Een gebied wat alreeds by die nuwe era van verstommende tegnologiese ontwikkeling aangepas het, is onderrigtegnologie. eish! het die NWU se onderrigtegnoloë besoek om uit te vind wat hulle doen, en hoe hulle akademici en ander personeel kan help.

 

KONTAK ONS

 

Dosente is welkom om die volgende persone te kontak indien hulle hulp nodig het:

 

  • Thamie Ndlovu, Mahikeng
    (018 389 2441)
  • Kobus le Roux, Potchefstroom
    (018 299 2001)
  • Elne van Niekerk, Vanderbijlpark
    (016 910 3317)

 

Dosente en studente kan ook die volgende hulplyne skakel as hulle nog tegniese hulp oor onderrig-en-leer-tegnologieë nodig het:

 

  • Mahikeng: 018 389 2312
  • Potchefstroom: 018 285 2295
  • Vanderbijlpark: 016 910 3038

 

Kobus le Roux, senior onderrigtegnoloog en koördineerder van die span van die Digitale Onderrig- en Leeromgewing (DOLO), verduidelik dat die NWU selfs voor die onlangse herstrukturering van die universiteit eenhede gehad het wat personeel met die integrasie van tegnologie in hulle onderrigstrategieë gehelp het.

“Tydens die herstrukturering is hierdie poste meer in ooreenstemming gebring met ’n moderne denkwyse oor onderrigtegnologie-ondersteuning. Die DOLO, wat uit onderrigtegnoloë van die NWU bestaan, is tans deel van die Sentrum vir Onderrig en Leer.”

’n Missie om te bemagtig

Onderrigtegnoloë se missie is om ondersteuning aan akademiese personeel en studente te verskaf om hulle te help om tegnologie by hulle onderrig en leer te integreer.

Die NWU het sewe onderrigtegnoloë wat konsulteer en met programme en module-ontwikkeling in die aanlyn omgewing help. Daarbenewens help vyf dienstoonbank- en hulpbronassistente personeel en studente met die gebruik van onderrig-en-leer-tegnologieë wat deur die NWU ondersteun word.

Die onderrigtegnologie-omgewing fokus op konsultasie met personeel en help hulle met die gebruik van tegnologie, die verskaffing van eindgebruikerondersteuning deur middel van die hulplyn; en werk saam met Fasiliteite en IT om toegang tot die onderrig-en-leer-omgewing se infrastruktuur te verkry.

’n Dag in die lewe van ’n onderrigtegnoloog

Die hooftaak van ’n onderrigtegnoloog is om met dosente te konsulteer, en hulle bring baie van hulle tyd in vergaderings en konsultasiesessies deur, sê Kobus.

“Die universiteit is met ’n grootskaalse poging besig om al hoe meer leeraktiwiteite aanlyn te plaas, en ons moet die behoefte aan onderrig-en-leer-tegnologie binne modules evalueer.”

Aangesien dosente in staat moet wees om die aanlyn omgewing optimaal te gebruik, is vertroudheid met onderrigtegnologie deel van hulle professionele ontwikkeling. Die onderrigtegnoloë help hulle deur werksessies en opleiding deur middel van webinare en op ander maniere aan te bied.

“eFundi vorm die grootste gedeelte van ons huidige fokus waar dit by die gebruik van onderrigtegnologie kom, maar ons wil graag personeel met die gebruik van verskeie ander onderrig-en-leer-tegnologieë ook ondersteun – in sowel die fisiese as die virtuele onderrig-en-leer-omgewing.”

Sagteware en sonkrag

Benewens om ondersteuning vir die virtuele leeromgewing te verskaf, werk die onderrigtegnoloë ook saam met ander belanghebbers, soos IT en Fasiliteite.

“Ons neem nie enige tegnologiebesluite op ons eie nie, maar werk nou saam met ons vennote om eers die impak van keuses en besluite te bepaal voordat ons enige veranderings implementeer.

“Ons is byvoorbeeld saam betrokke by ’n projek om ’n prototipe van ’n informele leerruimte in die tuin tussen gebou E8 en die biblioteek op die kampus in Potchefstroom te ontwikkel.”

Soortgelyke prototipes word ook vir die ander kampusse beplan. Hierdie ontwikkelings sal plekke skep waar studente in onderbenutte of leë ruimtes op die kampus kan sit en werk. Hierdie ruimtes sal uiteindelik ook sonpanele hê wat die geriewe kan verskaf om selfone, tablette en skootrekenaars te laai.

Jy kan op die rekenaarskerm ’n voorbeeld sien van die sagteware wat gebruik word om dosente en studente te help. Hier bespreek die onderrigtegnoloë Fundiswa Ngomani, Naldo Oberholzer en Letshego Mabale van die elemente op eFundi.

ONDERRIGTEGNOLOË NEEM DIE NWU DIE

Terwyl die wêreld vir die vierde industriële revolusie met sy vinnige tegnologiese vordering op alle gebiede gereed maak, glo kundiges dat talle nuwe werksgeleenthede sal ontstaan en dat bestaande werk sal moet aanpas.

Kobus le Roux is ’n senior onderrigtegnoloog.

VIERDE INDUSTRIËLE REVOLUSIE BINNE