NUUs

Prof Josef de Beer sê die jeug is ons toekoms en het die potensiaal om die fakkeldraers te wees wat ’n nuwe lewenswyse inlui, gebaseer op keuses wat ’n gesonder planeet bevorder.

 

Dit moet ook pret wees

 

Prof Josef de Beer sê om ’n vak op skoolvlak verpligtend te maak, sal ongelukkig nie voldoende wees nie.

 

“Ons moet seker maak dat die leerders die inhoud snap, en om dit te bereik, sal die vak interessant, genotvol en opwindend moet wees.”

 

Josef sê dit kan maklik bereik word deur nie bloot op teorie en inligting te fokus nie, maar deur tegnologie, speletjies en eksperimente by die onderrig in te bou.

 

“’n Voorbeeld hiervan is dat waar leerders by probleemgebaseerde aktiwiteite betrokke raak, soos om die vlakke van besoedeling van plaaslike waterbronne te bepaal, hulle groot vreugde en bevrediging daaruit put om wetenskaplike speurders te wees.

 

“As deel van die NWU se Onderwysers sonder Grense-projek verskaf ons foldscope-mikroskope  aan skole, en leerders geniet die geleentheid om hierdie foldscopes te benut om die vlakke van eutrofikasie (’n vorm van waterbesoedeling) te bepaal.

 

“Dit is ’n voorbeeld van beliggaamde kennis, wat ook dien om omgewingsgeletterdheid by leerders te bevorder.”

 

Josef sê hierdie vakke het groot potensiaal, aangesien dit ’n manier kan wees om inheemse kennis oor die omgewing in te sluit om sodoende ook ’n rol in die dekolonisering van die skoolleerplan te speel.

 

 

Dr Luiza de Sousa sê dit sal ’n stap in die regte rigting sal wees om klimaatsverandering en biodiversiteit by die leerplan in te sluit deur vakke te hê wat spesifiek daarop fokus.

Nuwe skoolvakke het dalk ’n groot impak op die planeet se gesondheid

Onlangse media-artikels* het die kollig geplaas op die Verenigde Nasies (VN) se doelwit om teen 2025 klimaatsverandering en biodiversiteit ’n integrale deel van skole wêreldwyd se leerplanne te maak.

Die NWU & U het ons kundiges in die onderwys gevra om hulle mening te gee oor die impak wat nuwe vakke soos hierdie kan hê op die wyse waarop kinders die wêreld beskou waarin hulle leef, en hoe hulle dan van kleins af bewuste besluite kan neem om die planeet te beskerm.

 

Wat ʼn goeie idee

 

Prof Josef de Beer van die Eenheid vir Selfgerigte Leer sê hoewel daar nog niks formeels in Suid-Afrika besluit is so ver as wat hy weet nie – benewens die bekendstelling van mariene biologie as nuwe vak – is dit altyd ’n baie goeie idee om vakke by die leerplan te voeg om jong kinders oor omgewingskwessies op te voed.

 

“Elemente van klimaatsverandering word in die skool se lewenswetenskappeleerplan bespreek, maar natuurlik kies alle leerders nie lewenswetenskappe as ’n vak nie,” sê Josef, ’n navorsingsprofessor by die eenheid.

 

Maak ons voetspoor groener

 

“’n Verpligte vak oor die mens se impak op die omgewing, en hoe ons as mense ’n groener voetspoor kan laat, kan daartoe lei dat daar minder vernietiging van die omgewing plaasvind.”

 

Dit is hartseer dat so baie mense nie bewus is van die groot gevaar wat faktore soos klimaatsverandering vir hulle toekoms inhou nie, sê Josef. Wat selfs meer kommerwekkend is, is dat talle jongmense onbewus is daarvan dat hulle ’n betekenisvolle verskil in hierdie verband kan maak.

 

“Omgewingsopvoeding is die instrument om nie net die besluitnemers van môre te bemagtig nie, maar ook om oplossings te vind vir die slegte toestand waarin die wêreld is.”

 

ʼn Holistiese benadering is nodig

 

Dr Luiza de Sousa, senior lektor in geografie-onderwys en omgewingsopvoeding, stem saam met Josef dat dit ’n stap in die regte rigting sal wees om klimaatsverandering en biodiversiteit by die leerplan in te sluit deur vakke te hê wat spesifiek daarop fokus.

 

“Ons leer ons studente van die belangrikheid van sisteem- en holistiese denke, en dit kan reeds op skoolvlak met vrug in nuwe vakke aangewend word. Sisteemdenke stel leerders in staat om dinge as ’n geheel waar te neem. Een aksie wat aan ’n individuele deel van ’n sisteem gedoen word, kan as gevolg van die verwantskap en interkonneksies tussen die talle elemente in ’n komplekse sisteem die hele sisteem beïnvloed.”

 

Luiza sê leerders sal egter die interkonnektiwiteit van dinge moet verstaan – hoe hulle optrede verandering teweeg kan bring.“Hierdie vakke kan die leerders help om die kwessies te verstaan wat klimaatsverandering versnel.

 

“Dit sluit onder meer in die voortgesette gebruik van fossielbrandstof wat tot omgewingsbesoedeling lei en die Aarde sodoende in ’n toestand van aardverwarming plaas.”

 

Sy sê om leerders oor oorsaak en gevolg te onderrig, sal nie net help dat hulle die komplekse kwessies verstaan nie, maar ook transformatiewe leer aanmoedig. Die Verenigde Nasies (VN) se 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte ** vereis dat onderwysers ons wêreld moet transformeer.

 

Die tyd sal leer of die VN sy doelwit sal bereik om teen 2025 klimaatsverandering en biodiversiteit met sukses as toegewyde vakke in te sluit, en of dit wêreldwyd geïmplementeer gaan word.

 

Indien hulle dit regkry, kan die volgende groep skoolverlaters dalk bemagtig word met nie net opvoeding nie, maar ook met ’n nuwe en gevorderde gevoel van omgewingsbewustheid en -verantwoordelikheid.

 

*“Klimaat dalk teen ’25 deel van leerplan”, Elise Tempelhoff, Netwerk24 , 13 Mei 2021.

* “Putting climate change on school curriculums is imperative, says UN”, Sonia Elks, Business Day, 27 Februarie 2020.

**Die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte sluit 17 interverwante wêreldwye doelwitte in wat ontwerp is om ’n beter en meer volhoubare toekoms te bereik.

 

 

 

dIe NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARITKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

 

Omgewingsbewustheid reeds deel van Suid-Afrika se skoolaanbiedings

 

Wanneer ʼn mens met dr Grizelda van Wyk, senior onderwysspesialis van die Gautengse Departement van Basiese Onderwys, gesels, blyk dit dat kwessies soos klimaatsverandering en biodiversiteit reeds jare lank deel van Suid-Afrika se skoolleerplanne is, al word hulle nie tans as aparte skoolvakke aangebied nie.

 

“Dit word in lewenswetenskappevakke in Verdere Onderwys en Opleiding (VOO) en natuurwetenskappe in die intermediêre en senior fase hanteer. Klimaatsverandering word veral in geografie hanteer, en biodiversiteit is ’n uitvoerige deel van die lewenswetenskappe-aanbiedings.”

 

Sy sê dit is belangrik om bewus te wees van wêreldwye tendense, hoewel daar tans geen aanduiding is dat klimaatsverandering en biodiversiteit vakke op hulle eie sal wees nie.

 

Die departement voeg egter deurlopend nuwe vakke by die plaaslike skoolleerplanne, wat onderwys in die land verbeter.

 

Onlangse voorbeelde sluit die byvoeging van kodering en robotika, nuwe Afrika-tale en entrepreneurskap in. Mariene biologie en kernkragstudies is ook al as vakke by geselekteerde skole goedgekeur.

 

 

vorige

<

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U