X

NUUs

CP Kloppers, ʼn dosent in meganiese ingenieurswese, verduidelik hoe die 3D-drukker voorwerpe laag vir laag skep.

Ontdek die wonders
van 3D-drukwerk

Ons leef in ’n vinnig-veranderende wêreld waar gister se wetenskapsfiksie vandag se werklikheid word. Verbeel jou jy kan met die druk van ’n knoppie enigiets wat jy nodig het of wil hê, onmiddellik skep – van noodsaaklike onderdele vir toestelle tot speelgoed en selfs plastiekblomme.

Dit hoef nou nie net meer ʼn verbeeldingsvlug te wees nie – met 3D-drukwerk is enigiets moontlik. Die NWU & U het die Skool vir Meganiese en Kerningenieurswese op die NWU se kampus in Potchefstroom besoek en ’n wonderlike wêreld van moontlikhede ontdek.

Onlangse mediaberigte het voorspel dat 3D-drukwerk met die groot vordering op die gebied só bekostigbaar en maklik sal word om te gebruik dat die gemiddelde huishouding in die afsienbare toekoms sy eie 3D-drukker sal hê.

 

CP Klopper, dosent in meganiese ingenieurswese, sê dit sal ’n baie groot moontlikheid wees as 3D-drukkers meer gesofistikeerd en geredelik beskikbaar raak.

 

Alles begin met ’n goeie ontwerp

 

CP verduidelik dat die 3D-drukproses met ’n ontwerp begin wat op die bepaalde behoefte gebaseer is. “Ons het uitstekende sagteware wat ons gebruik om 3D-modelle te skep. Die sagteware gee aan ons standaard geometriese vorms wat aangepas kan word om feitlik enigiets te skep.”

 

Daar is egter ook ander oplossings vir diegene wat dit nie wil waag om self hul ontwerpe te maak nie. Hy sê 3D-skandering is ’n doeltreffende manier om voorwerpe te dupliseer. Dit behels die skandering van ’n vervaardigde voorwerp sodat dit deur die 3D-drukwerksagteware pasgemaak, of gerepliseer kan word.

 

Die 3D-wêreld is ’n opwindende plek met entoesiaste wat al hoe meer maniere kry om kreatief te wees en hul ontwerpe te deel.

“Daar is ook webwerwe met vryware (freeware) wat jy kan aflaai, soos thingiverse.com, waar die 3D-gemeenskap modelle van amper enigiets deel.

 

As jy byvoorbeeld ’n speelding wil druk, het jy gratis toegang tot template van enigiets van Smurfs tot Star Wars-figure.”

 

’n Bekostigbare manier om voorwerpe te skep

 

CP sê dat die vesels (filament) wat vir die drukwerk gebruik word baie bekostigbaar is. “Dit kos ongeveer R200 per kg, en as jy in ag neem dat ’n gemiddelde selfoonomslag byvoorbeeld ongeveer 15 g weeg, is die koste om só ’n item te druk baie minder as om die produk by ’n handelaar te koop.” Behalwe hierdie vesel wat in verskillende kleure beskikbaar is, kan ander materiale soos koolstofvesel, veselglas en metaalpoeier ook vir die drukwerk gebruik word.

 

Die 3D-drukkers self word ook baie meer bekostigbaar.

Hy sê ’n standaard-3D-drukker van ’n goeie gehalte het aanvanklik tussen R3 miljoen en R5 miljoen gekos, maar hierdie drukkers kan nou vir so min as R30 000 gekoop word.

 

Baie vinniger as wat jy dink

 

Hoewel dit baie tydrowend kan wees om 3D-voorwerpe laag vir laag te skep, is dit baie vinniger as wat ’n mens dink. Afhangend van die voorwerp kan dit enigiets van ’n paar uur tot meer as ’n week neem om ’n voorwerp te druk. Hy sê die druk van kleiner voorwerpe soos sokke kan ongeveer 18 uur neem, terwyl 15 meter lange windturbine-lemme ’n week of langer nodig het om gedruk te word.

 

“Letterlik enigiets kan met 3D-drukwerk geproduseer word. Dit is ’n opwindende wêreld met vele moontlikhede – as jy dit kan visualiseer, kan jy dit skep – lagie vir lagie. Die toekoms gaan ’n opwindende plek word,” sluit CP af.

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

Kyk na die video om meer oor 3D-drukwerk te leer.

NWU & U  |

NWU & U  |