Hoe entrepreneurskap vir die omgewing tot voordeel kan wees

 

Dr Adri du Toit sê namate die mense van die wêreld meer bewus raak van hulle verantwoordelikheid teenoor die omgewing en die gevare van klimaatsverandering, besoedeling en die uitwissing van natuurlike hulpbronne, die fokus na die omgewingswaarde van entrepreneurskap verskuif.

 

“Verantwoordelike entrepreneurskap leer ’n mens dat niks in isolasie gedoen word nie, en dat produkontwikkeling byvoorbeeld nie in ’n silo kan plaasvind nie. Een entrepreneursonderneming kan ’n ander een beïnvloed, en op hierdie manier ’n direkte invloed op die omgewing uitoefen. Hierdie aspek moedig verantwoordelike entrepreneurskap en die beskerming en bewaring van die omgewing aan.”

Met dié dat entrepreneurskap as nuwe afsonderlike vak* geïmplementeer word, en ook by bestaande vakke in die Suid-Afrikaanse skoolleerplan geïnkorporeer word, het eish! met ’n onderwyskundige by die NWU gepraat oor die belangrikheid daarvan om van kleins af ’n liefde vir entrepreneurskap by kinders te kweek.

 

Dr Adri du Toit, senior lektor by die Fakulteit Opvoedkunde se Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer, sê dat die meeste mense entrepreneurskap as slegs ’n ekonomiese aktiwiteit beskou wat op finansiële wins ingestel is, maar dit het ook ’n maatskaplike en omgewingswaarde. Hierdie aspekte speel ’n belangrike niemonetêre rol om die samelewing ten goede te verander, en dit is waar IK veral ’n positiewe impak kan maak.

 

Om jonk te begin, is die eerste stap

 

“Volgens verskillende literatuurbronne voel talle jongmense dat hulle nie genoeg vir die werksomgewing en die lewe ná skool voorberei word nie,” sê Adri.

 

Hulle voel hulpeloos, veral wanneer die geweldige werkloosheidskoers onder die jeug hulle in die gesig staar. “’n Groot groep leerders verlaat die skool aan die einde van graad 9 en dit is noodsaaklik dat entrepreneurskap voor daardie tyd aangemoedig moet word – hoe vroeër hoe beter.”

 

Adri sê dat die Departement van Basiese Onderwys in 2016 ’n bloudruk ontwikkel het om teen 2030 entrepreneurskap by alle vakke en al die grade te inkorporeer. Entrepreneurskaponderrig word tans veral by die leerplan in besigheidstudies en verbruikerstudies ingesluit.

 

“Dit is egter nie genoeg dat entrepreneurskap in talle vakke voorkom en dat dit as ’n vak op sy eie aangebied word nie. Ons moet ook seker maak dat onderwysers opgewonde is daaroor en dit vir leerders opwindend en aanloklik maak. Dit is waarom die langtermyndoelwit is om eerstens ’n entrepreneursingesteldheid by onderwysers te ontwikkel, wat op hulle beurt ’n positiewe beskouing van die waarde van entrepreneurskap by hulle leerders sal ontwikkel.”

 

Dit is waar IK inkom:  die onderwysers moet hulle leerders onderrig en inspireer om hulle inheemse kennis te gebruik wanneer hulle entrepreneurskapsgeleenthede in hulle gemeenskappe en omgewing identifiseer.

 

Die rol van IK in entrepreneurskap

 

Adri sê Westerse benaderings is dikwels die beginpunt om entrepreneurskap te bevorder – veral op skoolvlak. “Ons weet ’n belangrike denkverandering is nodig en dat die belangrikheid van IK in entrepreneursonderrig beklemtoon moet word.”

 

Sy sê dit is meer as bloot om die leerplan te dekoloniseer; dit gaan daaroor om kennis van generasies sy regmatige plek te gee. “Ons het al gesien hoe inheemse kennis talle geleenthede vir individue en gemeenskappe geskep het.”

 

 

Van rooibos tot Afrika-hemde en mopaniewurms

 

Adri wys daarop dat ’n welbekende voorbeeld die kommersialisering van rooibos deur plaaslike gemeenskappe is. “Daar is baie meer voorbeelde waar daar bewyse is dat inheemse kennis die katalisator vir innoverende entrepreneursondernemings was.

 

“Een hiervan is toe ’n jong man van Limpopo begin het om tradisionele Afrika-hemde te maak en dit aan toeriste te verkoop, en ’n ander een uit dieselfde provinsie is waar mopaniewurms – wat as ’n Afrika-lekkerny beskou word – kommersieel gedroog en verkoop word.”

 

Opkomende entrepreneursprojekte sluit die kommersiële gebruik van die plant Lippia javanica as insekweerder, die kommersialisering van verskillende tradisionele gefermenteerde drankies, en die gebruik van Hoodia gordonii, ook bekend as bitterghaap of muishondghaap, as eetlusdemper in.

 

“Die moontlikhede is onbeperk wanneer gemeenskappe die potensiaal besef van die inheemse kennis waarmee hulle grootgeword het, en begin om dit verantwoordelik en innoverend te gebruik, nie net om ’n bestaan daaruit te maak nie, maar ook om die wêreld ’n beter plek te maak. Ek glo dit kan veral gedoen word deur van jongs af ’n positiewe entrepreneursingesteldheid te ondersteun.”

 

*Volgens die Gautengse Departement van Basiese Onderwys sluit onlangse byvoegings tot die skoolleerplan kodering en robotika, nuwe Afrikatale en entrepreneurskap in. Mariene biologie en kernkragstudies is ook al as vakke by geselekteerde skole goedgekeur.

bied nuwe entrepreneursgeleenthede

INHEEMSE KENNIS

Dr Adri du Toit sê inheemse kennis het talle geleenthede vir individue en gemeenskappe geskep, byvoorbeeld die kommersialisering van rooibos.

Dit gaan nie net oor geld nie

 

Adri is passievol oor entrepreneurskap in al sy vorms.

 

“Ek glo dit is ons rol as navorsers en universiteite om onderwysers en leerders te help om die volle waarde van entrepreneurskap te verstaan.”

 

Sy sê om vir kinders ’n entrepreneursingesteldheid te leer, lei ook tot vaardigheidsontwikkeling soos probleemoplossing, kreatiwiteit, kritiese analise, doeltreffende kommunikasie, deelname van die portuurgroep en reflektiewe denke.

 

“Ek glo die grootste waarde van entrepreneurskap lê in die idee van Ubuntu – die positiewe impak wat dit op gemeenskappe kan hê.

 

“Entrepreneurskap wat daarop fokus om uitdagings in die samelewing aan te pak, eerder as om bloot geld te maak, kan van die dringendste probleme in gemeenskappe, soos die voorsiening van water en elektrisiteit en die verskaffing van versorging vir bejaardes, oplos. Kortom, dit gaan daaroor om kennis te neem van die omliggende gebiede en hulle behoeftes en uitdagings, en om die lewe vir almal beter te maak.”

’n Voorbeeld van hoe mense hul inheemse kennis vir entrepreneursprojekte inspan, is die droog en verkoop van mopanewurms, wat as ’n Afrika-lekkerny beskou word.

Wanneer leerders ingelig word oor inheemse kennis (IK) en hoe hulle dit in entrepreneursondernemings kan gebruik, maak dit vir hulle ’n hele nuwe wêreld van geleenthede in Suid-Afrika oop.

bied nuwe entrepreneurs-geleenthede