ZENOYISE

Dit is die mening van Zenoyise John, ’n kommunikasiepraktisyn by Korporatiewe Kommunikasie, wat almal van ons aanmoedig om vir diegene in nood iets te skenk. Sy glo dat om te gee spirituele waarde het, en dat jy probleemgebiede in jou lewe kan genees deur vir ander mense iets te gee.

 

Zenoyise is met Nnamndi John – ’n Nigeriese burger wat ’n evangelis en sokkerafrigter is – getroud. Die egpaar en hulle kinders is almal by gemeenskapswerk in Diepsloot, Johannesburg betrokke. Haar oudste dogter, die 25-jarige Yenani Madikwa, wat as kreatiewe direkteur by ’n reklame-agentskap werk, help om van hulle inisiatiewe te befonds, en Oluchi (12) en Ndidi (9) benut hulle vrye tyd om te help om kospakkies saam te stel en uit te deel.

 

“Ons wil van kleins af ’n kultuur van gee by hulle inskerp,” sê Zenoyise. “Ons wil hulle ook leer om ander met nederigheid te dien en dankbaar te wees vir wat hulle het.”

 

Verander lewens in Diepsloot

 

Zenoyise sê hulle werk het in 2014 begin toe haar man deur Diepsloot, ’n digbevolkte en arm area in die noorde van Johannesburg, gery het.

 

“Hy het stilgehou om die evangelie te verkondig aan ’n groepie mans wat ’n spel met dobbelstene op straat gespeel het. Hulle het vir hom gesê hulle is buitelanders, en dat hulle werkloos en honger is. Hy het besluit dat in plaas daarvan om net spirituele waarhede met hulle te deel, hy elke keer wanneer hy hulle besoek vir hulle brood sou bring.”

 

Sedertdien het hulle duisende brode versprei, en selfs gesonde Sondagetes gekook vir die behoeftige mense wat deel van die Johns se daaglikse lewe geword het.

 

Ondersteun ’n goeie saak

 

“Toe van ons vriende en gemeentelede gehoor het wat ons doen, het hulle besluit om ons met kos te help. Een van die bakkerye het begin om die brood te subsidieer en die ouers van die kinders met wie my man werk, het klere, huishoudelike toestelle en komberse vir die mense van Diepsloot geskenk. Met die hulp van ons koördineerders wat daar woon, het ons gesinne in nood geïdentifiseer en ons bring vir hulle wat ons ook al ontvang.”

 

Hoewel Zenoyise en haar man hoofsaaklik twee of drie keer per week vir die mense van brood voorsien, afhangend van die fondse wat hulle beskikbaar het, probeer hulle ook om vir die mense werk te kry, of selfs om geld in te samel vir dié wat dit nie kan bekostig om hulle geliefdes te begrawe nie.

 

Sedert verlede jaar het die Covid-19-pandemie vir hulle baie uitdagings gebring.

 

“Van die mense wat ons gehelp het, het hulle werk verloor en opgehou om ons te ondersteun. Ons het ook ’n rukkie opgehou om die mense te besoek sodat ons nie die Covid-19-protokolle oortree nie. Maar nou doen ons weer wat vir ons die meeste seën inhou – ons gee.”

 

As Zenoyise se ervaring enigiets is om van te leer, ontvang diegene wat aan ander gee, oorvloedig meer terug. Kom ons rol ons moue op en maak die lewe vir diegene in nood ’n bietjie makliker.

het 'n hart wat omgee

Om te gee, het geen grense

 

Zenoyise John glo dat daar geen beperking is op dit wat jy kan gee nie.

 

“Sommige mense gee vir ons matriekafskeidrokke en -pakke, of kerkklere – selfs oorbelle, skoene en produkte vir persoonlike sorg. Hierdie gebare beteken baie vir die mense wat dit ontvang,” sê sy.

 

Zenoyise moedig mense aan om te help om mense se lewens te verander – op watter manier ook al. “Dit is nou winter, en mense het warm maaltye, klere en komberse nodig. Jy kan selfs ’n verjaardagpartytjie vir ’n minderbevoorregte kind hou, of iemand help om ’n besigheid te begin.”

 

Kollegas wat graag ’n bydrae tot die projek wil lewer, kan vir Zenoyise ’n e-pos stuur.

Een klein gebaar kan iemand se wêreld verander, en wat vir jou weggooigoed is, kan vir iemand anders ’n skat wees.