INHOUD
Alumnus Phenya Tshenkeng is ’n streeksekoloog by die Noordwes Parke- en Toerismeraad.
Sy loopbaan
Phenya het vroeër as veldassistent gewerk, waar hy hoofsaaklik op opnames van die plantegroei in die Pilanesberg Nasionale Park en die Madikwe Wildtuin gefokus het.
Hy het later as administrateur by die Hotelskool-afdeling in die Noordwes Parke- en Toerismeraad aangesluit, en daarna as die registrateur vir studente- en akademiese sake gedien.
Wat die sekelbos betref, is local nie altyd lekker nie. Hoewel bome goed is vir die grond en erosie voorkom, kan dit ook ondeurdringbare boskasies vorm wat dit vir wild moeilik maak om te wei.
Alumnus Phenya Tshenkeng is besig om vir sy PhD-studie oor bewaring op hierdie probleem te fokus. Phenya sê wil hy die land se biodiversiteit bewaar om ’n toekoms te skep waar wild en mense saam kan floreer.
Waar sy belangstelling vandaan kom
Sy liefde vir en belangstelling in bewaring het in die hoërskool begin toe hy by die Kebalepile Hoërskool in Mahikeng deel van die Lengau-bewaringsklub was.
“Hierdie belangstelling het by die NWU toegeneem toe ek ’n BSc-student was. Ons het vir die ekologiemodule verskillende gras- en boomspesies versamel. Daardie monsters is gepers en ons moes hulle wetenskaplike name vir die eksamen ken,” onthou hy.
Phenya het ’n BSc- en BScHons-graad verwerf en daarna ’n MSc in bewaringsekologie aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi.
Sekelbos in die kollig
Hy is nou by die NWU vir ’n PhD in botanie geregistreer. Sy PhD-studie handel oor habitatverandering as gevolg van die indringing van sekelbos (Dichrostachys cinerea) in die Madikwe Wildtuin en die aanliggende gemeenskapsgebiede, en hoe hersteltegnologieë kan help dat herbivore beter by weiding kan uitkom.
Hoewel die sekelbos inheems is, ’n positiewe effek op die grond het, en versteurde grond kan inneem en erosie bekamp, kan die digte boskasies wat dit vorm, dit ’n probleemplant vir veldbestuurders maak.
Perfek geplaas vir sy studie
Phenya is op die regte plek vir sy studie, aangesien hy tans ’n streeksekoloog vir die Noordwes Parke- en Toerismeraad is.Met meer as 10 jaar ervaring agter die rug is sy fokus op die ontwikkeling en instandhouding van die databasis van die raad se natuurparke.
Hy fokus ook op die monitering van die wildbevolking, toesighouding oor die jaarlikse wildsensus, en die verskaffing van ondersteuning aan die bestuur van natuurparke om probleemdiere te hanteer.
Bewaar die provinsie se natuurlike ruimtes
“My verantwoordelikhede sluit ook brand- en klimaatsmonitering in, asook die bywerking van kaarte van die natuurparke in die oostelike streek van die Noordwes Parkeraad,” sê Phenya.
“As streeksekoloog gee ek ondersteuning vir die beplanning en ontwikkeling van ekologiese bestuursprogramme. Ek help ook met die ontwikkeling van ondersteuningstelsels vir besluitneming, sodat beter besluite in bewaringsgebiede geneem kan word.
“Dit is voorts belangrik om deurlopende terugvoer ten opsigte van brandplanne, die koerse vir die aanvulling van wild en opnames oor plantegroei aan parkbestuurders te verskaf.”
Hy sê strategiese beplanning, beleidsontwikkeling en die ontwikkeling van standaardprosedures is noodsaaklik vir die daaglikse werk in die natuurpark, en is dit sy verantwoordelikheid as ekoloog om dit te formuleer.
Met sy uiteenlopende ervaring en passie vir bewaring, is daar min twyfel dat Phenya ’n impak ten opsigte van die bewaring van die provinsie se natuurlike ruimtes sal maak.
dIe NWU & U
Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.
Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.
Navigasie
>
<
VOLGENDE ARITKEL
VORIGE ARTIKEL
KLANK
video
MEER INLIGTING
KLIK
DEEL
NWU & U