X

nuus

Elmarie de Beer, uitvoerende direkteur vir finansies en fasiliteite by die NWU.

V: Wat is die effek van die 0%-verhoging op die NWU se begroting vir 2016?
A:
Ons het oorspronklik vir ʼn 9,5%-verhoging in klasgelde begroot. Die 0%-verhoging beteken dat ons ʼn tekort van R178,9 miljoen op ons begroting vir 2016 gehad het.

Van hierdie bedrag het die regering net R134,2 miljoen (75% van die tekort) betaal, terwyl ons self die oorblywende R44,7 miljoen moet opdok.

Balanseer die
NWU se boeke?

Wat was die uitwerking van die onlangse "Fees Must Fall"-veldtog en die gevolglike 0%-verhoging in klasgelde op die NWU? Hoe hanteer die universiteit dit? Kan die boeke darem nog gebalanseer word?

 

Baie van ons alumni is waarskynlik bekommerd hieroor. Ons het vir Elmarie de Beer, uitvoerende direkteur vir finansies en fasiliteite by die NWU, gevra om ons meer te vertel oor wat die universiteit doen om hierdie uitdagings die hoof te bied.

V: Watter gevolge hou die 0%-verhoging vir die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor in?
A:
Die 2016-tekort vir die hele sektor is ʼn geskatte R2,3 miljard. Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het R1,9 miljard van hierdie bedrag bygedra. Dit beteken dat die universiteite sélf met R394,7 miljoen vorendag moet kom.

 

V: Wat is die praktiese implikasies daarvan vir die NWU?
A:
Dit beteken dat ons ons begroting moes aanpas om op te maak vir die tekort.

 

V: Watter begrotingsitems is daardeur geraak?
A:
Daar is nou minder geld beskikbaar vir infrastruktuurprojekte en personeelkostes soos die jaarlikse lewenskosteaanpassing, bonusse en nuwe aanstellings.

 

V: Watter langtermyngevolge kan dit alles vir die NWU inhou?
A:
Ongelukkig sal daar minder geld beskikbaar wees vir groei. Sonder geld om ons fasiliteite uit te brei en meer personeel aan te stel, sal dit byvoorbeeld moeilik wees om al hoe meer studente toe te laat.

 

Dit is ook nog nie duidelik óf en in watter mate die regering toekomstige jaarlikse klasgeldstygings gaan reguleer nie.

 

V: Waarom is dit nodig om klasgelde elke jaar te verhoog?
A:
Die vernaamste rede vir die jaar-op-jaar-verhoging in klasgelde is die jaar-op-jaar-afname (in reële terme) in subsidie van die regering en NSFAS-befondsing. (NSFAS is die National Student Financial Aid Scheme.)

 

Hoëronderwysinflasie is ongeveer 2% hoër as die verbruikersprysindeks. Aangesien die staatsubsidie nie tred gehou het met hoëronderwysinflasie en die jaarlikse groei in die sektor nie, móés instansies klasgelde elke jaar verhoog om ten minste ʼn gedeelte van die tekort aan te vul – tot op ʼn punt waar dit nou die hele sektor ontwrig het.

 

Dieselfde geld vir die jaar-op-jaar-afname (in reële terme) in NSFAS-befondsing, wat beteken dat al hoe minder studente elke jaar gehelp kan word.

 

V: Maar het NSFAS nie vir die universiteit meer geld gegee nie?
A:
Ja, hulle het vir ons vanjaar R104 miljoen ekstra gegee, maar dis geld wat bedoel is om studente te help, nie om begrotingstekorte aan te vul nie. En inderwaarheid is dit net ʼn vereffening van historiese skuld.

 

V: Wat is hierdie ‘historiese skuld’?
A:
Dit verwys na studente wat met eie fondse begin studeer het terwyl hulle vir hul NSFAS-beurse gewag het wat toe nooit gematerialiseer het nie. Die ekstra geld wat ons nou van NSFAS ontvang het, stel kwalifiserende studente met uitstaande skuld vir 2013, 2014 en 2015 in staat om hul studies in 2016 voort te sit.

Verder het dr Blade Nzimande, minister van Hoër Onderwys en Opleiding, aangekondig dat nuwe studente wat vir NSFAS-fondse kwalifiseer, toegelaat moet word om te registreer vir 2016 terwyl bykomende befondsing gesoek word. Intussen moet die NWU instaan vir die geld wat aan studente toegewys is, wat ons kontantvloei onder ontsettende druk plaas.

 

V: Hoe lyk die finansiële toekoms vir hoër onderwys in Suid-Afrika?
A:
Aan die een kant sal die bestuursliggame van universiteite innoverende maniere waarop ons hoër onderwys in die toekoms kan verskaf en bestuur moet vind. Aan die ander kant sal die regering met ʼn lewensvatbare nuwe befondsingsmodel vorendag moet kom.

 

In kort: ons moet hande vat. Dit is nie iets wat óf universiteite óf die regering op hul eie sal kan regkry nie – selfs studente behoort deel te raak van hierdie spanpoging.

 

V: Het hierdie donker wolk enigsins ʼn silwer randjie?

A: Die NWU het gelukkig ʼn baie bevoegde span finansiële kundiges – ons doen ons bes om die situasie te bestuur. Verder kan ek julle verseker dat die universiteit en die regering gereeld samesprekings voer om finansiële oplossings te vind.

 

V: Wat kan alumni doen om te help?
A:
Donasies is altyd welkom – nou selfs meer as in die verlede. Dit is duidelik dat ons nie nét kan staatmaak op subsidies, klasgelde of die inkomste wat ons van besigheids- en kommersialiseringsbedrywighede ontvang nie. Ons moet meer en meer eksterne befondsing kry om te kan oorleef en floreer.

 

 

NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

NWU & U  |