ProfiELE
INHOUD
Vir Keabetswe is daar geen grense wat haar toekomsplanne vir die plaas betref nie.
Sorgelose student langs die Vaalrivier
Alumna Keabetswe Mokgatla het tussen 2016 en 2019 haar studentejare by die Vanderbijlparkkampus op die lowergroen walle van die Vaalrivier deurgebring.
Een van haar aangenaamste herinneringe van die kampus is die tyd wat sy by die One Button Studio deurgebring het, waar studente hoëkwaliteitvideo’s met die druk van ’n enkele knoppie kan skep.
“Ek was mal oor daardie sessies. Dit was groot pret om dit wat ons in ons akademiese modules geleer het, aan te bied en te rolspeel.”
Een van die gewasse wat Keabetswe op die plaas kweek, is mielies.
Min het Keabetswe Mokgatla geweet toe sy sielkunde en sosiologie op die Vanderbijlparkkampus studeer het, dat sy haar ware roeping in boerdery sou vind.
Keabetswe, wat van Kalbasfontein in Gauteng kom, sê sy het haar passie vir boerdery by haar pa gekry, wat ook ’n boer is.
“Ons het 373 hektaar grond vir boerdery, en gebruik 250 hektaar om mielies en sojabone te plant, en die res gebruik ons vir weiding vir Limousin-beeste. Ek het op die oomblik 26 beeste en ek werk daaraan om my kudde uit te brei. Wat die gewasse betref, werk ek saam met Senwes, wat met produksie-insette en verkope help.”
Van geesteswetenskappe tot boerdery
“Nadat ek my BA-graad in sielkunde en sosiologie aan die NWU voltooi het, kon ek nie dadelik werk kry nie. Dit was toe dat my pa voorgestel het dat ek dit moet oorweeg om op die plaas te werk en ’n skepper van werk eerder as ’n werksoeker te word.”
Sy sê haar belangstelling in landbou het begin toe sy saam met haar pa begin werk het. “Ek het tydens my universiteitsvakansies die plaas besoek, maar ek het nie regtig die landbouproses verstaan nie, en ek het dit nooit as ’n besigheid beskou nie.
“Toe ek saam met my pa op die plaas gewerk het, het ek op boerdery verlief geraak.”“Ek het ’n ernstige passie vir die veld ontwikkel – in so ʼn mate dat ek nie kan dink dat ek enigiets anders wil doen nie.”
Sy sê egter haar studiejare aan die NWU is beslis nie gemors nie. “Ek gebruik die kennis wat ek opgedoen het elke dag. Sielkunde help my om verhoudings met belanghebbers te bou, en om uit verskillende hoeke na dinge te kyk.”
Leer oor geloof en geduld
Die natuur het Keabetswe nog altyd gelok, maar wat sy die meeste van boerdery hou, is die geloof en geduld wat dit jou leer.
“Jy leer om geloof te hê, aangesien jy vandag saad saai sonder dat jy ’n waarborg het dat dit sal groei. Wanneer die saad opkom, doen jy alles wat nodig is om te verseker dat jy die gewenste opbrengs kry. Daardie proses kan maande duur, en dit leer jou om geduldig te wees.”
Keabetswe sê indien sy in die toekoms met kinders geseën word, sal sy graag wil hê dat hulle boerdery as hulle loopbaan sou kies en die familiebesigheid sal voortsit.
Ontwikkel haar kennis
Trotse mielie- en beesboer Keabetswe Mokgatla is deel van die eerste groep deelnemers aan die Corteva Agriscience-program vir vroue in landbou.
Die program, wat vroeër hierdie jaar begin het, word deur die Universiteit van Pretoria se Gordon Instituut van Besigheidswetenskap (Gordon Institute of Business Science, GIBS) aangebied.
Dit is ’n 12 maande lange pasklaar program met die doel om die entrepreneurs-, sake- en leierskapsvaardighede van 30 vroue in landbou te bevorder om hulle in staat te stel om hulle landbou-ondernemings meer doeltreffend te bestuur en te bedryf.
Keabetswe sê sedert sy die Corteva-program bywoon, kan sy ’n verbetering in haar leierskapsvaardighede sien, en vind sy dit makliker om haar persoonlike en besigheidswaardes met mekaar te versoen.
“Hierdie program het beslis die potensiaal om ’n bydrae tot die ekonomiese bemagtiging van vroue te lewer, asook tot die versekering van voedselsekerheid vir die gesinne en gemeenskappe wat hulle ondersteun.”
dIe NWU & U
Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.
Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.
Navigasie
>
<
VOLGENDE ARITKEL
VORIGE ARTIKEL
KLANK
video
MEER INLIGTING
KLIK
DEEL
Keabetswe is die trotse eienaar van 26 beeste en is vasbeslote om haar kudde uit te brei.
NWU & U