X

nuus

Die meerderheid jongmense is ná matriek slaggereed om met hul universiteitstudies te begin, veral in die lig van die goeie ondersteuning wat die NWU gedurende hul eerste jaar aan hulle bied. Tog is daar ander wat om verskeie redes by ʼn wegbreekjaar tussen matriek en hul eerste studiejaar kan baat vind.


Let op hierna

 

Maar hoe weet jy as ouer of jou kind ná matriek ʼn wegbreekjaar nodig het? Karen sê moontlike redes om ʼn wegbreekjaar te oorweeg, is die volgende:

 

Onsekere persoonlike identiteit. “Dit is nou wanneer skoolverlaters nie ʼn duidelike beeld van hul persoonlike voor- en afkeure het nie. Hulle is dikwels afhanklik van hul ouers en maats en sukkel om self rasionele besluite te neem.”

 

• Beroepsonsekerheid. “Die beroepkeuse-begeleiding wat op skool verskaf word, voldoen nie altyd in almal se behoeftes nie en laat baie kinders verward en onseker voel.”

 

• Weerstand teen verdere studies. “Sommige kinders wil baie graag ʼn jaar sonder studies hê en bied weerstand teen enige onmiddellike verdere studies.”

 

• Nog nie gereed nie. “Daar is ook kinders wat net nie gereed voel om verder te studeer nie.”

 

Wegbreekjaar kan

wrede werklikheid kortwiek

Jy vergeet amper om by die stopstraat te stop toe jou spruit een oggend op pad skool toe van die agterste sitplek af aankondig: “Ma, ek wil eers ʼn gap-jaar ná matriek vat.”

ʼn Wegbreekjaar? Wat op aarde nou, my liewe kind?

 

Wel, dié gedagte is dalk nie so vreemd as jy die werklikheid in die hoëronderwyssektor in ag neem nie. Van die studente wat aan die begin van 2013 met blink oë en groot toekomsplanne vir die eerste keer vir voorgraadse studie by Suid-Afrikaanse universiteite geregistreer het, het 18,8% opgeskop en nie die volgende jaar teruggekeer nie.

 

Daar is natuurlik ’n groot verskeidenheid redes waarom eerstejaars nie die mas opkom nie. Van die sondebokke kan ’n halfmas-hoërskoolopleiding wees, verkeerde beroeps- of vakkeuses of bloot omdat die groot wêreld buite die huis die groentjie onkant betrap en oorweldig.

 

Nes daar baie redes is, is daar ook baie moontlike oplossings, byvoorbeeld die wye reeks ondersteuningsdienste wat die NWU aan eerstejaarstudente bied. (Lees meer hieroor).

 

In die geval van jongmense soos jou spruit, wat werklik nie gereed is vir universiteitstudies nie, is ’n wegbreekjaar waartydens hulle hulself en die wêreld kan ontdek voor hulle universiteit toe gaan, dalk nie so ʼn slegte idee nie.

 

ʼn Lekker la-a-ang vakansie?

 

Pasop net: jou idee van so ʼn wegbreekjaar kan dalk hemelsbreed verskil van jou spruit se visioene van leeglê en niksdoen.

 

Dr Karen van der Merwe van die Skool vir Gedragswetenskappe in die Fakulteit Geestes- en Sosiale Wetenskappe op die NWU se Vaaldriehoekkampus sê ouers en kinders moet duidelik ooreenkom wat hulle as ’n wegbreekjaar beskou.

 

“Oor die algemeen beskou mense dit as ʼn tydperk – ʼn jaar of selfs twee – tussen skool en universiteitstudie wat gebruik word vir reis en werk,” sê sy.

“ ʼn Belangrike kenmerk wat ʼn wegbreekjaar van ʼn verlengde vakansie onderskei, is dat jongmense hulle met betekenisvolle aktiwiteite besig hou.” Moontlikhede hiervan is om te begin werk, om militêre diensplig of religieuse dienswerk te doen, of om in te skryf vir selfontwikkelingsprogramme.

 

Suid-Afrikaanse navorsing dui daarop dat ʼn wegbreekjaar – veral wat die ontwikkeling van sogenaamde sagte vaardighede betref – voordelig is.

 

Karen sê jongmense leer hulself beter ken en hul selfbeeld, deursettingsvermoë, besluitnemingsvaardighede en selfmotivering verbeter. Hulle word ook meer verantwoordelik en kan daarom hul vryheid beter bestuur.

 

Alumna glo ook aan wegbreek

 

Nog iemand wat glo ʼn wegbreekjaar kan die wrede werklikheid van eerstejaars wat opskop help voorkom, is Potchefstroomkampus-alumna, dr Hanri de la Harpe, wat haar doktorsgraad in kreatiewe denke aan die NWU verwerf het en ook 11 jaar lank ʼn dosent op dié kampus was.

 

Hanri is hoof van die Equilibria School of Life in Potchefstroom wat ʼn kursus aanbied om jongmense te help om hul nis in die lewe te vind en hulle selfstandig te maak.

 

Dié kursus is Hanri se breinkind en fokus op denkvaardighede soos emosionele intelligensie, positiewe denke en studievaardighede, asook sosiale en finansiële vaardighede, gesonde leefstylgewoontes, tydsbestuur, noodhulp, verhoudings, avontuurkampe en gemeenskapswerk.

 

Hanri sê ’n ‘asemskepjaar’ kan jongmense ook help om op ’n rustiger, meer ingeligte wyse ’n loopbaankeuse te maak terwyl hulle ook ander noodsaaklike lewensvaardighede aanleer.

 

“Ons dra aan jongmense die kennis oor wat ’n volwassene op 45 het, maar eintlik reeds op 18 nodig kry. Ons dink aan die program as ’n ‘crash course in life’,” sê Hanri.

 

 

NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Dr Hanri de la Harpe (links) en dr Karen van der Merwe.


Bronne

 

Coetzee, M. & Bester, S. (2009). The possible value of a gap year: A case study. South African Journal of Higher Education 23(3), 608-623

 

Greffrath, G. & Roux, C. J. (2012). The effect of a gap year with selected adventure-related activities on certain personal competence-related factors on school graduates. African Journal for Physical, Health Education, Recreation and Dance (Supplement 1:2), 460-473

 

Nieman, M. (2010). Hoëronderwysstudente se persepsies van die invloed van ʼn wegbreekjaar op hul persoonlike ontwikkeling. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 50(1), 119-133

 

 

NWU & U  |

Die meerderheid jongmense is ná matriek slaggereed om met hul universiteitstudies te begin, veral in die lig van die goeie ondersteuning wat die NWU gedurende hul eerste jaar aan hulle bied. Tog is daar ander wat om verskeie redes by ʼn wegbreekjaar tussen matriek en hul eerste studiejaar kan baat vind.