Sy trofeëkas dra alreeds swaar aan al die toekennings wat sy jong ouderdom weerspreek.  Jay-Dee Conradie het vele talente – nie net in die kunste nie, maar ook in die wetenskappe.

Hierdie vierdejaarstudent wat in die manskoshuis Patria op die kampus in Potchefstroom woon, het toekennings begin versamel toe hy nog op hoërskool was. Hy het byvoorbeeld in graad 12 die hoogste punte vir drama van al die leerders in die Vrystaat behaal.

Toe het hy as student in Potchefstroom twee keer die Pukki Talentfees gewen, en ook uiters goed by die Aardklop Nasionale Kunstefees gevaar.

In 2018 het sy musiekgroep, Glimpse, die toekenning vir die beste opkomende musiekgroep by Aardklop gewen, en in 2019 is Jay-Dee is aangewys as die beste studente-akteur vir die toneelstuk, My Planeet, waarin hy opgetree het. Hierdie meesterstuk het ook die Aardklop-toekenning vir die beste studenteproduksie en beste algehele produksie gewen.

O, en terloops, wanneer hy nie besig is om toneel te speel, te skryf en musiek te maak nie, werk hy aan sy BSc-graad in mikrobiologie en fisiologie.

Balans tussen studies en die kunste

“Ek wou drama studeer, maar my ouers het vasgeskop en vir my gesê om op ’n beroep te fokus wat my in staat sal stel om ’n bestaan te maak,” sê hierdie boorling van Kroonstad.

“Baie mense vind dit vreemd dat ek BSc studeer terwyl ek ook ’n liefde vir die kunste het, maar ek dink my hart neig meer na die kunste as na BSc, hoewel dit goed gaan met my studies.”

Hy het ook ’n passie vir bonsai-boompies en skilder (“hoewel ek nie baie goed daarmee is nie”), en hy is op sy gelukkigste as hy na ’n uitvoering van Singing in the Rain by Monte Casino of #Huishou met Nadia Valvekens en Cintaine Schutte kan kyk.

Toneelspeel is soos asemhaal

Die akteurs wat hom inspireer sluit Suid-Afrikaanse verhoog- en filmlegendes soos Lizz Meiring, Sandra Prinsloo, Frank Opperman en Marius Weyers in.

“Elke akteur se groot liefde is die verhoog, maar ek sal nie omgee om ’n rol in ’n sepie soos 7de Laan los te slaan nie,” sê hy opgewonde.

“Die kunste is in my bloed. Dit is my suurstof. Ek sal doodgaan as ek nie die geleentheid kan kry om op die verhoog te wees nie. Soos Lizz Meiring gesê het: ‘Ons is almal kinders wat konsert wil hou.’”

In 2019 het Jay-Dee sy filmdebuut gemaak toe hy die rol van ’n dokter vertolk het in die kortfilm, Hope.

Jay-Dee Conradie laat die tromme praat saam met sy musiekgroep, Glimpse.

Jay-Dee

skitter op al wat verhoog is