groet vir oulaas

Indaba 2019 was ’n onvergeetlike gebeurtenis danksy die span van die Kwaliteitsbevorderingskantoor. Dit sluit in Tommy Pietersen, Johanna Müller, Antoinette Vermeulen en Johan Erasmus.

 

 

Onthou die spangees

Johanna Müller sê sy sal die laaste Indaba onthou vir die wonderlike spangees en die positiewe gesindheid van almal wat betrokke was.

“’n Mens kon die gees van ubuntu aanvoel. Ek het hoendervleis gekry toe die hele gehoor aan die einde saam gesing het. Vir my was dit die bewys van die deurbraak wat gemaak is om die personeel van al ons kampusse te verenig.”

Ná die Indaba was dit duidelik dat groot vordering gemaak is om die unitêre karakter van die NWU te bou, sê sy. “Daar is genoeg personeellede wat wil hê dat die universiteit suksesvol moet wees, en hulle is bereid om alles te gee om dit te bereik.”

Hoewel die Indaba iets van die verlede is, beloof die span by die Kwaliteitsbevorderingskantoor dat daar volgende jaar nuwe inisiatiewe gaan wees om die gaping te vul.

 

Gewilde NWU-personeellede Corneels Schabort (middel) en GP van Rheede van Oudtshoorn, wat soos karnavalkarakters aangetrek was, het die laaste Indaba gefasiliteer. Saam met hulle is Rudi van der Merwe.

 

 

’n Era het tot ’n einde gekom. Toe 2019 sy einde nader, het NWU-personeel die laaste geleentheid gehad om die jaarlikse Indaba by te woon.

Die Kwaliteitsbevorderingskantoor wat die geleentheid aangebied het, het vooraf aangekondig dat die 2019 Indaba die laaste een sou wees.

Die uiters gewilde Indaba het ’n ryk agt jaar lange geskiedenis, en laat ’n blywende erfenis onder akademici en ondersteuningspersoneel na. Dit het vir hulle stof tot nadenke gegee, en ’n oop platform geskep vir bespreking oor hoe om uitdagings te oorkom en ’n optimale werkomgewing te skep.

Die Indaba was die breinkind van Johanna Müller, die voormalige kwaliteitsbestuurder vir ondersteuningsdienste, wat aan die einde van verlede jaar afgetree het.

Die span van die Kwaliteitsbevorderingskantoor het onder haar leiding verseker dat die finale Indaba op ’n hoë noot afsluit. Hulle het ’n karnaval aangebied waar die personeel speletjies kon speel, die gees van kameraderie kon geniet, en kon nadink oor wat die Indaba vir hulle beteken het.

Die laaste Indaba was die heel grootste, met meer as 200 personeellede wat dit bygewoon het.

Uitstekende temas en kundige sprekers

Die Indaba het deur die jare verskeie temas aangebied wat met algemene werksake verband hou.

Dit het besprekings ingesluit oor kollegialiteit en professionalisme, etiek, goeie kommunikasie, en ook oor spesifieke NWU-sake, soos probleme om veranderings te implementeer wat met herstrukturering verband hou, asook die verhouding tussen akademici en ondersteuningspersoneel.

Om die Indaba se doeltreffendheid met die motivering en ondersteuning van personeel oor die jare heen te verstaan, hoef ’n mens nie verder as die temas te kyk nie. Die temas het “Die najaag van uitnemendheid: hoe om in ’n onderstebo kliëntewêreld regop te bly”; “Die lewe is taai, maar ek is taaier”; “Sukses in die werkplek – meerkatstyl” en “Superondersteuning” ingesluit.

Van die kundiges wat aan die deelnemers onderrig, motivering en vermaak verskaf het, was die organisasiesielkundige Dorianne Weil, die professionele spreker en meerkatkenner Estienne de Beer, en prof Deon Rossouw van die Etiek-instituut van Suid-Afrika.

Personeel het ook die geleentheid gehad om van bekende huidige en voormalige dosente te leer. Dit sluit in prof Susan Coetzee van Rooy, dr Johann (Jabu) de Jager, prof Alfred Henrico, dr Ina Rothman, Corneels Schabort en GP van Rheede van Oudtshoorn.