X

Redaksioneel

Prof Dan Kgwadi

Boodskap van

die visekanselier

Beste alumnus

 

Ek was onlangs by ʼn NWU-gradeplegtigheid in Durban. Die meeste van hierdie oopafstandsleergraduandi was nog nooit op enige van ons drie kampusse nie, maar vandag is hulle alumni van die NWU.

 

Ek wil graag hierdie en ander nuwe alumni van die NWU verwelkom. Julle is nou deel van die groeiende NWU-familie.

 

Die NWU het vandag meer as 70 000 studente, wat beteken dat ons die tweede-grootste universiteit in Suid-Afrika is. Ons het jaarliks ongeveer 50 gradeplegtighede regoor die land en in die buiteland.

 

Dit beteken dat ons invloed as ʼn universiteit by die dag groter word. Ons is ook op die voorpunt van die uitbreiding van toegang tot hoër onderwys via ʼn verskeidenheid tegnologiebemiddelde afleweringsmodusse. (Hiermee bedoel ons ʼn verskeidenheid maniere van klasgee word deur gevorderde tegnologie moontlik gemaak.)

 

Suid-Afrika het ongetwyfeld meer graduandi nodig, wat nie almal deur residensiële universiteite (universiteite met kontakstudente) gelewer kan word nie. Goedkoper, meer toeganklike afleweringsmodusse is nodig, en dit is presies wat ons suksesvol doen.

 

“Hierdie voortgaande ontwikkeling sluit aan by ons verbintenis om voort te gaan met die uitbou van die NWU as ʼn unitêre instansie van hoogstaande akademiese uitnemendheid, met ʼn verbintenis tot maatskaplike geregtigheid.”Een gevolg hiervan is die toenemende diversiteit van studente wat deur die NWU studeer. Ek verwelkom dit. Ons het ʼn Suid-Afrikaanse universiteit geword met ʼn voetspoor regoor die land en in alle gemeenskappe.

 

Dit gaan steeds goed met die universiteit as geheel – ten spyte van die afgelope maande se probleme. Ons hou ons oë op die bal, naamlik ons kernbesigheid van onderrig-leer, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid.

 

Ek kan met vrymoedigheid byvoeg:

 

  • Ons is steeds een van die land se bes bestuurde hoëronderwysinstellings.

  • Ons personeel, studente en alumni blink steeds op verskeie vlakke van die akademie en die professionele wêreld uit.

  • Ons is trots op ons diverse personeelkorps en studentebevolking en wil graag ʼn betekenisvolle bydrae tot nasiebou lewer.

  • Ons streef daarna om maatskaplike geregtigheid te bevorder, byvoorbeeld deur die bevordering van ʼn kultuur van menseregte en nierassisme op ons  kampusse, en die verwydering van dinge wat toegang bemoeilik.

 

Ons gaan voort om ʼn belangrike wegspringplek vir duisende studente te bied in die bereiking van hul potensiaal.

 

Vriendelike groete,

Prof Dan Kgwadi

Visekanselier

 

 

NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

NWU & U  |

inhoud

inhoud

NWU & U