REDAKSIONEEL
INHOUD
Johan en Elma van der Vyver woon in Atlanta, Georgia in die VSA. Op 87-jarige ouderdom is alumnus Johan ’n professor in regte by die Emory Universiteit, wat een van meer as 20 universiteite in in hierdie groot stad is.
Meer oor Atlanta en Emory
Johan vertel dat Atlanta veral bekend is as die Coca Cola-stad, omdat die hoofkwartier van dié maatskappy daar gesetel is. Dit is ook die sentrum van Delta-lugredery en die tuiste van oudpresident Jimmy Carter en die Carter-sentrum.
Die stad is massief groot en het ’n matige klimaat. Die sirkelpad om die sentrale stadsgebied is ongeveer 20 myl lank. (Een myl is sowat 1,6 km lank.)
In Atlanta alleen is daar meer as 20 universiteite. Emory is in ’n oostelike woonbuurt, Decatur, geleë, sowat 10 myl van die midde stad af. Johan woon ongeveer een myl van die sentrale kampus af.
Hy sê Emory word onder die top 20 universiteite in die land geklassifiseer en is veral bekend vir sy mediese fakulteit.
“Die regsfakulteit laat elke jaar net ongeveer 250 eerste jaar student toe en die keuringsproses verseker dat daardie studente van uitstaande gehalte is. Die studente kom vanuit die hele VSA en uit die buiteland (veral Sjina en Korea) na Emory toe.”
Skryf gerus en vertel ons waar in die wêreld julle jul bevind en hoe dit met jul loopbane gaan, of skryf sommer oor ditjies en datjies wat julle na aan die hart lê.
Stuur julle briewe na nelia.engelbrecht@nwu.ac.za.
ONS HOOR GRAAG VAN JULLE!
Beste mede-alumni
Ek is reeds die afgelope 31 jaar ʼn professor in die regte aan die Emory Universiteit in Atlanta, Georgia in die VSA, maar as student en later dosent en dekaan, was ek oor ʼn tydperk van meer as twee dekades periodiek aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) verbonde.
As student het ek BCom Regte (1952-1954), LLD (1955-56), en BAHons in wysbegeerte (1965) aan hierdie voorganger van die NWU studeer.
Gedurende my studentejare was ek penningmeester van die Studenteraad en op ’n kol ook die dekaan van die Regsfakulteit (1972-1974). Op inter-universitêre gebied was ek visepresident en president van die Afrikaanse Studentebond (1957-1959).
Ek het in 1978 die heel eerste kursus in menseregte by ’n Suid-Afrikaanse universiteit ingestel en die PU vir CHO was ook die heel eerste Afrikaanse universiteit wat ’n vrouedosent in die regte aangestel het (Dawn Spies/née Swanepoel).
Werklik iets besonders
Regsopleiding aan die PU vir CHO was absoluut iets besonders. Groot klem is gelê op beginsels wat in die regte gehandhaaf behoort te word, gebaseer op Neo-Calvinistiese denke.
My kritiek van die Suid-Afrikaanse veiligheidswetgewing het daartoe gelei dat die regering in 1978 aangedring het dat die Raad van die universiteit dissiplinêre stappe teen my moet instel.
Die Raad het toe al my klasse vir ’n ganse semester opgeskort en besluit dat ek niks mag publiseer oor ’n kontensieuse politieke onderwerp sonder toestemming van ’n forum van die Raad nie. Ek was nie bereid om dit te aanvaar nie en is daarom verplig om te bedank. Wits het toe vir my ’n pos aangebied wat ek van 1979 tot 1995 beklee het.
Ver oor die see
My verbintenis met Emory Universiteit het in 1990 begin toe prof Thomas Buergenthal (’n oorlewende van Auschwitz) my genooi het om Emory as gasdosent te besoek. Voor ek dit kon doen, het prof Buergenthal ’n pos by George Washington Universiteit in Washington DC aanvaar.
Emory het my toe gevra om vir ’n hele jaar prof Buergenthal se klasse te gaan waarneem sodat hulle ’n gepaste opvolger vir hom kan vind.
Op die ou end het hulle vir my sy pos as IT Cohen Professor van Internasionale Reg en Menseregte aangebied, en ek is nog steeds, op 87-jarige leeftyd, voltyds in hierdie hoedanigheid by Emory in diens.
Geen diskriminasie teen ouer persone nie
In Amerika mag hulle nie teen ouer mense diskrimineer nie en daarom kan Emory my nie teen my wil pensioneer nie. My doseerverpligtinge sluit in internasionale menseregte, internasionale strafreg, volkereg, humanitêre reg, en ’n seminaar oor die reg op oorlogvoering en een oor die implementering van die volkereg in die VSA.
En dit alles is die nadraai van die uitstekende opleiding en ervaring wat ek by (huidiglik) die NWU ontvang het
Vriendelike groete
Johan D van der Vyver
dIe NWU & U
Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.
Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.
Navigasie
>
<
VOLGENDE ARITKEL
VORIGE ARTIKEL
KLANK
video
MEER INLIGTING
KLIK
DEEL
’n Kerfstok vol prestasies
Van die prestasies op prof Johan van der Vyver se kerfstok sluit onder meer sy boek, Die Beskerming van Menseregter in Suid-Afrika in, wat in 1978 met die Toon van den Heever prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon is.
Die Bond van Oud-Pukke het ook in 1995 vir hom ’n spesiale toekenning gegee as ’n oudstudent wat “onbaatsugtige en voortreflike diens” aan sy alma mater gelewer het, en in 2003 het hy ’n eredoktorsgraad van die voormalige PU vir CHO ontvang.
Hy het ook nege boeke en meer as 300 wetenskaplike artikels geskryf. Op die oomblik is hy besig om ’n drievolume-manuskrip af te rond oor International Criminal Law wat deur Lambert Academic Publishers van Duitsland gepubliseer gaan word.
vorige
<
NWU & U