Ons verbeelding gaan op loop en ons tuur weer eens die lug in.

 

Met ’n hernude belangstelling in Mars en baanbrekers soos Jeff Bezos en Elon Musk wat ’n era van privaat ruimtereise inlui, was daar nog nooit meer moontlikhede om ons atmosfeer te verlaat nie. Die keersy daarvan is dat sedert die aanvang van ruimtereise, mense ons tegnologiese rommel in wentelbane agtergelaat het.

 

Nou is die vraag: Wanneer die ruimterommel terugkom aarde toe, hou dit gevaar in, en hoe kan ons dit opruim? Dr Pieter Kotzé van die Sentrum vir Ruimtenavorsing het die antwoorde.

 

Eerstens, wat is ruimterommel?

Ruimterommel bestaan uit voorwerpe in ’n lae wentelbaan (low Earth orbit) – teen ’n hoogte van 300 km tot 500 km bo die Aarde. Hierdie rommelvoorwerpe kan so groot wees soos uitgediende satelliete en stukke van vuurpyle tot by moere, boute en stukke verf.

 

Wentelbaanrommel is enige mensgemaakte voorwerp in ’n wentelbaan om die Aarde wat nie meer ’n nuttige funksie vervul nie. Sulke rommel sluit niefunksionele ruimtetuie, stukke van die stadiums van lanseertuie, rommel wat met bepaalde sendings verband hou, en fragmentasierommel.

 

Hoe sou jy die toename in ruimterommel sedert die lansering van Sputnik beskryf?

Van geen rommel in 1960 nie tot meer as ’n miljoen stukke rommel in 2021.

 

Hoeveel daarvan is daar buite?

Daar word beraam dat daar in Januarie 2019 meer as 128 miljoen stukke afval kleiner as 1 cm was. Daar is ongeveer 900 000 stukke van 1 tot 10 cm groot. Die huidige telling van groot stukke afval (gedefinieer as 10 cm deursnee of groter) is 34 000.

 

Hoe groot is die gevaar wat die ruimterommel vir die lansering van satelliete en toekomstige ruimtereise inhou?

Daar is altyd ’n risiko dat satelliete met ruimtevaarders aan boord, soos die Space X, deur ’n stuk ruimterommel getref kan word.

 

Botsings met rommel groter as 1 cm kan ’n operasionele ruimtetuig onklaar laat raak, en kan veroorsaak dat ’n ruimtetuig wat uit bedryf gestel is, of ’n vuurpylromp, ontplof.

 

Botsings met rommel van millimetergrootte, kan plaaslike skade veroorsaak, of ’n substelsel van ’n operasionele ruimtetuig buite werking stel.

 

Wie moet verantwoordelikheid vir die opruiming van ruimterommel neem, en watter planne is in plek om dit te doen?

Ruimterommel is nie die verantwoordelikheid van een land nie, maar die verantwoordelikheid van elke nasie met ’n ruimteplan.

 

Om ruimterommel te bestuur is ’n internasionale uitdaging sowel as ’n geleentheid om die ruimte-omgewing vir toekomstige ontdekkingsendings te bewaar.

 

Moet ons op die aarde bekommerd wees oor ruimterommel wat dalk met ’n slag hier kan land?

Hoewel die meeste rommel in die atmosfeer uitbrand, kan dit gebeur dat groter voorwerpe nie heeltemal uitbrand nie, en op die Aarde val.

 

Volgens NASA het daar vir die afgelope 50 jaar gemiddeld een aangetekende stuk rommel elke dag op die aarde geval. Ten spyte van die grootte van hierdie afvalstukke, het geen noemenswaardige skade voorgekom nie.

 

Is enigeen al deur ruimterommel getref?

Slegs een persoon is al ooit deur ’n stuk ruimterommel getref. Haar naam is Lottie Williams*.

 

Wie is vir ruimterommel verantwoordelik?

Daar is niemand wat verantwoordelik is om dit internasionaal op te spoor nie, maar die Verenigde State probeer rommel opspoor om sy eie satelliete te beskerm, en hulle deel van die inligting met die res van die wêreld.

 

Ander nasies het ook die vermoë om rommel op te spoor, en lewer soortgelyke dienste vir hulle satelliete.

 

Watter metodes kan gebruik word om ruimterommel in wentelbane te verwyder?

Die ontwikkeling van opruimingstegnologieë is al jare lank aan die gang. Japan se ruimte-agentskap het in 2016 ’n 700 meter lange kabel die ruimte ingestuur om te probeer om ruimterommel stadiger te laat beweeg en van koers te laat verander. In 2018 het ’n toestel genaamd RemoveDebris ’n net om ’n fopsatelliet gespan.

 

Tegnologiese herstelaksies sluit in om ruimterommel met nette, harpoene of lasers uit hulle wentelbane te verwyder.

34 000

GROOT AFVAL (>10 cm)

128 milj.

KLEIN AFVAL

 (<1 cm)

900 000

MEDIUM AFVAL (1-10 cm)

 Stukke rommel sedert Januarie 2019 geval:

Stukke rommel op Aarde geval:

 

* Volgens verskeie internetbronne was Lottie Williams op 22 Januarie 1997 besig om in ’n park in Tulsa, Oklahoma, te oefen toe sy deur ’n klein stukkie vallende ruimterommel teen die skouer getref is. Dit was van die Delta II-vuurpyl (wat vir die April 1996-lansering van die Midcourse-ruimte-eksperiment gebruik is) wat die atmosfeer binnegedring het. Die voorwerp het haar liggies teen die skouer getref en skadeloos op die grond geval.

In die laaste 50 jaar het daar elke dag een aangetekende stuk rommel  geval.

RUIMTEROMMEL:

Wat is daar buite?

“Slegs een persoon* is al ooit deur ruimterommel getref,” sê dr Pieter Kotzé van die Sentrum vir Ruimtenavorsing.

RUIMTE-ROMMEL: