NUUs

Malefu Kgosiemang en dr Peet Roos het aan nagraadse studente by die loopbaanbemagtigingswerkswinkel stof tot nadenke gegee.

’n Besoek aan Durban, die tuiste van die welbekende Durban July-perdewedren, was ook deel van die alumni-aktiwiteite tydens die laaste maande van 2018.

 

Op 6 September het die uittredende adjunk-visekanselier, prof Fika Janse van Rensburg, ’n groep alumni by die Durban Buiteklub oor die jongste verwikkelinge by die NWU ingelig. Hier is hy saam met ds Collin en Jessica Govender.

Sit só in die saal om die wedren te wen

Die resiesperde kom in ’n bondel in die pylvak afgestorm terwyl die toeskouers hul gunstelinge luidkeels aanmoedig.

 

Daar is nogal heelwat ooreenkomste in die voorbereiding van ’n resiesperd en sy jokkie vir ’n resies en die voorbereiding van studente vir hul werksomgewing.

Om ’n kampioen by die Durban July te word, gebeur nie sommer oornag nie. Dit kos ure, weke en jare se opleiding, versorging en ondersteuning – en dieselfde geld vir ons studente.

 

Met ’n werkloosheidskoers van 27,5% in Suid-Afrika in die derde kwartaal van 2018 is dit ’n groot uitdaging om vir poste in die werkplek mee te ding. Om ons studente voor te berei vir die mededinging wat voorlê, het die kampus in Potchefstroom sy tweede loopbaanbemagtigingswerkswinkel op 18 September 2018 gehou.

 

Altesaam 150 honneurs- en meestersgraadstudente het raad so uit die perd se bek ontvang toe alumna en menseverhoudinge-kenner Malefu Kgosiemang van die Nokeng-myn vir hulle vertel het hoe om onderhoude te hanteer. Sy het ook vir hulle gesê waarna onderhoudvoerders oplet, terwyl dr Peet Roos van die NWU se Loopbaansentrum wenke verskaf het oor hoe om ’n CV saam te stel wat ’n werkgewer sal beïndruk.

 

Die resies gaan voort

 

Die vooraanstaande sakeman en alumnus Wouter Snyman het op 17 Oktober 700 finalejaarstudente by die visekanselier se woning in Potchefstroom toegespreek.

 

Hy het raad gegee oor hoe om moontlike struikelblokke in die werksomgewing uit die weg te ruim en hoe om as alumni met die universiteit kontak te behou. Die NWU se visekanselier, prof Dan Kgwadi, het hulle almal voorspoed vir hul toekomstige loopbane toegewens en dit duidelik gemaak dat die universiteit hulle van die kantlyn af sal aanmoedig.

 

Gereed vir die Londense “derby”?

 

Ons volgende afsaalplek is Londen, waar die halfjaarlikse alumnigeleentheid en gradeplegtigheid plaasgevind het. Ná die seremonie het 45 gaste die dinee bygewoon vir die nuwe gegradueerdes en ons alumni wat in Londen en die omliggende gebiede woon.

 

Tydens dié geleentheid, wat op 7 November 2018 by die pragtige Goodenough College in sentraal-Londen gehou is, het prof Daryl Balia die alumni oor die jongste verwikkelinge by die NWU ingelig. Daryl is die pasaangestelde adjunk-visekanselier wat die leisels op die kampus in Potchefstroom gaan oorneem.

 

Die alumni het groot lof gehad vir die NWU en sy deurlopende pogings om bande tussen hulle en hul alma mater te behou. Uit hul reaksie kan ʼn mens aflei dat die bou van goeie verhoudings ’n wenner is – vir die universiteit sowel as sy alumni.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

volgende artikel

vorige artikel

klank

video

meer inligting

klik

deel

Alumni Saskia en Niel van Onselen, saam met Suzelle Buys van Hoër Grade en Seremonies (agter) geniet die alumnigeleentheid in Londen.

NWU & U  |

NWU & U  |

INHOUD

NWU & U