In hierdie eerste artikel gesels ons met Nkosinathi Tom, bestuurder in die visekanselier se kantoor en huisouer by Kasteel-dameskoshuis. Nkosinathi is al vir ongeveer ses jaar by die NWU, en is bekend vir sy aansteeklike glimlag en warm persoonlikheid.

 

Op watter kampus is jy?

Ek is op die Potchefstroomkampus gebaseer, maar die visekanselier het kantore op al drie die NWU se kampusse, dus kan ek van al drie plekke af werk.

 

Wat of wie motiveer jou?

Ek word deur ’n bepaalde doel gemotiveer. Wat ek ook al doen, moet in diens van die mensdom wees.

 

Op ’n professionele vlak word ek deur Tyler Perry, ’n Amerikaanse akteur, regisseur, produksieleier en draaiboekskrywer gemotiveer. Sy werksetiek, dissipline en nederigheid is die dinge wat my die meeste inspireer. Op ’n persoonlike vlak word ek deur my pragtige vrou, Lesego, gemotiveer. Sy is nie net my lewensmaat nie, maar ook my steunpilaar en heel beste ondersteuner.

 

Waar het jy grootgeword?

Ek is in Jouberton, ’n township in Klerksdorp, gebore en getoë.

 

Waar het jy gematrikuleer en/of studeer?

Ek het aan die Nkang-Mahlale Hoërskool in Jouberton gematrikuleer, en het al my formele kwalifikasies aan die NWU verwerf. Ek het vyf diplomas en grade op verskillende gebiede en ek werk tans aan my meestersgraad in besigheidsadministrasie aan die NWU.

 

Waarvoor was jy op skool bekend?

Ek was regdeur my skoolloopbaan meestal vir my sang bekend en dat ek aan alle kunsverwante aktiwiteite deelgeneem het.

 

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Wanneer ek nie tyd saam met my vrou en kinders deurbring nie, doen ek baie gemeenskapswerk, veral ten opsigte van die kunste en die gemeenskapspolisiëringsforum in Potchefstroom.

 

Waarvoor wil jy graag onthou word?

As daar een ding is waarvoor ek graag onthou wil word, is dit dat ek ’n onuitwisbare indruk op die mensdom gemaak het.

 

As jy een wens kan hê, waarvoor sal jy wens?

Ek wens werklik dat almal onvoorwaardelik aanvaar kan word vir wie en wat hulle is, ongeag hulle verskille of agtergrond. Ek wens dat mense werklike geluk en outentieke vreugde binne hulleself sal vind.

 

Wat is die een soort kos wat jy nie sal eet nie, maak nie saak wat gebeur nie?

Ek eet die meeste dinge, maar ek kan nie tamaties hanteer nie.

 

Wat het jou kinders vir jou geleer?

Benewens dat hulle my geleer het wat onvoorwaardelike liefde is, het my kinders my ook geleer om gelukkig te wees sonder om ’n rede daarvoor te hê, om jonk van gees te bly, in die oomblik te leef en elke sekonde van elke dag te geniet.

ONTMOET DIE MAN

agter die glimlag

As gevolg van die pandemie werk die meeste van ons nou al meer as ’n jaar lank van die huis af, en kan party van ons voel asof ons ietwat uit voeling met ons kollegas is.

eish! het met ’n nuwe lighartige reeks artikels begin om ons te help om weer met ons medewerkers te skakel en hulle beter te leer ken, en ook om ons gees ’n bietjie op te kikker.

Nkosinathi Tom is die bestuurder in die visekanselier se kantoor en huisouer by Kasteel-dameskoshuis.