openbaring en ’n tyd waar hy blootgestel is aan eindelose moontlikhede buite die bekende omgewing waarin hy grootgeword het.“Een van my beste herinneringe is aan die dag in 1997 toe ek my graad gekry het. Om daar op die podium te staan en my ma en my ouma in die skare te sien waai en ululeer, het my met trots en ’n gevoel van sukses gevul. Ek het besef dat, hoewel ek van ’n klein dorpie in Lotlhakane kom, ek my doelwitte bereik het en nie my ouers teleurgestel het nie,” sê Lesley.

 

Die jaar nadat hy sy honneursgraad voltooi het, het Lesley as junior verslaggewer by die Sunday Times ervaring opgedoen deur hofverrigtinge te dek. In 1999 het hy by dieselfde publikasie aanbeweeg na die vermaak- en leefstylafdeling, waar hy oor die jongste nuus oor glanspersoonlikhede moes verslag doen. Hy het ook van tyd tot tyd stories van algemene belang vir die hoofkoerant geskryf.

 

In 2000 het die radiogogga gebyt en het Lesley ’n ander uitdaging aangepak. Hy het ’n gasaanbieder by ’n klompie radiostasies geword, onder meer Metro FM (met Penny Lebyane), YFM (met Rudeboy Paul) en Motsweding FM (met Goitsemodimo Seleka en Alpheus Koonyaditse).

 

Skuur skouers met bekendes

 

Die grootste hoogtepunt van sy loopbaan as joernalis was ’n ontmoeting met Nelson Mandela. “Kan jy jou indink om die wêreldberoemde vryheidsvegter-tot-president van daardie tyd te ontmoet? Dit was werklik ’n grootse ervaring.

 

“Toe kry ek die geleentheid om onderhoude te voer met van Hollywood se beste sterre, insluitende Will Smith en Oprah Winfrey, en die voorste sportvrou van ons tyd, Serena Williams. Ek het ook onderhoude gevoer met beroemde musici soos Regina Belle, Mary J Blige en die held van my kindertyd, Tevin Campbell,” onthou Lesley.

 

Hy het onlangs die nasionale blitsverkoper, die biografie van die mediapersoonlikheid, Khanyi Mbau, geskryf, Die titel daarvan is Bitch, I’m Khanyi Mbau. Ná die sukses van sy debuutprojek as medeskrywer, gaan Lesley sy tweede boek as medeskrywer die lig laat sien, hierdie keer saam met Somizi Mhlongo. Die titel daarvan is Dominoes: The Unbreakable Spirit, en dit is in Mei 2017 vrygestel.

 

 

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

NWU & U  |

NWU & U  |