Die NWU Eagles het ’n baie respektabele vierde plek in die 2021 Varsitybeker verower toe hulle teen ’n begeesterde Universiteit van Kaapstad-span in die semifinale vasgeval het. Dit was egter ’n toernooi in ’n ander gedaante as die een waaraan ons gewoond is.

 

Daar was eerstens fisies geen toeskouers teenwoordig nie, en die wedstryde het in ’n bioborrel in Pretoria plaasgevind, met wedstryde wat tussen Loftus Versfeld en Tukkies gewissel het.

 

Die NWU Eagles se kaptein, Lincoln Daniels, verduidelik die unieke uitdagings van die 2021 Varsitybeker.

 

Kan jy vir ons verduidelik hoe die bioborrel gewerk het?

Daar was baie streng Covid-19-protokolle. Ons was die meeste van die tyd in ons spanomgewings, en die res van die tyd kon ons slegs vanaf Tukkies se Future Africa-kampus na hulle rugbyvelde beweeg en ook na die swembaddens, waar ons ons herstelsessies gedoen het.

 

Hoe het die span by hierdie beperkings aangepas?

Die spanbestuur het baie moeite gedoen om dinge vir ons so maklik as moontlik te maak. Benewens rugby was daar bordspeletjies, tafeltennis en ’n putt-putt-mat, dus het ons baie pret gehad wanneer ons nie wedstryde gespeel of geoefen het nie. Ek dink die feit dat ons besef het waarom ons in ’n borrel was, het die aanpassing by die situasie baie makliker gemaak.

 

Sommige wedstryde is uitgestel en daar was insidente (nie deur die NWU nie) waar die protokol verbreek is. Hoe het die span hierdie terugslae benader?

Ons het gehoor van die protokol wat verbreek is. Die NWU Eagles het alles in ons vermoë gedoen om die reëls te eerbiedig en by die protokol te hou. Dit was iets waarop ons trots was, en dit het beteken dat ons nooit bykomende uitdagings moes hanteer nie.

 

Wat was die span se hoogtepunt van die toernooi?

Daar was baie hoogtepunte van die veld af. Een daarvan was die verhouding wat tussen die spelers ontstaan het, asook tussen die spelers en die afrigters. Dit was baie lekker. Op die veld was dit ongetwyfeld die voorreg om die halfeindstryd te haal.

 

Wat was jou persoonlike hoogtepunt?

My persoonlike hoogtepunt was ons oorwinning oor Wits. Ek moes ’n deurslaggewende besluit neem om die wedstryd te wen, en ek het besluit ons gaan pale toe skop. Dit was die grootste besluit wat ek tot dusver as kaptein moes neem, en ek is in die wolke dat dit vir ons goed uitgewerk het.

 

En laagtepunte?

Ongetwyfeld om die halfeindstryd te verloor. Dit was ’n ellendige uitslag. Ons het ietwat van ’n op-en-af-toernooi gehad, maar nadat ons die Sentrale Universiteit van Tegnologie gewen het om die semi’s te haal, het ek regtig gedink ons het ’n kans.

 

Het al hierdie veranderings die toernooi moeiliker gemaak as wat verwag is?

Beslis. Maar al die spelers en die spanbestuur het geweet dat ons ekstra werk moes insit en ’n ekstra poging aanwend om ’n sukses van die toernooi te maak.

 

Hoe het jy as kaptein die druk hanteer?

As kaptein was daar geweldig baie druk, op en van die veld af. Met ’n afrigter soos André Pretorius, wat regdeur die hele proses as mentor opgetree het, kon ek die situasies beter opsom en oplossings kry. Hy het dit baie makliker gemaak. Ek het ook ’n wonderlike “kapteinsraad” gehad wat my bygestaan het.

 

Enige laaste boodskap vir jou span en die afrigtingspersoneel?

Aan die spelers, julle is ’n wonderlike lot ouens. Julle is fantastiese rugbyspelers en wonderlike mense. Julle was regtig ’n spesiale groep, en ek sal hierdie ervaring vir niks in die wêreld wil verruil nie. Ek het nog nooit in ’n span soos hierdie een gespeel nie. Die span en die afrigters het vir my soos broers geword.

 

Aan ons afrigters, ek wil julle bedank vir al die moeite wat julle met ons voorbereidings vooraf en tydens die toernooi gedoen het. Daar is so baie dankbaarheid vir al julle werk en leierskap.

Lincoln Daniels het die NWU Eagles se middelveld met selfversekerdheid beman.

kyk terug oor die 2021 Varsitybeker

DIE EAGLES SE KAPTEIN