nUUs

Prof Nico van der Merwe is die koördinerende programleier van die GR-program aan die NWU.

 

Wat ʼn spanpoging

 

Oor die sukses van die NWU-studente sê prof Nico van der Merwe dat dit belangrik is om te onthou dat dit ’n spanpoging is.

 

“Elke dosent in die program het ’n passie vir ons studente en vir die professie. Hulle glo vas die NWU moet ’n verskil maak.

 

“Wanneer hulle ons studente help om as geoktrooieerde rekenmeesters te kwalifiseer, maak hulle nie net ʼn impak in die studente se lewens nie, maar ook in die gemeenskappe waar die studente eendag sal dien.”

 

Alles klop vir NWU se geoktrooieerde rekenmeesters

Die NWU se studente in geoktrooieerde rekenmeesterskap het weer eens hul staal gewys.

 

Dit was toe hulle in Januarie 2019 se Aanvanklike Bevoegdheidstoets van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) die hoogste slaagsyfer (94%) behaal het vir kandidate wat die eksamen die eerste keer afgelê het.

Hierdie prestasie is nog ’n veertjie in die hoed vir die NWU se geoktrooieerde rekenmeesterskandidate, wat ’n buitengewone algehele prestasierekord in die SAIGR en die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters van Namibië (ICAN) se eksamen het.

 

In die afgelope vyf jaar het die prestasie van die kandidate wat die eksamen die eerste keer aflê konsekwent in die topvyf geval van die 16 Suid-Afrikaanse universiteite wie se studente die eksamens aflê.

 

Die NWU deel die topposisie hierdie jaar met die Universiteit van Pretoria, wat ook in 2017 eerste geëindig het. Die NWU was in 2015 tweede, en in 2016 en 2018 vierde.

 

Die universiteit het in al vyf jaar ver bo die land se gemiddelde geëindig, met die meeste van die kandidate wat die eksamen die eerste keer aflê en dit deurkom. Daarmee het hulle bewys dat die NWU se onderrig van hoë gehalte is en hulle in staat stel om hul volle potensiaal te bereik.

 

Die getalle spreek vanself

 

Die universiteit het hierdie jaar 92 studente opgelewer. Volgens die uitslae wat deur die SAIGR vrygestel is, was die nasionale gemiddelde slaagsyfer vir kandidate wat die eksamen die eerste keer afgelê het 76% – dus 18% laer as dié van die NWU.

 

Twee van die NWU se kandidate het die SAIGR se top-10-lys gehaal: Franco Bosman was in die eerste plek, en Ida Mittermaier was derde in die hele land.

 

Die SAIGR se mikpunt is om sy rassedemografie in ooreenstemming met dié van die nasionale bevolking te kry.

 

Prof Nico van der Merwe, die koördinerende programleier van die GR-program aan die NWU, voeg by dat al die NWU se Thuthuka-kandidate met hulle eerste poging geslaag het. Die Thuthuka-beursfondsprojek plaas swart en bruin studente met volle beurse by geselekteerde SAIGR-geakkrediteerde universiteite.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

KLIK

DEEL

 

Hulle lei die Namibiese span

 

Dit is nie net in Suid-Afrika waar die NWU se studente in geoktrooieerde rekenmeesterskap die leiding neem nie.

 

Die Namibiese studente wat die ICAN-eksamens geskryf het, het ook met ’n slaagsyfer van 92% vir eerste eksamenskrywers uitgeblink.

 

Drie van hierdie kandidate het die Namibiese top-5-lys gehaal. Elanie Opperman was tweede, Cholwe Phiri vierde en Agnes Nanyeni vyfde.

 

NWU & U  |

NWU & U  |

INHOUD

NWU & U