X

Nuus

Talentfees spog met die beste van die bestes

Dit was ’n aand van ongelooflike optredes, genotvolle klassieke werke en buitengewone talent. Die 34ste Pukki Talentfees was nie net ’n platform vir studente om hul talent te vertoon nie, maar ook vir personeel om met vermaaklike en inspirerende optredes uit te blink.

Die jaarlikse fees, wat deur NWU Puk-Kunste en die Studenteraad se Kunsteraad op die kampus in Potchefstroom aangebied word, het van 10 tot 12 Mei plaasgevind.

 

Die algehele wenner van die kontemporêre afdeling vir uitvoerende kunste en wenner van die Rektorstrofee was Aobakwe Gwendeline Sehoole, wat ook die kontemporêre solostem-kategorie gewen het.

 

Sibusiso Simelane het die Rektorstrofee as die algehele wenner van die afdeling vir klassieke uitvoerende werk opgeraap. Hy het ook die klassieke stemkategorie vir solo-optredes gewen.

 

Behalwe die kategorieë vir uitvoerende kunste, kon studente kreatiewe kunswerke soos skilderye, grafiese ontwerpe, beeldhouwerke, poësie en prosa in die kategorie vir skeppende kunste inskryf.

 

Gretchen Crots, die algehele wenner van die kuns en ontwerp-kategorie, het ook die Visekanselierstrofee as die algehele wenner van die kreatiewe afdeling gewen, terwyl Ernest Else in die kategorie vir oorspronklike skryfwerk die Protea-boekwinkelprys vir poësie en prosa gewen het.

 

Constant van Graan, ’n dosent in forensiese rekenmeesterskap, het in die personeelkategorie met die louere weggestap.

 

Lizz Meiring, ’n doyenne van televisie, teater en film, was die seremoniemeester voor ’n lewendige en entoesiastiese skare in die Sanlam-ouditorium.

 

’n Paneel vol sterre beoordeel

 

Die beoordelaars het Mynie Grové, beroemde sanger en liedjieskrywer, Stefan Enslin, alumnus van die NWU en vervaardiger van die films Strikdas en Nul is nie niks nie, ingesluit.

 

Mynie was veral beïndruk met die talent van die studente en die lewendige orkes. Stefan sê hy was verstom oor die hoë standaard van elke optrede. Die beoordelaars van die kontemporêre kategorieë het Nkosinati Tom, Louis Nigrini en verlede jaar se wenner in die personeelkategorie, Rochelle Langford, ingesluit.

 

Jaco van der Walt, direkteur van NWU Puk-Kunste, het al die personeel, studente en lede van die gemeenskap bedank wat hierdie jaar se gebeurtenis bygewoon het. “Ons sien daarna uit om almal weer volgende jaar te verras met al die wonderlike talent op die kampus.”

 

Sit nou agteroor en geniet die optredes van sommige van ons kategoriewenners:

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

 

NWU & U  |

NWU & U  |