DIE NWU & U
Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.
Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.
Navigasie
>
<
volgende artikel
vorige artikel
klank
video
meer inligting
klik
deel
So ’n saadjie is net meer as 100 jaar gelede – in 1919 – geplant toe die Departement van Biologiese Vakke gestig is as een van die heel eerste akademiese eenhede van die destydse “Het Potchefstroom Universiteitskollege voor Christelik Hoger Onderwijs”.
Nou bekend as die Skool vir Biologiese Wetenskappe, en bestaande uit die Dierkunde- en Plantkunde-vakgroepe, staan hierdie vroeë departement vandag op sy eie bene.
Die NWU & U het in die argiewe gaan rondkrap en ’n paar interessante geskiedkundige mylpale en feite oor die skool en elkeen van hierdie vakgebiede opgediep. Die fokus in hierdie uitgawe is op Plantkunde.
Die vroeë jare
Lank gelede was daar geen moderne laboratoriums en toerusting soos dié waaraan studente vandag gewoond is nie. Dit beteken egter nie dat die departement se vroeë jare minder gedenkwaardig was nie.
Aanvanklik is lesings en praktiese werk in die stalle van die destydse presidensiële woning van MW Pretorius – vandag die President Pretorius Museum – in Potchefstroom aangebied.
Die formele bekendstelling van plantkunde en dierkunde as vakke binne die Departement van Biologiese Vakke het in 1920 plaasgevind, en Sieg Eiselen is aangestel om albei hierdie vakke te onderrig.
Die departement is drie jaar later verskuif na waar die Totius-saal op die Potchefstroomkampus is, en tydelike laboratoriums is ingerig in die ou sinkgebou van die militêre kaserne wat in onbruik verval het.
Baanbrekerwerk: Plantkunde se pioniers
Die heel eerste toegewysde plantkunde-dosent was Mildred Radloff, wat in 1925 aangestel is. Toe sy in 1930 met JP van der Merwe (later professor) trou, is sy gedwing om te bedank, aangesien protokol voorgeskryf het dat getroude vroue nie toegelaat is om klas te gee nie!
Tot vandag toe word die nagedagtenis vereer van “Tannie Millie”, wie se erflating in 1997 die Mildred van der Merwe-Radloff-stigting se jaarlikse toekennings vir die beste meestersgraad- en doktorale studente befonds.
Beurs ter waarde van ’n allemintige R450
Prof AP Goossens is in 1935 as die eerste professor en hoof van die Departement Plantkunde aangestel.
Een van sy MSc-studente, Max Papendorf – wat later professor en derde hoof van die departement sou word – het in 1940 ’n gesogte studiebeurs vir sy navorsing ontvang. Die beurs ter waarde van R450 was genoeg om hom in staat te stel om oorsee te gaan studeer, maar die oorlog het hom verhinder om dit te doen.
Nog drie hoofde van die departement het gevolg voordat die akademiese skole in 1996 gestig is. Dit was toe eers dat Plantkunde ’n onafhanklike vakgroep geword het, met verskeie vakhoofde wat die bestuur op ’n rotasiebasis hanteer het.
Die vakgroep het deur die jare talle verskuiwings in opleiding en navorsing ervaar en spog met ’n gesonde groei in studentegetalle.
Die personeel geniet plaaslike en internasionale navorsingserkenning, terwyl voormalige studente belangrike posisies in die openbare en privaat sektor beklee. Gegradueerdes van hierdie vakgroep is ook baie gesog in die arbeidsmark.
NUUs
Plant ’n saadjie op die regte tyd en op die regte plek, troetel dit genoeg, en die resultaat kan beter wees as wat jy ooit kon droom.
Het jy geweet?
’n Jaar van feesviering
Die vakgroep Plantkunde het beplan om sy eeufees met ’n jaar van spesiale aktiwiteite te vier om die impak daarvan op onderrig, leer en navorsing te vier en ’n voorsmaak te gee van nuwe idees wat aan die kom is.
Van die aktiwiteite het vroeër in 2020 begin, maar afhangend van verwikkelinge rondom die Covid-19-pandemie sal die res óf aanlyn uitgevoer moet word, óf tot ’n later datum uitgestel word.
Plantkunde sal regdeur 2020 spesiale maandelikse berigte in die Potchefstroom Herald publiseer.
Naderende gebeure sluit in:
<
>
INHOUD