NUUs

Prof Eva Manyedi glo depressie kan met die regte hulp en ondersteuning oorkom word.

 

Vier feite oor depressie

 

  • Depressie is ’n algemene geestesversteuring. Wêreldwyd ly meer as 300 miljoen mense van alle ouderdomme daaraan.
  • Depressie is die voorste oorsaak van ongeskiktheid in die wêreld, en maak ’n groot bydrae tot die algehele las van siekte wêreldwyd.
  • Meer vroue word deur depressie geraak as mans.
  • Daar is doeltreffende sielkundige en farmakologiese behandelings vir depressie.

 

Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie se webwerf

 

 

As jy verdrink in depressie: hoe om te oorleef

Verbeel jou jy het uit ’n boot geval, probeer strand toe swem, maar voel asof jy nie beweeg nie.

 

Jy probeer desperaat om jou arms en bene te beweeg, maar hulle is verlam. Jy is hulpeloos in die middel van die oseaan, met massiewe golwe wat oor jou breek. Jy asem ’n bietjie lug in en gil om hulp, maar jou longe is onmiddellik vol water.

Dit is hoe sommige mense depressie beskryf.

 

Een uit ses Suid-Afrikaners ly aan angs, depressie of middelmisbruikprobleme, volgens die jongste statistiek wat die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep vrygestel het.

 

Depressie is die langdurige en ernstige gevoel van verdriet, hartseer, wanhopigheid en swaarmoedigheid. ’n Persoon voel leeg en dit voel nie asof dit die moeite werd is om te leef nie.

 

So beskryf prof Eva Manyedi depressie. Eva is ’n geregistreerde gevorderde psigiatriese verpleegkundige op die NWU se kampus in Mahikeng, en ook ’n kundige ten opsigte van geestesgesondheidsprobleme en middelmisbruik.

 

Hoe om depressie te identifiseer

 

Hoewel depressie nie ’n fisiese siekte is nie, is daar ’n aantal tekens en simptome wat kan aandui dat ’n geliefde depressief is.

 

Volgens Eva voel iemand wat depressief is gewoonlik moedeloos en verloor belangstelling in daaglikse aktiwiteite en stokperdjies. Die persoon kan óf hulle eetlus verloor, óf te veel eet, wat tot gewigsverlies of -toename lei.

 

Sy voeg by dat hierdie mense geweldige gevoelens van waardeloosheid en skuld het, en geneig is om hulself van ander te isoleer.

 

Gooi ’n reddingsboei as iemand hulp nodig het

 

Wanneer jy vermoed dat ’n geliefde aan depressie lei, is dit baie belangrik om professionele hulp te kry by ’n kliniese sielkundige, wat berading sal verskaf.

 

Indien familielede selfmoordneigings waarneem, moet hulle die persoon verwys na ’n psigiater, wat behandeling en deurlopende waarneming kan voorskryf.

 

“Depressiewe mense pleeg nie selfmoord wanneer hulle uiters depressief is nie, want hulle het nie die energie om dit te doen nie. Maar sodra hulle geleidelik uit die depressie kom, kan hulle selfmoord pleeg omdat die oorsaak van hulle depressie vir hulle dan duidelik is,” sê Eva.

 

Om te voorkom dat iemand weer in depressie verval, is dit belangrik om ’n gesonde leefstyl te handhaaf, gesond te eet en gereeld te oefen.

 

Dit is ook uiters belangrik om ’n sterk ondersteuningstruktuur van vriende of familie te hê, waar probleme openlik bespreek kan word. ’n Roetine van genotvolle aktiwiteite moet gevestig word en alkohol en dwelms moet vermy word, want dit is geneig om die persoon verder depressief te maak.

 

Met die regte hulp en ondersteuning kán depressie oorkom word.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

KLIK

DEEL

Ek het ’n swart hond gehad, en sy naam was depressie.
Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U