redaksioneel

Prof Dan Kgwadi

Boodskap van die

visekanselier

Beste alumni,

 

Ek vertrou dat julle dit sal geniet om hierdie uitgawe van NWU & U te lees.

Hierin vind julle meer uit oor die buitengewone sukses van NWU-studente in die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) se eksamens.

 

Die sukses van ons studente in hierdie eksamens is ’n mylpaal waarop ons baie trots is – hulle is uitstekende ambassadeurs vir die akademiese uitnemendheid van die NWU.

 

Ons atletiekspan het op 15 Maart hul tweede Varsity Atletiek-titel gewen. Hulle het ’n totaal van 31 277 punte behaal nadat hulle albei bene van die kompetisie gewen en die kroon teruggewen het van die Universiteit van Pretoria, wat die afgelope drie jaar die kampioene was.

 

Verspringer Joné Kruger het haar eie Varsity Atletiek-rekord verbeter en is ook as Victrix Ludorum aangewys, terwyl 110 m-hekkiesatleet Tiaan Kleynhans die Varsity Atletiek-rekord geslaan het.

 

Implementering van die taalbeleid

 

In die vorige uitgawe van die NWU & U het ek genoem dat die Raad verlede jaar ’n nuwe taalbeleid vir die NWU aanvaar het. Ek wil julle net laat weet hoe ons implementering daarvan vorder.

 

Hierdie beleid is uniek en bevorder ’n breë meertaligheid aan die NWU. Hoewel die beleid innoverend en op die behoeftes van personeel en studente reageer, lê die werklike toets by die implementering daarvan.

 

As dit lei tot situasies waar groepe studente uitgesluit voel of taalchauvinisme binne of buite die klaskamer en universiteitskoshuise ervaar, het ons beslis gefaal.

 

Die beleid is ontwerp om die doelwitte te bevorder wat in ons Statuut uiteengesit word. Dié doelwitte bepaal dat die taalbeleid van die universiteit buigsaam en funksioneel moet wees, taalwanbalanse van die verlede moet regstel, en meertaligheid, toegang, integrasie en ’n gevoel van behoort moet bevorder.

 

Dit is die toets wat ons taalbeleid moet slaag. Ek weet ons kan hierdie toets met welwillendheid en deursettingsvermoë slaag.

 

Ons oudit tans alle onderrig- en leerprogramme om te bepaal waar ons ten opsigte van die onderrigtaal op al ons kampusse staan. Fakulteite maak ook planne om Setswana en Suid-Sotho in vlagskipprogramme te ontwikkel om die akademiese gebruik van inheemse Afrika-tale te bevorder.

 

Hantering van moeilike gesprekke oor ras

 

Ons het onlangs ’n Konfrontering van Ras-week by die NWU gehad.

Hierdie program, wat deur die Fakulteit Geesteswetenskappe georganiseer is, is op al ons kampusse aangebied. Die doel daarvan was om moeilike gesprekke oor die persepsies wat ons almal van mekaar het, te bevorder.

 

As deel van die Konfrontering van Ras-week het ons ook suksesvolle besprekingsessies met die onderwerp “Dekolonisasie en heroorweging van die universiteit van die toekoms” op al drie kampusse aangebied. Lede van die Universiteitsbestuurskomitee het die lewendige besprekings op 12 April 2019 gelei.

 

Hierdie inisiatiewe is noodsaaklik vir ons onderrig- en leermissie – ons moet seker maak dat ons gegradueerdes oor hierdie ingewikkelde samelewingskwessies nadink voor hulle die NWU verlaat. So sal hulle beter voorbereid wees op ’n toekoms in die werkswêreld en die wêreld oor die algemeen.

 

Alles van die beste en gaan asseblief voort om as alumni met ons te skakel.

 

Prof Dan Kgwadi

Visekanselier

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

KLIK

DEEL

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U