X

Nuus

previous

<

Prof Ludo Cuyvers ontvang sy eredoktorsgraad van prof Susan Visser.

Wêreldbekende kundiges ontvang
eredoktorsgrade

Die NWU het onlangs eredoktorsgrade aan twee internasionaal-bekende uitblinkers, ’n regskundige en ’n ekonoom, toegeken.

Adv Altus Joubert SC en prof Ludo Cuyvers van België is by die doktorale seremonie op die NWU se kampus in Potchefstroom vereer.

 

Adv Joubert se Doctor Legum (Honoris Causa) is toegeken vir sy uitnemendheid as regspraktisyn, sy bydrae tot die reg en die spesiale band wat hy met die akademie het – veral met die NWU se Fakulteit Regte. Hy is nóú betrokke by die LLM-program oor invoer- en uitvoerreg en by nagraadse studente op die gebied van internasionale handelsreg.

 

Optredes regoor die wêreld

 

Daarby is adv Joubert een van slegs ’n paar Suid-Afrikaanse advokate wat daarop kan aanspraak maak dat hy internasionale blootstelling gehad het deur sy konsultasies en optrede as ’n advokaat in Hongkong, Australië, Singapoer, Taiwan, Brittanje, Ierland, Frankryk, Duitsland, Nederland, België, die VSA, die Volksrepubliek China en verskeie Suider-Afrikaanse lande.

 

Hy het ook ’n indrukwekkende akademiese loopbaan, nie alleen as buitengewone professor in regte aan die NWU sedert 2001 nie, maar ook by die Universiteit Stellenbosch (2001 tot 2004). Hy was besoekende professor in regte aan die Universiteit van Mongolië, die Staatsuniversiteit van Ryazan (Rusland), Odessa Nasionale Regsakademie (Oekraïne) en die Staatsuniversiteit van Sint Petersburg (Rusland).

 

Spesialisering in doeane- en aksynsreg

 

“Een van sy belangrikste prestasies is dat ’n groot persentasie van die jong prokureurs wat in doeane- en aksynsreg spesialiseer, en wat óf in privaat praktyk is, óf as werknemers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens werk, hul opleiding by hom ontvang het,” het prof Nicola Smit, die voormalige dekaan van die Fakulteit Regte op die kampus in Potchefstroom, gesê.

 

Adv Joubert is aktief betrokke in die gemeenskap en is ook ’n internasionaal-bekende teler van volbloedperde. Verder is hy ook ’n lid van die SA Olyfbedryfvereniging en in 2015 is sy olyfolie as een van die topvyf-olyfolies in die land aangewys.

 

Op die voorpunt van die uitvoersektor

 

Die ander ontvanger van ’n eretoekenning, prof Cuyvers, is ’n bekroonde ekonoom in internasionale handel en ’n vooraanstaande gesaghebbende oor die rol van uitvoerbevordering in die bou van ’n kompeterende en volhoubare uitvoersektor.

 

Hy het die eredoktorsgraad ontvang vir sy akademiese vaardighede, goeie reputasie in internasionale akademiese kringe, en sy blywende belangstelling in Suid-Afrika se uitvoerontwikkelingspogings.

 

’n Baanbrekersmodel

 

Prof Cuyver is ook vereer vir sy bydrae tot die ontwikkeling van bekend as die TRADE-DSMTM (Decision Support Model), in internasionale handel en ontwikkeling.

 

Sy verbintenis met die NWU, en die TRADE-navorsingsentiteit in die besonder, het vroeg in 2000 begin met ’n baanbrekersprojek om die DSM, ’n uitvoermark-keuringsinstrument wat in sy tuisland, België, geïmplementeer is, volgens Suid-Afrika se spesifieke omstandighede aan te pas.

 

Hierdie praktiese en wetenskaplik-gegronde instrument word deur nasionale en provinsiale regerings asook privaat instansies (in Suid-Afrika en ook in ander dele van die wêreld) gebruik om realistiese uitvoergeleenthede haarfyn te identifiseer uit die berge inligting wat oor verskillende produkkategorieë en markte beskikbaar is.

 

Gee jong loopbane ’n hupstoot

 

Deur sy betrokkenheid by die NWU help prof Cuyvers om die kennis en vaardighede van jong gegradueerdes en akademici aan die NWU te bevorder sodat hulle tot in die verre toekoms ’n betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling kan maak.

 

Hy is tans die direkteur van die sentrum vir die Association of Southeast Asian Nations Studies en emeritus professor aan die Universiteit van Antwerpen in België. Prof Cuyvers is ook die voorsitter van die European Institute for Asian Studies en ’n lid van die Council of Fellows, East Asian Economic Association.

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

Adv Altus Joubert is een van die twee ontvangers van eredoktorsgrade. Saam met hom is prof Fika Janse van Rensburg.

next

>

NWU & U  |

NWU & U  |